Nuus 07:00
BULLETIN 2 Maart 7 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Iran vorm ‘n oorgangsraad om die land te lei ná die moord op Khamenei
# ‘n Regskundige sê O’Sullivan se uitstap het nie parlementêre wetgewing oortree nie
# En die Suid-Afrikaanse TV-persoonlikheid Ian von Memerty is dood
# ’n Tydelike leierskapsraad bestaande uit drie persone is gevorm om Iran te regeer na die dood van die opperleier, ajatolla Ali Khamenei. Hy is Saterdag in lugaanvalle deur Amerika en Israel dood. Die raad sluit Iran se president Masoud Pezeshkian, die hoof van die regbank, en ’n vertroueling van Khamenei in wat die land sal regeer tot ’n paneel van 88 lede, die Vergadering van Kenners, ’n nuwe leier kies. Iran se minister van Buitelandse Sake, Abbas Araghchi, sê ’n nuwe opperleier sal moontlik binne ’n dag of twee gekies word.
Intussen sê die Verenigde Nasies se sekretaris-generaal, António Guterres, die Amerikaans-Israelse aanvalle teen Iran, en Teheran se wraakaanvalle teen talle lande in die Midde-Ooste, hou ’n ernstige bedreiging vir internasionale vrede en veiligheid in. Ongevalle is in Iran, Israel, Dubai, Koeweit, Doha en Bahrein aangemeld. Intussen het drie Amerikaanse soldate tydens die operasie in Iran gesneuwel. Guterres sê alles moontlik moet gedoen word om die verdere uitbreiding van oorlog in die Midde-Ooste te voorkom:
# ‘n Regskenner, Lufuno Nevondwe, sê die forensiese ondersoeker, Paul O’Sullivan, het geen oortreding begaan deur uit die Parlement se ad hoc-komitee te stap te midde van kruisondervraging nie, aangesien hy vrywillig aangebied het om te getuig en nie formeel gedaag is nie. Nevondwe het in ‘n onderhoud met SABC News bevestig die reël oor die Bevoegdhede, Voorregte en Geriewe van die Parlement is nie van toepassing nie. Hy voeg by dat O’Sullivan sy vertrek versigtiger kon hanteer het, maar volgens wet word hy steeds beskerm as ‘n vrywillige getuie.
# Gauteng se LUR vir Finansies, Lebogang Maile, sê die provinsie werk in ’n beperkte ekonomiese omgewing wat gekenmerk word deur stadige groei, hoë werkloosheid en hoë lewenskoste. Provinsiale departemente het teen einde Januarie 144,4-miljard-rand bestee wat 82,2-persent van die aangepaste begroting van 175,6-miljard-rand is. Maile sê die provinsie hanteer die waterkrisis met erns, selfs al het hy nie daarvoor begroot nie:
# Gholf: Die plaaslike gunsteling, Casey Jarvis, het die Suid-Afrikaanse Ope in Stellenbosch met drie houe gewen en agtereenvolgende Europese Toer-seges behaal nadat hy verlede Sondag ook die Keniaanse Ope gebuit het. Die 22-jarige Jarvis het drie onder 67 in die laaste ronde aangeteken. Die Spanjaard Francesco Laporta, Frederic Lacroix van Frankryk en die Suid-Afrikaner, Hennie du Plessis, deel die tweede plek. Jarvis, wat nou sy plek in die Meesters en die Britse Ope bespreek het, sê dit sal spesiaal wees om in Augusta te speel:
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand teen die dollar, 18-rand-87-sent teen die euro en 21-rand-52-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 66-duisend-605-dollar. Die prys van goud is vyf-duisend-332-dollar-69-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 75-dollar-94-sent per vat.
# En ten slotte: Die Suid-Afrikaanse televisie-persoonlikheid, die 61-jarige Ian von Memerty, het selfdood gepleeg. Hy het in Februarie in die digitale reeks, Dying for a Better Life, onthul dat hy gekies het om sy lewe op sy eie voorwaardes te beëindig. Hy het op ’n datum besluit, maar dit privaat gehou. Von Memerty was veral bekend as gasheer van Strictly Come Dancing en was ’n beoordelaar in SA’s Got Talent. Hy het gesê die redes vir sy besluit was erge finansiële probleme, die werklikhede van oudword, en die emosionele uitwerking van sy ouers se pynlike sterftes.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….