Nuus 07:00
BULLETIN 21 Februarie 7 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die waarnemende polisieminister belowe ‘n omvattende regeringsbenadering tot openbare veiligheid
# ‘n Lasbrief vir inhegtenisneming verhoed Grace Mugabe om na Suid-Afrika terug te keer
# En Brittanje se koninklikes staar hul ergste krisis in 90 jaar in die gesig
# Die waarnemende minister van Polisie, Firoz Cachalia, sê die regering sal ‘n omvattende regeringsbenadering volg om openbare veiligheid te verbeter. Die plan sluit beter koördinering tussen nasionale, provinsiale en plaaslike owerhede in, asook ondersteuning deur maatskaplike departemente. Cachalia het aan die media gesê sterker polisiëring, gemeenskapsbetrokkenheid en gekoördineerde maatskaplike programme is die sleutel tot die vermindering van misdaad en om gemeenskappe veiliger te maak:
Action Society sê intussen die jongste misdaadstatistiek toon nie die ware stand van die regstelsel nie. Die organisasie voer aan dat sonder gepubliseerde inligting oor skuldigbevindings en betroubare data oor geweld teen vroue en kinders, die syfers nie weerspieël of misdadigers werklik gestraf word nie. Juanita du Preez van Action Society sê inhegtenisnemings alleen skrik nie misdadigers af nie:
# CVosatu het die indiening van die Wet op Inkontraktering geprys. Die Wetsontwerp vereis dat staatsorganisasies personeel vir sekuriteit, skoonmaak, instandhouding, IT, ouditering en ander dienste direk in diens moet neem. Matthew Parks van COSATU sê inkontraktering sal werkers se toestande verbeter, korrupsie bekamp, staatskapingsnetwerke ontbind, en openbare hulpbronne beskerm. Cosatu vra daarom die Parlement om die aanvaarding en goedkeuring van die Wetsontwerp so spoedig moontlik af te handel:
# Die voormalige Zimbabwiese presidentsvrou, Grace Mugabe, kan na bewering nie na Suid-Afrika reis om haar seun, Bellarmine Mugabe, te ondersteun nie. Dit volg nadat hy gister in Johannesburg in hegtenis geneem is vir die beweerde skiet van die gesin se tuinier in Hydepark. Volgens News24 is Mugabe tans in Singapoer en is bang sy word gearresteer weens ‘n uitstaande lasbrief van 2018 wat met ‘n aanrandingsaak verband hou. Die polisie ondersoek die voorval, soek na ‘n vermiste vuurwapen en het Mugabe Junior se BMW, wat met sirenes toegerus is, in beslag geneem.
# Die inhegtenisneming van Andrew Mountbatten-Windsor vir beweerde wangedrag in ‘n openbare amp, en die openbare vernedering oor sy verhouding met die oorlede veroordeelde Amerikaanse seksoortreder Jeffrey Epstein, het kommer laat ontstaan dat die sage die begin van die einde vir die duisend jaar oue monargie kan beteken. Die Huis van Windsor is bekend vir skandale, verleenthede en rampe, en is dikwels in die middelpunt van kontroversie. Die Republic-veldtog, wat klagtes by die polisie ingedien het oor die voormalige prins en Epstein, gebruik nou dié inhegtenisneming om sy eis te herhaal dat die instelling moet verdwyn.
# En krieket: Die Super Agt-fase van die T20-Wêreldbeker begin môre in Colombo wanneer Pakistan en Nieu-Seeland om half-vier die middag in ‘n groep 2 wedstryd op die R. Premadasa-stadion te staan kom. Pakistan het momentum nadat hulle Namibië verpletter het, terwyl die Swart Pette hulle eer wil herstel na ‘n slegte nederlaag teen Suid-Afrika. In hul Super Agt-openingswedstryd sal Suid-Afrika Sondagmiddag in groep 1 teen Indië te staan kom. Elke span speel een keer teen die ander drie in hul groep. Die top twee spanne in elke groep sal na die halfeindrondes op 4 en 5 Maart deurdring.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….