Nuus 07:00
BULLETIN 11 Maart 7 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die DA sê ekonomiese groei moet werksgeleenthede skep en meer geleenthede bied
# Minister Hlabisa sê munisipaliteite moet bestendige drywers van ekonomiese groei en dienslewering word
# En Pete Hegseth sê die VSA sal nie toegee in sy oorlog met Iran nie
# Die DA verwelkom syfers wat toon Suid-Afrika se bruto binnelandse produk het die vinnigste groeikoers in drie jaar getoon, maar sê daar is ruimte vir verbetering in die toekoms. Die land se ekonomie het in 2025 met 1,1-persent gegroei, en die BBP het in die vierde kwartaal met 0,4-persent verbeter. Jaarlikse groei word hoofsaaklik toegeskryf aan hoër ekonomiese aktiwiteit in finansies, landbou en handel. Wendy Alexander van die DA sê hulle sal voortgaan met pogings om ekonomiese hervormings vinniger te laat plaasvind:
# Die minister van Samewerkende Regering en Tradisionele Sake, Velenkosini Hlabisa, vra dringende en gekoördineerde optrede om Suid-Afrika se stelsel vir plaaslike regering te hervorm. Hy het gister in Gauteng deelgeneem aan ’n witskrifbespreking oor plaaslike regering se uitvoerende dialoog met sakeleiers. Volgens die Ouditeur-generaal se jongste verslag oor munisipale finansies het slegs 41 van die land se 257 munisipaliteite in die 2023/2024-boekjaar skoon oudits ontvang. Hlabisa sê munisipaliteite moet bestendige, bevoegde en betroubare aandrywers van ekonomiese groei en dienslewering word.
# Die woordvoerder van die Madlanga-kommissie, Jeremy Michaels, sê die span doen noukeurige beplanning vir die skedule vir die komende maande om die finale sperdatum van 31 Augustus te haal. Michaels sê die kommissie moet daaglikse uitdagings in ag neem, insluitend regsargumente, die beskikbaarheid van getuies en onvoorsiene vertragings. Hy voeg by ‘n meer gedetailleerde opdatering sal verskaf word sodra die skedule oor die volgende paar dae volledig uiteengesit is:
# Die ANC se nasionale uitvoerende komitee het bevestig Jongizizwe Dlabathi sal aanbly as Ekurhuleni se burgemeesterskomiteelid vir Finansies. Dit volg nadat hy aanvanklik as burgemeesterskomiteelid en as die party se sekretaris bedank het. Dlabathi sê in sy bedankingsbrief die redes vir sy bedanking hou verband met interne partygeskille en toenemende onbestendigheid in die munisipaliteit. Die streek gaan gebuk onder interne konflik, insluitend probleme nadat die EFF koalisies verlaat het.
# Amerika se minister van Verdediging, Pete Hegseth, sê die aanvalle in Iran sal bly toeneem omdat hulle nie gaan opgee voordat die vyand heeltemal verslaan is nie. Amerika se weermag het sedert die begin van die oorlog meer as vyf-duisend teikens getref. Iran het op sy beurt wraakaanvalle uitgevoer op Israelse en Amerikaanse basisse in die Midde-Ooste. Hegseth sê Operasie Epic Fury se doelwitte bly dieselfde: Vernietig Iran se missielvoorraad en vloot, en vernietig die land se vermoë om kernwapens te vervaardig:
# Padwedlope: Die Keniaanse marathonlegende en wêreldkampioen, Eliud Kipchoge, begin op 24 Mei in die Kaapstadse marathon ‘n marathontoer oor sewe vastelande. Die reeks van sewe marathons is daarop gemik om gesonder leefstyle te inspireer en gemeenskappe deur hardloop te verenig terwyl fondse vir die Eliud Kipchoge-stigting ingesamel word. Organiseerders verwag meer as 27-duisend atlete by die Kaapstadse byeenkoms, wat ook daarop gemik is om Afrika se eerste Wêreld-marathon-major te word.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-23-sent teen die dollar, 18-rand-87-sent teen die euro en 21-rand-82-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 70-duisend-84-dollar. Die prys van goud is vyf-duisend-215-dollar-23-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 86-dollar-18-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….