Nuus 07:00
BULLETIN 26 Januarie 7 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# President Ramaphosa sê die ANC is daartoe verbind om plaaslike regering reg te ruk
# Die Departement van Gesondheid sê die ARV-tender is doelbewus aan verskeie verskaffers toegeken
# En ‘n Amerikaanse regter staan ’n tydelike beperkingsbevel toe in die Alex Pretti-saak
# Die ANC-president Cyril Ramaphosa sê 2026 sal die jaar wees waarin plaaslike regering en die ekonomie reggeruk word. Hy het gister die slotrede gelewer na die nasionale uitvoerende komitee se driedaagse lekgotla in Boksburg, Gauteng. Die president sê dis die jaar van aksie. Ramaphosa sê die lekgotla het spesifieke take uiteengesit in die ses belangrikste areas wat die Nasionale Algemene Raad geïdentifiseer het:
Ramaphosa sê ook die party moet vry wees van begunstiging, korrupsie en faksievorming. Partyleiers van oor die land het die afgelope dae vergader om ‘n aksieplan te finaliseer om prioriteite in te stel wat in die 8 Januarie-verklaring uiteengesit is. Ramaphosa sê hulle het mense met integriteit en geloofwaardigheid nodig om Suid-Afrikaners te dien:
# Die Departement van Gesondheid sê die huidige antiretrovirale tender is doelbewus aan verskeie verskaffers toegeken as ‘n risikoverminderingstrategie om ononderbroke voorsiening regoor die land te verseker. Die woordvoerder Foster Mohale sê dit volg op mediaberigte oor twee verskaffers wat kontrakte toegeken is onder die huidige ARV-tender en wat sedertdien in sakeredding beland het. Hy sê die departement het onmiddellik met die twee verskaffers in verbinding getree om die oorsake en verwagte tydlyne vir oplossings vas te stel:
# Die DA in KwaZulu-Natal het die geleentheid verwelkom om direk van die National Freedom Party te hoor rakende hul kommer oor die regering van provinsiale eenheid, asook hul verwagtinge om gesprekke oor die toekoms van die regering van provinsiale eenheid te hervat. Die DA se voorsitter, Dean Macpherson, sê hulle gaan die IVP, ANC en NFP na ‘n veelpartyvergadering nooi om alle partye toe te laat om kwessies wat vir hulle belangrik is, te opper, asook om uitstaande verskille op te los:
# Federale regter Eric Tostrud in Minnesota het ʼn tydelike beperkingsbevel toegestaan om te keer dat federale agentskappe bewyse wat verband hou met die skietdood van Alex Pretti in Minneapolis, verander of vernietig word. Dit sluit bewyse in wat volgens berigte van die toneel verwyder is of uitsluitlik in federale besit is. Die 37-jarige Pretti is deur immigrasiebeamptes doodgeskiet toe hy blykbaar ʼn betoger wou help wat deur ʼn agent omgestamp is. ʼn Verhoor vind vandag plaas om besware te oorweeg en te bepaal of die bevel van krag moet bly.
# Gholf: Die Zimbabwiër Benjamin Follett-Smith het die Cell C-uitdaging-titel by die Killarney-buiteklub in Johannesburg met een hou weggeraap voor die Suid-Afrikaner, Haydn Porteous. Dis sy derde Sonskyntoer-titel. Die Suid-Afrikaner Kieron van Wyk is derde op 11 onder baansyfer. Die toernooi is ter ere van Gary Player gehou. Follett-Smith sê hy is tevrede met sy spel:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-8-sent teen die dollar, 19-rand-7-sent teen die euro en 21-rand-97-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 87-duisend-521-dollar. Die prys van goud is vyf-duisend-75-dollar-83-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 65-dollar-12-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….