Nuus 07:00
BULLETIN 14 Februarie 7 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Eskom steun ‘n nuwe staatsbeheerde entiteit wat toesig hou oor die kragnetwerk en mark
# AfriForum maak beswaar teen konsepregulasies wat hidrobreking toelaat
# En rugby: Ierland en Italië skop die tweede ronde van die Sesnasies af
# Eskom sê hulle sal die vestiging van ‘n volledig onafhanklike transmissiestelseloperateur ondersteun. Dit volg na ‘n opdrag deur president Cyril Ramaphosa. Die onafhanklike entiteit sal ook verantwoordelik wees vir die bestuur van die nasionale kragmark, ‘n stap wat daarop gemik is om bestuur, doeltreffendheid en betroubaarheid in elektrisiteitsvoorsiening te verbeter. Die woordvoerder van Eskom, Daphne Mokwena sê die taakspan wat opgestel is om die transmissiestelseloperateur te lewer, is nou in werking, met Eskom wat verbind is tot ‘n gladde oorgang:
# AfriForum sê hulle mag dalk verdere regstappe doen indien die regering voortgaan met konsepregulasies wat die huidige moratorium op hidrobreking sal ophef. Die organisasie het beswaar gemaak teen die voorgestelde reëls en gewaarsku dat hulle nie voldoende omgewingsbeskerming bied nie en Suid-Afrika se beperkte waterbronne in gevaar kan stel. Marais de Vaal van AfriForum voer aan dat owerhede nie die kapasiteit het om die regulasies behoorlik af te dwing en moontlike skade te voorkom nie:
# Die ekonoom van Aluma Capital, Frederick Mitchell, sê Suid-Afrika se ekonomie toon versigtige optimisme, met stygende beleggersvertroue, infrastruktuurverbeterings en hoër kommoditeitspryse. Mitchell waarsku dat volhoubare groei afhang van streng fiskale dissipline, skuldbestuur en privaatsektorgedrewe beleggings. Met skuld wat bykans 78-persent van die bruto binnelandse produk uitmaak, moet die begrotingsrede van die minister van Finansies, Enoch Godongwana, fokus op slim besteding, doeltreffende belastingnakoming en werkskepping om langtermynbestendigheid te verseker.
# Die Stad Johannesburg bied vandag ‘n inkomste-ope dag aan vir inwoners van streek-A, by Fourways Crossing vanaf 8 vm tot 3 nm. Inwoners kan hulp kry met navrae oor munisipale rekeninge, kortings en registrasie op die uitgebreide sosiale pakket vir lae-inkomste huishoudings. Die stad sal ook inligting verskaf oor die skuldverligtingsprogram, wat kwalifiserende klante help om agterstallige skuld te vereffen en bekostigbare betalingsplanne op te stel. Inwoners word aangemoedig om hul munisipale state en identiteitsdokumente saam te bring.
# Die Australiese mynmaatskappy, Paladin Energy is op koers om die verbetering van sy Langer Heinrich-uraanmyn in Namibië te voltooi. Dit sal in Julie maksimum produksie bereik. Namibië, die wêreld se derde grootste uraanprodusent naas Kanada en Kazakstan, wil sy posisie konsolideer na verlede jaar se rekordproduksie. Produksie het vir die eerste keer tien-duisend metrieke ton uraanoksied oorskry. Die uitvoerende hoof van Paladin, Paul Hemburrow, sê hoër wêreldwye pryse help om mynboubeleggings te versnel. Onlangse handel in 2026 dui op pryse van ongeveer een-duisend-445-rand per kilogram, teenoor ongeveer een-duisend-317-rand verlede jaar.
# En rugby: Die tweede ronde van die Sesnasies word die naweek beslis, met Ierland en Italië wat die aksie vandag in Dublin afskop. Skotland verwelkom Engeland daarna op Murrayfield in Edinburgh met die hoop om voort te bou op hulle goeie vertonings teen die besoekers die afgelope paar jaar. Wallis is môre in Cardiff gasheer vir die verdedigende kampioen, Frankryk. England is tans boaan die punteleer na sy oortuigende oorwinning oor Wallis. Frankryk is tweede, Italië derde, Skotland vierde, Ierland vyfde en Wallis soos gewoonlik laaste.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….