Nuus 07:00
BULLETIN 6 Maart 7 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Paul Mashatile sê volhoubare watervoorsiening bly ‘n nasionale prioriteit
# Die NVG sê Vincent Smith se tronkstraf is ‘n oorwinning oor staatskaping
# En erge storms en swaar reënval word hierdie naweek vir Suider-Afrika voorspel
# Adjunkpresident Paul Mashatile sê die regering versnel waterinfrastruktuur-projekte om betroubare voorsiening en langtermyn-watersekerheid te versterk. Hy het gister in Kaapstad gereageer op vrae in die Nasionale Raad van Provinsies. Mashatile sê die Watertaakspan het die uitwerking van waterinfrastruktuur-projekte wat gestaak of onvoltooid is ondersoek, en bevestig vertragings verminder die beskikbaarheid van water, verswak stelselbetroubaarheid, stel watersekerheid in gevaar en beïnvloed omgewingsnakoming:
# Die minister van Minerale en Petroleum Hulpbronne, Gwede Mantashe, sê natuurlike gas sal ‘n sleutelrol speel om energie-armoede en die bevordering van nywerheidsgroei in Afrika aan te spreek. Mantashe het by die Africa Gas Forum 2026 in Kaapstad gesê byna 600-miljoen Afrikane het steeds nie elektrisiteit nie, en waarsku die beperking van befondsing vir gasprojekte kan energie-armoede vererger. Hy voeg by die regering werk om toekomstige gasvoorsiening deur invoere en verhoogde plaaslike benutting te verseker:
# Die Nasionale Vervolgingsgesag sê die skuldigbevinding en vonnisoplegging van die voormalige parlementslid, Vincent Smith, is ’n oorwinning oor staatskaping. Die Hooggeregshof in Johannesburg het Smith tot sewe jaar tronkstraf gevonnis nadat hy ’n pleit- en vonnisooreenkoms met die Staat aangegaan het. Die skuldigbevinding hou verband met die korrupsie-aanklagte in sy persoonlike hoedanigheid, asook sy hoedanigheid as enigste direkteur en aandeelhouer van Euroblitz 48, wat hy nie aan die Parlement verklaar het nie. Die NVG-hoof, Andy Mothibi, sê die oppergesag van die reg is in hierdie geval gerespekteer.
# President Donald Trump van Amerika sê hy moet betrokke wees by die aanstelling van Iran se volgende leier. Dit volg nadat die land se opperleier, ajatolla Ali Khamenei, Saterdag in Amerikaans-Israelse lugaanvalle dood is. Trump het aan Axios gesê Khamenei se seun, Mojtaba, is die mees waarskynlike opvolger, maar het dit duidelik gestel hy vind dit onaanvaarbaar. Hy sê hy sal nie ’n opvolger aanvaar wat Iran se vorige opperleier se beleid voortsit nie. Hy sê hulle wil iemand hê wat harmonie en vrede na Teheran bring.
# Gholf: Die Suid-Afrikaner Luke Brown loop ná ’n reënerige eerste dag met een hou voor in die Johannesburgse Ope op die Houghton-gholfbaan. Die 27-jarige loop voor op sewe onder-baansyfer nadat hy net 12 putjies voltooi het. Sy landgenoot, die tweemalige DP World-toerwenner Jayden Schaper, is tweede saam met Nathan Kimsey van Engeland, Maximillian Steinlechner van Oostenryk en die Spanjaard Angel Ayora. Verlede week se Suid-Afrikaanse Ope-kampioen, Casey Jarvis, was na slegs 14 putjies op drie-onder toe spel weens swak lig en reën gestaak is.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-58-sent teen die dollar, 19-rand-26-sent teen die euro en 22-rand-17-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 70-duisend-886-dollar. Die prys van goud is vyf-duisend-103-dollar-69-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 82-dollar-6-sent per vat.
# En ten slotte: Die Suid-Afrikaanse Weerdiens het waarskuwings oor erge weer uitgereik, terwyl swaar reën en donderstorms na verwagting oor die naweek sal voortduur. Oranje vlak vyf waarskuwings is uitgereik vir dele van die Vrystaat, Noord-Kaap en Noordwes, terwyl geel waarskuwings vir Gauteng, KwaZulu-Natal, Mpumalanga en Limpopo in plek is. Die weervoorspeller, Tokelo Chiloane sê sommige storms kan skadelike winde, weerlig, hael en gelokaliseerde oorstromings veroorsaak, veral in laagliggende gebiede en gebiede waar vloede gereeld voorkom:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….