Nuus 07:00
BULLETIN 5 Maart 7 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Minister Motsoaledi is bekommerd oor die 14 sake teen Nasionale Gesondheidsversekering
# Die Parlement vra die polisie om menseregte te beskerm te midde van die SANW-ontplooiing na provinsies
# En die bestuurder van die Stad Kaapstad se optrede lei tot ‘n arrestasie in ‘n omkoopsaak van 1,4-miljoen-rand
# Die minister van Gesondheid, Aaron Motsoaledi, het kommer uitgespreek oor die aansienlike regsuitdagings teen die Wet op Nasionale Gesondheidsversekering. Daar is 14 hofsake teen die NGV aanhangig gemaak. Die instelling van dele van die wet is verlede maand gestaak hangende ’n verhoor in die Konstitusionele Hof in Mei. Motsoaledi het aan die parlementêre portefeuljekomitee oor Gesondheid gesê sy departement gaan voort met voorbereidings om aspekte van die wet wat nie betwis word nie, in te stel:
# Die parlementêre portefeuljekomitee oor Polisie sê die ontplooiing van die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag in drie provinsies is op die kort termyn belangrik, maar streng grense moet gestel word om gemilitariseerde gebiede te voorkom. President Cyril Ramaphosa het toestemming gegee dat soldate in misdaadgeteisterde gebiede in Gauteng, die Wes- en die Oos-Kaap ontplooi word om die polisie by te staan in die stryd teen onwettige mynbedrywighede, bendegeweld en boumafias. Die komiteevoorsitter, Ian Cameron, sê die polisie se senior bestuur moet seker maak menseregte word beskerm en daar is behoorlike aanspreeklikheidsmaatreëls in plek.
# Die DA het die Stad Johannesburg met hofstukke bedien om die implementering van ’n onbefondsde loon-ooreenkoms van tien-miljard-rand met die munisipale vakbond Samwu te keer. Die party voer aan die ooreenkoms is finansieel roekeloos en herlei fondse van kritieke dienste soos water, elektrisiteit, paaie en veiligheid. Belinda Kayser-Echeozonjoku van die DA sê hulle sal alles wettig doen om inwoners te beskerm en te verseker dat die stad voorkeur gee aan basiese dienslewering:
# Die burgemeester van Kaapstad, Geordin Hill-Lewis, het die stadsbestuurder Lungelo Mbandazayo geprys vir sy rol in ‘n lokval-operasie. ‘n Sakeman is betrap toe hy omkoopgeld van 1,4-miljoen-rand aangebied het om ‘n interne ondersoek te stop en ‘n munisipale kontrak te beskerm. Die optrede by Watercress Mall in Somerset-Wes, is saam met die polisie se kommersiële misdaadeenheid uitgevoer, en het ook gelei tot die beslaglegging op ‘n voertuig en ‘n selfoon. Meer inhegtenisnemings word verwag, en die verdagte sal na verwagting vandag in die hof verskyn.
# Die Verenigde Nasies Kinderfonds waarsku die militêre geweld in die Midde-Ooste plaas miljoene kinders in die streek se lewens in gevaar. Binne 24 uur is sewe kinders dood en 38 beseer in toenemende vyandelikhede in Libanon. Dit volg na hernude Israelse lugaanvalle op Hezbollah in talle streke in die land wat groot ontwrigting veroorsaak het. Byna 60-duisend mense, insluitend 18-duisend kinders, is ontheem. UNICEF sê aanvalle op burgerlikes en burgerlike infrastruktuur soos skole en hospitale is ’n skending van internasionale wette.
# Gholf: Die Suid-Afrikaner Casey Jarvis het ’n kans om geskiedenis te maak by die DP World-toer wanneer die Johannesburg Ope vandag by die Houghton-gholfklub begin. Die 22-jarige Jarvis wat agtereenvolgende seges behaal het in die Kenia Ope en Suid-Afrikaanse Ope, kan by gholfreuse soos Nick Faldo en wyle Seve Ballesteros aansluit as die enigste spelers wat drie agtereenvolgende oorwinnings in die DP World-toer behaal het. Jarvis sê hy wou nog altyd die Johannesburg Ope wen:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-31-sent teen die dollar, 18-rand-99-sent teen die euro en 21-rand-83-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 73-duisend-51-dollar. Die prys van goud is vyf-duisend-176-dollar-80-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 82-dollar-12-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….