Nuus 07:00
BULLETIN 26 Februarie 7 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Julius Malema sê minister Godongwana het probeer om die begroting te balanseer omdat dit ‘n verkiesingsjaar is
# Phahlane en O’Sullivan sal voortgaan met hul getuienis voor die Parlement se ad hoc-komitee
# En Bill Gates vra verskoning aan sy stigting se personeel vir sy Epstein-bande
# Die EFF-leier Julius Malema het die 2026 nasionale begroting gekritiseer en sê dit dien die belange van globale kapitaal ten koste van die meerderheid Suid-Afrikaners. Die minister van Finansies, Enoch Godongwana, het die begrotingsrede gister in die Parlement ter tafel gelê, en verklaar dat regeringshervormings en gedissiplineerde besteding bygedra het om die begrotingstekort te verklein. Malema sê die minister het probeer om die begroting te balanseer omdat dit ‘n verkiesingsjaar is:
ActionSA sê intussen die herroeping van 20-miljard-rand se beplande belastingverhogings toon die voordele van behoorlike befondsing vir die Suid-Afrikaanse Inkomstediens. Die party sê verbeterde belastinginvordering, versterk deur ‘n bykomende toewysing van sewe-miljard-rand, het die behoefte aan BTW-verhogings en oormatige brandstofheffings verwyder, wat verligting bied aan huishoudings en sakeondernemings. Alan Beesley van ActionSA waarsku dat meer hervormings nodig is om die onwettige ekonomie aan te pak en ekonomiese groei te versnel:
# Die voormalige nasionale polisiekommissaris, Khomotso Phahlane, en forensiese ondersoeker, Paul O’Sullivan, gaan verder voor die parlementêre ad hoc-komitee getuig. Phalane se getuienis is weens die komitee se beskikbare tyd nie afgehandel nie, terwyl O’Sullivan siek geword het voordat hy sy getuienis kon voltooi. Die komitee ondersoek bewerings van korrupsie in die regstelsel en het tot 31 Maart uitstel gekry om sy werk af te handel.
# Ekapa Minerals-myn in Kimberley in die Noord-Kaap het aansoek gedoen om gelikwideer te word, en sê dis weens wêreldwye verswakking in markte, asook die onlangse gebeure. Vyf mynwerkers is verlede week ná ʼn modderstorting byna 890 meter ondergronds vasgekeer, en is vermoedelik dood. Ekapa Minerals en Ekapa Resources sê hulle het die besluit om vir likwidasie aansoek te doen, na deeglike oorweging van alle operasionele, finansiële en veiligheidsfaktore geneem. Die maatskappy sê ten spyte van die sluiting, is die bestuur verbind tot pogings om die mynwerkers te vind.
# Microsoft se medestigter en miljardêr-filantroop, Bill Gates, het sy stigting se personeel verskoning gevra vir sy bande met die veroordeelde seksoortreder, wyle Jeffrey Epstein. Volgens die Wall Street Journal het Gates tydens ʼn vergadering erken hy het twee verhoudings met Russiese vroue gehad, maar sê hy het nie deelgeneem aan Epstein se misdade nie. Gates het ook gesê dit was ʼn groot fout om tyd met Epstein deur te bring en die stigting se uitvoerende hoofde saam te neem na vergaderings met hom.
# Krieket: Die kaptein van Engeland, Harry Brook, is nie seker of hy in die nommer-drie kolfposisie sal bly nie, al het hy sy span in Dinsdag se T20 Wêreldbeker Super Agt-wedstryd teen Pakistan gered. Hy het op die veld gekom nadat Phil Salt se paaltjie in die eerste boulbeurt gekantel het. Sy daaropvolgende honderdtal het Engeland na die halfeindronde gelei. Brook kolf gewoonlik vyfde. Hy sê dit was hoofafrigter, Brendon McCullum, se voorstel om hom hoër in die orde te laat speel, en hy sal besluit waar hy die res van die toernooi sal kolf.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 15-rand-83-sent teen die dollar, 18-rand-71-sent teen die euro en 21-rand-47-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 68-duisend-583-dollar. Die prys van goud is vyf-duisend-188-dollar-23-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 70-dollar-81-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….