Nuus 07:00
BULLETIN 21 Januarie 7 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# President Ramaphosa sal vandag die Basiese Onderwyssektor-lekgotla toespreek
# Die adjunkminister van Justisie sê die veiligheid rondom howe moet opgeskerp word
# En Panyaza Lesufi sê ‘n intensiewe oorsig oor leerdervervoer word in Gauteng gedoen
# President Cyril Ramaphosa lewer vandag in Benoni, Gauteng, die hoofrede by die 2026-lekgotla van die Basiese Onderwyssektor. Die geleentheid se tema is: Versterk die grondslag vir ‘n veerkragtige onderwysstelsel wat gereed is vir die toekoms. Die vergadering sal voorkeure bepaal om leerderuitkomste in die onderwys-waardeketting te verbeter. Die Presidensie sê die lekgotla sal sektorvoorkeure bevorder. Dit sluit in die verbetering van gehalte en toegang tot vroeëkinderjare-ontwikkeling, versterking van geletterdheid en syfervaardigheid, en die verbetering van die veiligheid, funksionaliteit en gehalte van die skoolomgewing.
# Die Departement van Justisie en Grondwetlike Ontwikkeling sê hy werk saam met wetstoepassingsowerhede om alle nodige maatreëls in te stel om mense se veiligheid by howe te verseker. Dit volg nadat twee mense gister buite die Booysens-landdroshof in Johannesburg doodgeskiet en drie ander gewond is. Adjunkminister Andries Nel waarsku dat misdadigers al meer die howe gebruik as voorspelbare plek waar spesifieke individue op sekere tye sal wees:
# Die Vakbond van die Suid-Afrikaanse Mediese Vereniging versoek die regering om die krisis van werklose dokters dringend aan te spreek. Die vakbond sê meer as ‘n duisend doktersposte landwyd is nie gevul nie, terwyl baie gekwalifiseerde dokters vir meer as twee jaar na hul gemeenskapsdiens nog nie werk het nie. SAMATU kritiseer provinsiale gesondheidsdepartemente omdat hulle nie die openbare gesondheidsorgbegroting gebruik om personeel aan te stel nie. Cedric Sihlangu van SAMATU sê slegs Mpumalanga het alle doktersposte gevul.
# Die premier van Gauteng, Panyaza Lesufi, sê ‘n omvattende evaluering van leerdervervoer is reg oor die provinsie aan die gang na die tragiese ongeluk in Vanderbijlpark wat die lewens van 12 leerders geëis het. Lesufi het aan die media gesê die owerhede kyk of bestuurders geldige permitte het en of voertuie aan veiligheidstandaarde voldoen, te midde van pogings deur die provinsie om die veiligheid van leerdervervoer te verbeter en verdere ongelukke te voorkom:
# Die Europese Kommissie se president, Ursula von der Leyen, sê president Donald Trump van Amerika se dreigement om tariewe teen Europese lande in te stel oor hul standpunt oor Groenland, is ʼn fout. Trump het die naweek gesê hy gaan van Februarie af tariewe van tien-persent instel op goedere van agt NAVO-bondgenote indien hulle sy voorgestelde oorname van Groenland teenstaan. Hy dreig om dit teen Junie tot 25-persent te verhoog. Von der Leyen sê Trump se dreigement kan Europa en Amerika se verhouding versuur:
# Motorsport: Mercedes se Formule Een-span het die vertrek later vanjaar van sy direkteur van motorontwerp, John Owen, aangekondig. Owen was betrokke by nege motors wat die wêreldkampioenskap gewen het. Die span sê Owen het besluit om ‘n blaaskans van die sport te neem en sal ‘n tydperk van sogenaamde tuinmaakverlof begin, waartydens hy nie by enige ander F1-span mag aansluit nie. Die 52-jarige Britse ingenieur sal eers die oorgang na sy opvolger, ingenieursdirekteur Giacomo Tortora, behartig.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-38-sent teen die dollar, 19-rand-22-sent teen die euro en 22-rand-4-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 88-duisend-995-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-817-dollar-49-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 63-dollar-61-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….