Nuus 07:00
BULLETIN 20 Januarie 7 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die parlementêre ad hoc-komitee gaan Paul O’Sullivan dagvaar
# Die Europese Unie belê 95-miljoen-rand in skoolveiligheid in Suid-Afrika
# En die Britse premier kritiseer Trump se tarief-dreigemente
# Die parlementêre ad hoc-komitee wat bewerings van misdadigheid, korrupsie en politieke inmengery in die regstelsel ondersoek, het besluit om die privaat ondersoeker, Paul O’Sullivan, te dagvaar. Hy word beskuldig dat hy ‘n agent is wat die land moet destabiliseer. Die komitee het sy versoek om weens kommer oor veiligheid virtueel te getuig, heftig verwerp. Mdumiseni Ntuli van die ANC beskuldig O’Sullivan dat hy die Parlement ondermyn:
# Die Organisasie teen Belastingmisbruik waarsku dat tussentydse rade by die Suid-Afrikaanse Nasionale Padagentskap al hoe meer voorkom, en aanspreeklikheid en openbare vertroue ondermyn. Volgens die organisasie vertraag herhaalde verlengings van die raad behoorlike toesig en bestuurskwessies, met tenderprosesse en die vertrek van senior bestuurders wat onopgelos bly. Die uitvoerende hoof van OUTA, Wayne Duvenage, doen ‘n beroep op ‘n onafhanklike ondersoek na Sanral se bestuurs- en verkrygingspraktyke:
# Die Europese Unie beloof sowat 95-miljoen-rand vir ʼn nasionale program om geslagsgeweld by Suid-Afrikaanse skole te voorkom en daarop te reageer. Dis gister aangekondig tydens die minister van Basiese Onderwys, Siviwe Gwarube, se besoek aan Eldorado Secondary School in Gauteng. Die EU se belegging sal gebruik word vir projekte soos onderrig oor voorkoming, psigososiale ondersteuning, verwysingsmoontlikhede en skoolgebaseerde ingryping om leerders te beskerm. Die EU-ambassadeur in Suid-Afrika, Sandra Kramer, sê skoolveiligheid is ʼn basiese voorwaarde vir gehalte-onderwys.
# Die Vereniging van Staatsamptenare vra vir die onmiddellike ontplooiing van hulpbronne om gemeenskappe te help wat deur die verwoestende vloede in Mpumalanga geraak word. Die vakbond sê dringende optrede is nodig om water, elektrisiteit, gesondheidsdienste en paaie te herstel, en om gesinne te ondersteun wat deur die ramp ontheem is. Hy vra ook behoorlike beskerming en ondersteuning vir werkers in die voorste linies wat onder gevaarlike toestande werk. Phumzile Zulu van die vakbond het meegevoel betuig met dié wat geliefdes verloor het. Gemeenskappe word ook daaraan herinner om veiligheidsriglyne te eerbiedig terwyl herstelpogings voortduur.
# Die Britse eerste minister, Keir Starmer, sê president Donald Trump se dreigement om tariewe teen bondgenote in te stel, is verkeerd. Trump het die naweek gesê hy sal van Februarie af ʼn tien-persent-tarief instel op goedere van agt NAVO-bondgenote indien hulle sy voorgestelde oorname van Groenland teenstaan. Hy dreig om dit teen Junie tot 25-persent te verhoog. Starmer sê slegs die mense van Groenland en Denemarke mag oor dié land se toekoms besluit:
# Netbal: Die Proteas se hoofafrigter, Jenny van Dyk, het haar span van 15 spelers bekendgemaak wat Engeland volgende week in Johannesburg in ʼn toetsreeks van drie wedstryde gaan takel. Dis die span se laaste internasionale wedstryde voor die Statebondspele in Glasgow. Suid-Afrika het ʼn suksesvolle Afrika-netbalbeker-veldtog in Lilongwe agter die rug waar hulle as kampioene gekroon is. Van Dyk sê deelname teen die wêreld se beste help hulle om te bepaal waar hulle staan, en om te groei en te verbeter.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-39-sent teen die dollar, 19-rand-8-sent teen die euro en 21-rand-99-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 92-duisend-743-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-667-dollar-68-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 63-dollar-38-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….