Nuus 07:00
BULLETIN 22 Januarie 7 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die VF Plus sê die insluiting in AGOA is noodsaaklik vir Suid-Afrika se ekonomiese herstel
# Die Vryemarkstigting sê Suid-Afrika het ‘n regering nodig wat belastingbetalers respekteer
# En rugby: Die Springbok-vroue gaan die VSA vir ‘n geskiedkundige toetsreeks ontvang
# Die Vryheidsfront Plus sê Suid-Afrika se voortgesette deelname aan die Wet op Groei en Geleenthede in Afrika is van kritiese belang vir ekonomiese herstel, werkskepping en groei. Die party sê die ANC se huidige buitelandse beleid, insluitend militêre bande met China, Rusland en Iran, bedreig toegang tot Amerikaanse markte en kan duisende werksgeleenthede in gevaar stel. Jaco Mulder van die VF Plus sê die regering moet ‘n verantwoordelike, handelsgerigte buitelandse beleid aanneem om uitvoere te beskerm:
# Die Vryemarkstigting sê president Cyril Ramaphosa se goedkeuring van salarisverhogings vir openbare ampsdraers beklemtoon ‘n basiese probleem met die grootte en koste van die uitvoerende gesag. Lede van die uitvoerende gesag, die Parlement, provinsiale uitvoerende rade en provinsiale wetgewers se salarisse word met 3,8-persent verhoog, en dié van regters, landdroste, tradisionele leiers en lede van onafhanklike grondwetlike instellings met 4,1-persent. Die stigting sê deur verdere verhogings aan die politieke elite toe te staan sonder betekenisvolle aanspreeklikheid oor prestasie, stuur die verkeerde boodskap oor prioriteite.
# Standard Bank sê stygende huurgeld gaan inflasie vanjaar bedreig, maar algehele prysgroei sal na verwagting onder beheer bly. Verbruikersinflasie het verlede jaar op 3,6-persent geëindig, met lae voedsel- en brandstofpryse wat verligting gebring het. Voedselinflasie het op 4,4-persent gebly, en brandstofpryse het op ‘n jaargrondslag met slegs 1,6-persent gestyg. Elna Moolman van die bank sê die rand se onlangse goeie prestasie behoort te help om algehele inflasie hanteerbaar te hou, ondanks hoër huurkoste:
# Die DA sê nagenoeg 27-duisend gevalle van gewelddadige trauma oor ses maande plaas ernstige druk op hospitale in die Wes-Kaap. Tussen Junie en November verlede jaar is meer as drie-duisend pasiënte met skietwonde opgeneem, terwyl meer as 23-duisend-700 behandeling vir messteke moes kry. Memory Booysen van die DA waarsku noodsentrums en trauma-eenhede word oorlaai, wat hulpbronne van ander mediese sorg wegneem:
# Die Britse premier Keir Starmer sê hy sal nie toegee oor sy ondersteuning aan Groenland nie. President Donald Trump hou vol dat Groenland deel moet word van Amerika en sê dis vir veiligheidsredes en om Chinese en Russiese bedreiging in die Noordpoolstreek teen te staan. Hy dreig ook met sanksies teen verskeie Europese lande wat Amerika se aanspraak op Groenland verwerp. Starmer sê dis noodsaaklik om Groenland se soewereiniteit te respekteer:
# Rugby: Die Springbok-vroue sal die Amerikaanse vroue se Eagles in Julie vir die eerste keer in Johannesburg en Pretoria verwelkom vir ʼn geskiedkundige toetsreeks van twee wedstryde. Dit is ook die begin van die Springbokke se Nasieskampioenskap-veldtog. Die Bok-vroue sal in September ook gasvrou speel vir Nieu-Seeland se Black Ferns. Die Springbok-vroue se hoofafrigter, Swys de Bruin, sê hulle doel is om teen so veel as moontlik van die top-tien spanne kragte te meet in die nuwe Wêreldbeker-siklus.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-24-sent teen die dollar, 18-rand-98-sent teen die euro en 21-rand-82-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 89-duisend-952-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-800-dollar-0-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 64-dollar-63-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….