Nuus 07:00
BULLETIN 11 Februarie 7 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Paul Mashatile sê die regering is daartoe verbind om die bekommernisse van jongmense aan te spreek
# Die DA het hoë verwagtinge van die staatsrede
# En die Gautengse Onderwysdepartement bereik ‘n ooreenkoms met die stakende skoolvervoeroperateurs
# Adjunkpresident Paul Mashatile sê jongmense is Suid-Afrika se hartklop en nie passiewe waarnemers van die nasionale gemoedstemming nie. Hy het gister met jongmense en jeugorganisasies in Khayelitsha vergader as deel van die Nasionale Jeugontwikkelingsagentskap se Presidensiële Tafelronde. Mashatile sê die regering wil sake soos die ekonomie, onderwys, gesondheidsorg en klimaatsverandering oplos, asook enige ander kwessie wat jongmense as belangrik beskou. Hy sê vandag se geslag jongmense is gevul met morele helderheid en doelgerigtheid.
# Die DA sê hy het ‘n hoë verwagting dat president Cyril Ramaphosa Donderdag in sy staatsrede hervorming en aksies sal aanbied en nie planne en voorstelle nie. Die party is deel van die regering van nasionale eenheid en sê die tyd vir planne en voorstelle, visies en hoop, is lankal verby. Die DA se nasionale woordvoerder, Jan de Villiers, sê ware hervormings is noodsaaklik om Suid-Afrika se ekonomie op ʼn pad van werkskepping en voorspoed te plaas:
# Die leier van Build One South Africa, Mmusi Maimane, vra streng optrede teen misdaad en dapper ekonomiese hervormings in die aanloop tot Donderdag se staatsrede. Maimane het aan die media gesê Suid-Afrika kan nie groei of werk skep terwyl misdaad buite beheer is nie. Hy voer aan dat politieke reëlings binne die regering van nasionale eenheid nie noemenswaardige verandering bewerkstellig het nie, en beleide en gebrek aan aanspreeklikheid wat onaangeraak bly:
# Die Gautengse Onderwysdepartement het ná ʼn deurbraak in onderhandelinge ʼn ooreenkoms met skoolvervoeroperateurs bereik. Die ontevrede operateurs staak reeds twee weke lank omdat hulle nie betaal word nie. Die staking raak sowat 238-duisend leerders wat op ongeveer drie-duisend busse staatmaak wat deur 250 gekontrakteerde diensverskaffers bedryf word. LUR Matome Chiloane sê operateurs het ʼn gedeelte van die agterstallige bedrae ontvang:
# Die Europese Unie veroordeel Israel se maatreëls om sy beheer oor die Wesoewer te versterk en sê dis ʼn stap in die verkeerde rigting. Die maatreëls is daarop gemik om Israel se beheer oor die gebied te verskerp wat eiendomsreg, beplanning, lisensiëring en toepassing betref. Israel se minister van Verdediging, Israel Katz, sê hulle verwerp steeds die idee van ʼn Palestynse staat. Die EU sê sanksies is steeds ʼn moontlikheid en sluit die opskorting van dele van die handelsooreenkoms tussen Israel en die EU in.
# Olimpiese Spele: ‘n Oekraïnse skiër Vladyslav Heraskevych sal nie toegelaat word om sy sogenaamde gedenk-valhelm te dra wanneer hy aan die Milano Cortina Winterspele in Italië deelneem nie. Die valhelm bevat foto’s van kinders wat dood is sedert Rusland se inval in 2022. Die Internasionale Olimpiese Komitee sê hulle verstaan atlete se begeerte om vriende te onthou wat in die konflik dood is, maar Heraskevych se valhelm oortree die riglyne. Hy sal toegelaat word om ‘n gewone swart rouband te dra wanneer hy meeding.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 15-rand-92-sent teen die dollar, 18-rand-95-sent teen die euro en 21-rand-73-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 68-duisend-895-dollar. Die prys van goud is vyf-duisend-37-dollar-21-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 68-dollar-65-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….