Nuus 07:00
BULLETIN 19 Februarie 7 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die regering het maatreëls ingestel om voedselsekerheid en huishoudings te ondersteun
# AfriForum beskuldig die rampbestuursentrum dat hy die regering en publiek mislei
# En die EFF in Gauteng het bande met die ANC in Ekurhuleni verbreek
# Die regering sê hy gaan voort om maatreëls in te stel om voedselsekerheid te ondersteun, markmonitering te verbeter, mededinging te versterk en kwesbare huishoudings teen stygende koste te beskerm. Die jongste Verbruikersprysindeks wat Statistiek Suid-Afrika bekendgemaak het, toon inflasie het effens gedaal van 3,6-persent in Desember 2025 tot 3,5-persent in Januarie. Die daling weerspieël ‘n kombinasie van bestendige voedselpryse en laer brandstofkoste. Die regering sê hy sal prysontwikkeling fyn dophou en optree waar nodig om verbruikerswelstand te beskerm en ekonomiese groei te ondersteun.
# Die minister van Openbare Werke en Infrastruktuur, Dean Macpherson, het ‘n plan aangekondig om die waarde van die staat se eiendomsportefeulje van 155-miljard-rand te ontsluit. Die plan sal ongebruikte regeringsgeboue en grond herstel en ontwikkel om inkomste te genereer en die hoë koste van die huur van privaat kantore te verminder. Tydens die tweede dag van die debat oor die staatsrede het Macpherson gesê die hervorming sal help om infrastruktuur te befonds, beleggings te bevorder en byna 100-duisend werksgeleenthede te skep:
# AfriForum sê die nasionale rampbestuursentrum het die publiek mislei toe hul nie amptelik bek-en-klouseer, die waterkrisis en onlangse vloede tot nasionale rampe verklaar het nie. Die organisasie doen ‘n beroep op die minister van Samewerkende Regering en Tradisionele Sake, Velenkosini Hlabisa, om hierdie rampe dringend te verklaar sodat noodbefondsing en -hulpbronne beskikbaar gestel kan word. Tarien Cooks van AfriForum sê die oponthoud vertraag pogings om die krisisse te hanteer:
# Die EFF in Gauteng het aan sy koalisie-ooreenkoms met die ANC in die Stad Ekurhuleni onttrek ná burgemeester Nkosiphindile Xhakaza se besluit om die burgemeesterskomitee te skommel. Die burgemeester het die EFF-lede Bridget Thusi as burgemeesterskomiteelid vir Gemeenskapsdienste, en Kgopello Hollo as burgemeesterskomiteelid vir Menslike Nedersettings verwyder. Die EFF se provinsiale woordvoerder, Dumisani Baleni, sê hierdie veranderinge is nie in die mense se beste belang nie maar dien selfsugtige politieke belange:
# Franse owerhede het nog twee mense vasgetrek in verband met die moord op die verregse studente-aktivis, Quentin Deranque. Dit bring die getal verdagtes op elf te staan. Die 23-jarige student is Saterdag dood nadat hy verlede week tydens ʼn betoging in Lyon ʼn ernstige breinbesering opgedoen het toe hy geskop en geslaan is. Onder dié wat aangekeer is, is ʼn parlementêre assistent van Frankryk se ver-linkse party. Die voorval het politieke spanning in Frankryk verhoog in aanloop tot volgende maand se munisipale verkiesing, asook die 2027-presidentsverkiesing.
# Rugby: Die Springbok-legende JP Pietersen is aangestel as die Sharks se permanente hoofafrigter ná sy suksesvolle termyn as tussentydse afrigter. Die Durbanse span het vyf uit sewe wedstryde gewen sedert Pietersen in November by John Plumtree oorgeneem het. Die voormalige Griekwa-afrigter, Scott Mathie, sal volgende seisoen by Pietersen aansluit as die span se nuwe aanvalsafrigter. Die vorige aanvalsafrigter, Dave Williams, is nou hoofbestuurder en die voormalige direkteur van rugby, Neil Powell, is die nuwe hoof van junior rugby.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-3-sent teen die dollar, 18-rand-91-sent teen die euro en 21-rand-64-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 66-duisend-666-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-963-dollar-39-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 69-dollar-76-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….