Nuus 07:00
BULLETIN 19 Augustus 7 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Openbare Beskermer stel ‘n sperdatum vir minister Buti Manamela om ‘n aksieplan in te dien
# Die nuwe elektrisiteitsprysbeleid sal rekeninge meer deursigtig maak
# En Suid-Afrikaners gebruik 64-persent van hul salarisse om skuld te betaal
# Die Openbare Beskermer, Kholeka Gcaleka, het die minister van Hoër Onderwys, Buti Manamela, tot 1 November tyd gegee om ‘n reddingsplan voor te lê vir die Nasionale Finansiële Hulpskema vir Studente. ʼn Ondersoek deur die Openbare Beskermer het onthul sowat 40-duisend studente by 76 hoëronderwys-instellings is onbehoorlik befonds teen ʼn koste van 5,1-miljard-rand. Dit is ten spyte van ʼn toekenning van drie-miljard-rand tussen 2024 en 2027 om die sogenaamde vermiste middel te ondersteun. Gcaleka sê die skema het ʼn behoorlike befondsingsmodel nodig:
# Die minister van Elektrisiteit en Energie, Kgosientsho Ramokgopa, sê die nuwe elektrisiteitsprysbeleid sal beskerming vir arm en kwesbare verbruikers versterk en elektrisiteitsrekeninge meer deursigtig maak. Die minister sê munisipale en Eskom-rekeninge sal ontbondel word, wat aan verbruikers sal wys presies hoe koste bereken word. Rekeninge sal elektrisiteitsopwekking, transmissie- en verspreidingskoste, bykomende dienste en munisipale toelae spesifiseer. Hy sê huishoudings en ondernemings moet verstaan waarvoor hulle betaal:
# DebtBusters sê Suid-Afrikaanse verbruikers bly onder ernstige finansiële druk, met mense wat aansoek doen vir skuldberading wat 64-persent van hul netto salaris gebruik om skuld te betaal. Die jongste indeks toon verbruikers wat meer as 50-duisend-rand per maand verdien, benodig 103-persent van hul inkomste om skuldterugbetalings te dek. Die gemiddelde aansoeker het nou 8,7 kredietooreenkomste, die hoogste vlak sedert 2016. Die uitvoerende hoof van DebtBusters, Benay Sager, sê stygende koste, veral vir elektrisiteit en petrol, dwing meer mense om op persoonlike en betaaldaglenings staat te maak.
# Die DA-leier Geordin Hill-Lewis vra Tshwane-inwoners om die party ʼn volstrekte meerderheid te gee in die munisipale verkiesing in November. Hy sê koalisieregerings het versuim om bestendige en doeltreffende regering te bied. Spanning het uitgebreek tussen die metro se koalisievennote, met die ANC en EFF wat ActionSA en burgemeester Nasiphi Moya beskuldig dat sy nie ʼn ooreenkoms nakom om die stadsbestuurder, Johann Mettler, te skors nie. Hill-Lewis sê ʼn volstrekte DA-meerderheid kan Tshwane ʼn burgemeester gee wat minder tyd bestee om ʼn koalisie te red en meer tyd het om die metro reg te ruk.
# President Donald Trump van Amerika sê daar is tans geen onderhandelinge met Iran aan die gang of word beplan nie. Dit is ten spyte van sy bewering Maandag dat sy administrasie met Iran se Islamitiese Rewolusionêre Wagkorps onderhandel het, maar die leërafdeling ontken dit. Trump het op Truth Social gesê die Amerikaanse vlootblokkade gaan met volle krag en doeltreffendheid voort, en dat die Straat van Hormoes oop is en gebruik word. Iran het die belangrike seeweg basies gesluit uit wraak vir die oorlog teen Amerika.
# Rugby: Die Springbok-hulpafrigter, Felix Jones, sê die Bokke en All Blacks sal Saterdag ewe goed voorbereid wees vir die eerste toets op Ellispark in Johannesburg. Nieu-Seeland het tot dusver al drie sy wedstryde teen die Stormers, die Haaie en die Bulle gewen. Suid-Afrika het intussen oefenlopies gehad teen die Barbarians, Engeland, Skotland, Wallis en Argentinië. Jones sê die drie konsessie-spanne het belangrike tegniese lesse geleer in hul wedstryde teen die All Blacks:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-245-sent teen die dollar, 18-rand-81-sent teen die euro en 21-rand-98-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 64-duisend-369-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-352-dollar-34-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 93-dollar-54-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….