Nuus 07:00
BULLETIN 4 Februarie 7 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Madlanga-kommissie sê Suliman Carrim se hofaansoek is ‘n misbruik van prosesse
# Graan SA waarsku plaaslike koring word bedreig
# En minister Groenewald wil die uitdagings by Wes-Kaapse gevangenisse onafhanklik laat ondersoek
# Die sakeman Suliman Carrim sal môre uitvind of hy voor die Madlanga-kommissie moet verskyn. Dit volg nadat die Gautengse Hooggeregshof uitspraak voorbehou het in sy dringende aansoek om te keer dat hy voor die kommissie verskyn. Hy voer aan prosedure-onreëlmatighede het die dringende aansoek genoop en nie vertragingstaktieke nie. Die kommissie se woordvoerder, Jeremy Michaels, het aan Newzroom Afrika gesê Carrim se aansoek is misbruik van proses:
# Graan SA sê die koringbedryf staan voor ‘n strukturele krisis wat die oorlewing van produsente, toekomstige aanplantings en langtermyn-voedselsekerheid bedreig. Stygende insetkoste, gesubsidieerde invoere, vertraagde tariewe en ondoeltreffende beleide maak koringverbouing ekonomies onvolhoubaar. Die uitvoerende hoof van Graan SA, Tobias Doyer, vra dringende ingryping, insluitend tydige tariefimplementering, beter insetkostebestuur en beleidsekerheid. Hy waarsku dat sonder gekoördineerde optrede, plaaslike koringproduksie en landelike lewensbestaan permanent benadeel kan word.
# Die minister van Korrektiewe Dienste, Pieter Groenewald, het voorgestel dat ‘n onafhanklike ondersoekkommissie die ernstige probleme by Wes-Kaapse tronke ondersoek. Dit volg nadat minstens 12 beamptes van die Goodwood Korrektiewe Sentrum tugstappe kan verwag nadat twee gevangenes by die instelling dood is. Pollsmoor Korrektiewe Sentrum was verlede jaar ook onder die soeklig nadat ʼn gevangene in September verkeerdelik vrygelaat is. Groenewald sê hy wil weens die voortslepende probleme ʼn onafhanklike kommissaris laat aanstel om hierdie kwessies te ondersoek.
# Die NAVO-hoof Mark Rutte sê Rusland se jongste aanvalle op Oekraïne wys dat Moskou nie ernstig is oor vrede nie. Rusland het Maandagaand ʼn rekordgetal ballistiese missiele op Kiëf se energie-infrastruktuur afgevuur. Oekraïne se president, Volodymyr Zelensky, sê meer as 70 ballistiese en kruismissiele, en 450 hommeltuie is gebruik. Rutte het gister Oekraïne se nasionale parlement toegespreek en sê dié land bly noodsaaklik vir NAVO se sekuriteit:
# Krieket: Die tweemalige T20-Wêreldbekerkampioen, Engeland, is onder druk na sy uiters swak vertonings in die Reeks om die As teen Australië, en in die eendag-Wêreldbeker, asook die vorige T20-skouspel twee jaar gelede. Die span spog met verskeie wêreldgehalte-kolwers soos Jos Buttler, Phil Salt en Ben Duckett, terwyl kaptein Harry Brook en Tom Banton ernstige skade in die middelorde kan aanrig. Kenners wys egter op ‘n moontlike swakpunt met die snelboulers, met Mark Wood wat beseer is en Jofra Archer wat pas van ‘n besering herstel het.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 15-rand-93-sent teen die dollar, 18-rand-84-sent teen die euro en 21-rand-83-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 76-duisend-574-dollar. Die prys van goud is vyf-duisend-27-dollar-84-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 67-dollar-91-sent per vat.
# En ten slotte: Die UDM erken die diepgaande uitwerking van kanker in Suid-Afrika en ook wêreldwyd. Die party vra op Wêreldkankerdag bewustheid, voorkoming, vroeë opsporing, behandeling en sorg. Die internasionale tema is “United by Unique” en die party vra die regering om siftings uit te brei, openbare gesondheidsinfrastruktuur te versterk en bekostigbare behandeling te verseker. Die UDM se waarnemende sekretaris-generaal, Zandile Phiri, beklemtoon oorlewendes en gesondheidswerkers moet gevier word en hy vra verenigde optrede teen kanker:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….