Nuus 07:00
BULLETIN 20 Februarie 7 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# President Ramaphosa sê die suksesse van die regering van nasionale eenheid is ’n gesamentlike prestasie
# Die Mededingingskommissie vervolg PG Glass en Glasfit
# En Donald Trump sê die Vredesraad sal ‘toesig hou’ oor die Verenigde Nasies
# President Cyril Ramaphosa sê geen minister of adjunkminister moet hulle werk in die regering van nasionale eenheid as hulle party se prestasie beskou nie. Hy het gister repliek gelewer na die debat oor sy staatsrede. Dit volg nadat die DA-leier, John Steenhuisen, gesê het baie van die vordering in die RNE dra die stempel van sy party se beginselvaste deelname wat bevoegdheid, fiskale dissipline en beleid wat groei bevorder, bydra. Ramaphosa sê daar is geen partye in die Kabinet nie:
# Die Mededingingskommissie het twee motorruitmaatskappye, PG Glass en Glasfit, na die Mededingingstribunaal verwys vir vervolging oor beweerde prysvasstelling. Die maatskappye word daarvan beskuldig dat hulle sedert 2004 jaarliks ooreengekom het om glaspryse te verhoog, wat kliënte en versekeringsfirmas geraak het. Siyabulela Makunga van die kommissie sê die beweerde kartel het billike mededinging belemmer en die kommissie eis boetes van tot tien-persent van die maatskappye se omset.
# Die DA het die ANC-geleide Stad Tshwane gestriem na sy ooreenkoms met vakbonde oor die een-miljard-rand terugwerkende salarisse, en sê dit sal dienslewering benadeel. Die metro het in 2022 kop uitgetrek oor ‘n vooraf ooreengekome salarisverhoging van 3,5-persent vir sy werkers, en finansiële probleme aangevoer. Na jare se litigasie het Tshwane ingestem om die verhoging te betaal. Jacqui Uys van die DA sê die spaargeld wat vir die ooreenkoms gebruik word, beteken minder werkers in die voorste diensleweringslinie:
# President Donald Trump van Amerika sê sy Vredesraad gaan in die toekoms baie nou saam met die Verenigde Nasies werk. Minstens 20 lande wat deur hul staatshoofde of ministers van Buitelandse Sake en afgesante verteenwoordig is, het die eerste Vredesberaad onder Trump se voorsitterskap in Washington bygewoon. Talle bondgenote, insluitend die Vatikaan, het nie die raadsbyeenkoms bygewoon nie omdat dit die VN se mag kan oorneem. Trump sê dis eenvoudig: Hulle soek vrede:
# Krieket: Die groepfase van die T20-Wêreldbeker eindig vandag. Die 2021-kampioen Australië is reeds uitgeskakel nadat hy twee van sy eerste drie wedstryde verloor het, maar hoop om op ‘n hoogtepunt af te sluit met ‘n oorwinning oor Oman in Pallekele. Die Super Agt-fase begin môre in Colombo wanneer Pakistan en Nieu-Seeland mekaar die stryd aansê. Suid-Afrika speel Sondag teen Indië in Ahmedabad. Die twee wenspanne in elke groep kwalifiseer vir die halfeindronde. Die eindstryd word op die agtste van volgende maand gespeel.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-15-sent teen die dollar, 18-rand teen die euro en 21-rand-73-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 67-duisend-169-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-999-dollar-90-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 71-dollar-43-sent per vat.
# En ten slotte: Die onteerde voormalige prins Andrew het die eerste senior Britse koninklike in die moderne geskiedenis geword wat in hegtenis geneem is sedert koning Charles die Eerste in 1647. Andrew Mountbatten-Windsor is op sy verjaarsdag in hegtenis geneem vir moontlike wangedrag in ‘n openbare amp, wat verband hou met die Epstein-lêers. Prinses Anne het in 2002 die eerste koninklike geword wat aan ‘n oortreding skuldig bevind is nadat sy ‘n gevaarlike hond nie kon beheer nie. Prins Philip is in 2019 deur die polisie aangespreek na ‘n motorongeluk waartydens hy sonder ‘n veiligheidsgordel was, maar hy is nie gearresteer nie.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….