Nuus 07:00
BULLETIN 31 Januarie 7 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Parlement verwelkom die verwerping van die EFF se aansoek oor die skorsing van sy lede
# Duduzane Zuma kritiseer sy pa se leierskap
# En sokker, Suid-Afrika skok Marokko en dring deur na die Afcon-kwarteindronde
# Die Parlement het die Wes-Kaapse Hooggeregshof se besluit verwelkom om die EFF se dringende aansoek om die skorsing van ses van sy parlementslede om te keer, met koste van die hand te wys. Dit sluit die leier, Julius Malema, en adjunkpresident Floyd Shivambu in. Hulle is aan minagting van die Parlement skuldig bevind nadat hulle verlede jaar in Februarie tydens president Cyril Ramaphosa se staatsrede die verhoog bestorm het. Die Parlement se woordvoerder, Moloto Mothapo, sê die EFF-lede se skorsing geld van die eerste tot die 29ste van volgende maand:
# Die Internasionale Monetêre Fonds is ernstig beswaard oor die groeiende uitwerking van die krisis by Transnet op die Suid-Afrikaanse ekonomie en het die vooruitskatting vir groei in 2024 tot een-persent verlaag. Die logistieke uitdagings by Transnet lei tot daaglikse verliese van ‘n miljard-rand, wat spoor- en hawebedrywighede beïnvloed. Die syfers van die IMF vir SA stem grootliks ooreen met die vooruitsigte van die Suid-Afrikaanse Reserwebank op 25 Januarie, wat die verwagte groei van die BBP tot 0,6-persent aangepas het, vanaf die syfer van 0.8-persent vir 2023 in November.
# Oudpresident Jacob Zuma se seun, Duduzane, het sy teleurstelling in sy pa se leierskap uitgespreek en erken sy pa was deel van ‘n groep wat bygedra het tot ‘n mislukte regering. Hy het ook bevestig sy eie politieke party is gestig en staan bekend as All Game Changers en beklemtoon jongmense wil beheer neem en hul ingesteldheid verander. Die jong Zuma is ook bereid om met eendersdenkende partye saam te werk.
# Die saak teen 65 mense wat daarvan aangekla word dat hulle die onluste in KwaZulu-Natal en Gauteng in Julie 2021 aangehits het, is tot 8 April uitgestel. Hulle staan tereg op aanklagte soos sameswering om openbare geweld te pleeg, terrorisme, opstoking en sameswering om moord te pleeg. Hulle het die eerste keer in die Hooggeregshof in Durban verskyn. Die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie het dié week sy verslag oor die geweld vrygestel. Natasha Ramkisson-Kara van die Nasionale Vervolgingsgesag sê die uitstel bied aan sommige van die beskuldigdes bykomende tyd om hulle regsverteenwoordiging te finaliseer.
# Die Wêreldgesondheidsorganisasie het skenkers gemaan om nie befondsing aan die Verenigde Nasies se hulp- en werke-agentskap in Gaza te staak nie en voer aan dis nie die tyd om die mense van Palestina te versaak nie. Lande soos Amerika, die Verenigde Koninkryk, Duitsland en Kanada het hulle befondsing tydelik gestaak nadat Israel sommige van die organisasie se werkers beskuldig het dat hulle op 7 Oktober deelgeneem het aan Hamas se aanval op Israel. Meer as ‘n duisend mense is in die aanval dood. Die WGO se woordvoerder, Christian Lindmeier, sê dis ʼn kritieke oomblik in Gaza:
# Sokker: Suid-Afrika is deur na die Afrikabeker se kwarteindronde, nadat hy een van die toernooi se gunstelinge, Marokko, in die Ivoorkus verslaan het. Evidence Makgopa se doel in die 57ste minuut en ʼn vry-skop van Teboho Mokoena in die vyfde minuut van ekstra tyd, het bygedra tot Bafana Bafana se sege oor die Marokkane, wat in 2022 die halfeindronde van die Wêreldbeker gehaal het. Suid-Afrika speel Saterdag teen Kaap Verde vir ʼn plek onder die laaste vier. Afrigter Hugo Broos sê dit was spesiaal om Afrika se topspan, Marokko, te klop:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-81-sent teen die dollar, 20-rand-36-sent teen die euro en 23-rand-85-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 42-duisend-752-dollar-65-sent. Die prys van goud is twee-duisend-34-dollar-2-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 82-dollar-11-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….