Nuus 07:00
BULLETIN 9 Maart 7 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# President Ramaphosa versterk bilaterale betrekkinge met Brasilië
# Donald Trump praat met Keir Starmer oor die situasie in die Midde-Ooste
# En ‘n hittegolfwaarskuwing is uitgereik vir dele van die Wes-Kaap
# President Cyril Ramaphosa is op ’n tweedaagse staatsbesoek aan Brasilië waar hy met president Luiz Inácio Lula da Silva sal beraadslaag oor ’n wye reeks bilaterale en multilaterale kwessies van gemeenskaplike belang. In 2025 het bilaterale handel tussen die twee lande op 32,5-miljard-rand gestaan. Suid-Afrikaanse uitvoere het 5,2-miljard-rand beloop en invoere uit Brasilië sowat 27,3-miljard-rand. Die Presidensie sê Ramaphosa sal ’n Suid-Afrikaans-Brasilaanse sakeforum tydens sy besoek toespreek. Hy sal ook met Brasiliaanse sakeleiers vergader om beleggings en geleenthede in Suid-Afrika se bespoedig.
# Die minister van Vroue, die Jeug en Persone met Gestremdhede, Sindisiwe Chikunga, lei vandag Suid-Afrika se afvaardiging by die 70ste sitting van die Kommissie oor die Status van Vroue by die Verenigde Nasies se hoofkwartier in New York. Chikunga sê dis ’n belangrike oomblik in die wêreldwye stryd vir geslagsgelykheid terwyl nasies nadink oor vooruitgang om vroue en meisies se regte te bevorder en strukturele versperrings in hul toegang tot geregtigheid te konfronteer:
# Die raadsvoorsitter van die Nasionale Finansiële Hulpskema vir Studente, Mugwena Maluleke, sê vertragings met die indien van dokumentasie kan die uitkoms en uitbetaling van befondsing beïnvloed. Hy sê die skema het altesaam 101-duisend-201 appèlle hanteer, insluitend 22-duisend-654 goedgekeurde dokumente, nege-duisend-73 wat hangende is, 18-duisend-108 wat verwerp is en 44-duisend-411 dokumente wat gesluit, verwyder en teruggetrek is. Maluleke sê die appèlproses is ontwerp om regverdig, toeganklik en ontvanklik te wees:
# President Donald Trump van Amerika en die Britse eerste minister, Keir Starmer, het gister die situasie in die Midde-Ooste en militêre samewerking tussen die twee lande oor die telefoon bespreek. Die oproep volg ’n dag nadat Trump die Verenigde Koninkryk gekritiseer het omdat hy nie onmiddellik die Amerikaans-Israelse aanvalle op Iran ondersteun het nie. Vier Amerikaanse bomwerpers het gister by ’n koninklike lugmagbasis in Brittanje geland om sekere verdedigingsoperasies uit te voer en te keer dat Iran missiele in die Midde-Ooste afvuur.
# Krieket: Indië het Nieu-Seeland in Ahmedabad met 96 lopies verpletter en die eerste manspan geword wat agtereenvolgende T20-Wêreldbekertitels wen. Sanju Samson het met 89 van 46 aflewerings die meeste lopies bygedra en Ishan Kishan, 54. Die toernooi se gashere, Indië, het 255 vir vyf op die telbord geplaas. Daarna het Jasprit Bumrah vier paaltjies platgetrek en die Swart Pette was op 159 almal uit. Indië is ook die eerste span wat ’n tuiskampioenskap wen en die eerste wat drie T20-Wêreldbekertitels opraap.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-85-sent teen die dollar, 19-rand-40-sent teen die euro en 22-rand-39-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 66-duisend-562-dollar. Die prys van goud is vyf-duisend-77-dollar-71-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 105-dollar-70-sent per vat.
# En ten slotte: Die Suid-Afrikaanse Weerdiens het ’n waarskuwing uitgereik dat hittegolf-toestande hierdie week in dele van die Wes-Kaap gaan voorkom, en veral in die Kaapstad-metro. Temperature sal na verwagting tot bo 30 grade Celsius styg. Volgens die weerdiens word die hittegolf veroorsaak deur ’n sterk, stadig bewegende hoëdrukstelsel in die atmosfeer se boonste lae. Die woordvoerder van Kaapstad se ramprisikobestuur, Sonica Lategan, sê inwoners moet bedag wees op die moontlike gevare van voortslepende hittetoestande:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….