Nuus 07:00
BULLETIN 28 Februarie 7 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Eskom sit ‘n langtermynplan uiteen om die ferrochroombedryf te bestendig
# MISA tree in om werksgeleenthede te beskerm en kleinhandelmotorwerkers te verteenwoordig
# En Bill Clinton sê hy het niks van Epstein se werksaamhede geweet nie
# Eskom sê hulle werk aan langtermynoplossings om die sukkelende ferrochroombedryf te ondersteun. Na ‘n tydelike tariefingryping vroeër vanjaar, het die nutsmaatskappy ‘n raamwerk voorgestel met ‘n tarief van 62-sent per kilowatt-uur, wat daarop gemik is om smelterbedrywighede te versterk terwyl werksgeleenthede beskerm word. Dan Marokane van Eskom sê die maatskappy sal voortgaan om met die regering, arbeid en die nywerheid saam te werk om industriële groei te verseker, elektrisiteitsvoorsiening te beskerm en koste-impakte op huishoudings en besighede te beperk:
Die ANC verwelkom intussen die ingryping deur die minister van Elektrisiteit en Energie, Kgosientsho Ramokgopa, om die ferrochroombedryf te bestendig. Die party sê die stap beskerm duisende werksgeleenthede, ondersteun plaaslike ekonomieë en versterk industriële vermoë, in ooreenstemming met sy tienpunt- ekonomiese aksieplan. Die woordvoerder van die ANC, Mahlengi Bhengu doen ‘n beroep op volgehoue pogings om langtermynmededingendheid, die behoud van werksgeleenthede en inklusiewe ekonomiese groei te verseker:
# Die Motorbedryf-personeelvereniging sê hulle gaan werksgeleenthede beskerm en in die belang van kleinhandelmotorwerkers optree met die Suid-Afrikaanse motormeesterplan van 2035. MISA, wat meer as 75-duisend lede verteenwoordig, het verwys na die uitdagings waarmee 311-duisend werknemers in die kleinhandelsektor te kampe het. Phakamile Hlubi-Majola van die vereniging sê die Departement van Handel, Nywerheid en Mededinging se uitvoerende toesigkomitee sal nou met MISA saamwerk om te verseker dat die plan werksekerheid ondersteun en die motorbedryf versterk:
# Die GOOD-party doen ‘n beroep op die George-munisipaliteit in die Wes-Kaap om te fokus op projekte wat gemeenskappe direk bevoordeel en om jeugontwikkeling te ondersteun. Die party sê die aanpassingsbegroting bevoordeel tans hoë sigbaarheidsaktiwiteite bo plaaslike behoeftes, en kwesbare gesinne kort steeds ondersteuning. Rosa Louw van GOOD doen ‘n beroep op burgemeester Browen Johnson om praktiese inisiatiewe te prioritiseer wat gemeenskappe versterk en betekenisvolle geleenthede vir jongmense bied. Sy voeg by daar kan nie sprake wees van jeugbemagtiging as die mees kwesbare huishoudings nie verligtingshulp kry nie.
# Voormalige Amerikaanse president Bill Clinton het aan die Huis van Verteenwoordigers se Toesigkomitee gesê dat hy “niks gesien het wat my laat huiwer het nie” toe hy tyd saam met Jeffrey Epstein deurgebring het. Die oudpresident het in camera getuig oor sy verhouding met die oorlede seksoortreder. In ‘n voorbereide verklaring sê hy hy sou nie op die oorlede finansier se vliegtuig gevlieg het as hy van sy beweerde sekshandel met minderjarige meisies geweet het nie, en hy sou hom aangegee het as hy geweet het.
# En krieket: Die Proteas speel môre teen hulle buurland, Zimbabwe in Delhi, Indië, in hul laaste Super Agt-wedstryd in die T20 Wêreldbeker, nadat hulle al ses hulle vorige wedstryde gewen het. Suid-Afrika het reeds vir die halfeindronde gekwalifiseer, terwyl Zimbabwe se toernooi môre eindig. Vandag se aksie sien die mede-gasheerland Sri Lanka wat teen Pakistan in Pallekele speel. Die eerste halfeindstryd word Woensdag gespeel, die tweede Donderdag, met die eindstryd volgende Sondag.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….