Nuus 07:00
BULLETIN 17 Januarie 7 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Dumisani Khumalo sê Senzo Mchunu het sy magte oorskry deur die polisietaakspan te ontbind
# Menslike Nedersettings ontplooi Noodbehuisingspanne in vloedgeteisterde provinsies
# En rugby: ‘n Groot stryd word verwag vir SA Rugbyspeler van die Jaar
# Die minister van Menslike Nedersettings, Thembi Simelane, het die departement se Noodbehuisingseenheid ontplooi na vloedgeteisterde gebiede in Limpopo en Mpumalanga. Die behuisingsingryping in Limpopo word gelei deur spanne wat die skade nagaan aan meer as ‘n duisend huishoudings wat geraak is. In Mpumalanga kan sommige gesinne hervestig word of van tydelike eenhede voorsien word. Ministeriële woordvoerder, Tsekiso Machike, sê hulle het die vermoë verhoog om assesserings en bystand te bespoedig:
# Die misdaadintelligensie-hoof van die polisie, Dumisani Khumalo, sê die minister van Polisie, Senzo Mchunu, het te ver gegaan deur die taakspan vir politieke moorde te ontbind sonder om die behoorlike proses te volg. Khumalo het in getuienis voor die parlementêre ad hoc-komitee wat korrupsie en politieke inmenging in die regstelsel ondersoek, gesê die minister se brief van 31 Desember 2024 het die operasionele gesag van die nasionale polisiekommissaris, Fannie Masemola omseil. Khumalo sê slegs die kommissaris kan sulke taakspanne stig of ontbind:
# Die rand is op ‘n weeklikse opwaartse trajek vir die eerste keer in 23 jaar. Die huidige winste word gedryf deur verhoogde edelmetaalpryse en ‘n verbeterende ekonomiese situasie. Die geldeenheid is op koers vir sy agtste agtereenvolgende weeklikse styging teenoor die dollar, wat volgens Bloomberg die langste reeks sedert Desember 2002 sal wees. Die geldeenheid het oor hierdie tydperk met meer as 6,1-persent versterk. Rekordgoud- en silwerpryse ondersteun die rand se prestasie maarhet ekonomiese hervormings en ‘n omsigtige sentrale bank help ook . Die rand het Vrydagmiddag teen 16 rand-39 sent teenoor die dollar verhandel.
# Die watervoorraad in Knysna in die Wes-Kaap het tot kritieke vlakke gedaal, met watervoorraad vir sleg nog tien dae. Burgemeester, Thando Matika het aan eNCA gesê die Akkerkloofdam is op 15-persent kapasiteit, en amptenare werk daaraan om ‘n totale tekort te voorkom. Matika skryf die tekort toe aan hoë seisoenale aanvraag en paniekaankope. Hy voeg by daar is ander waterbronne in die gebied, en vra inwoners om water te spaar:
# Israel worstel met ‘n dramatiese toename in post-traumatiese stresversteuring en selfdood onder sy soldate in die twee jaar lange oorlog in Gaza, wat op die Hamas-aanvalle in Oktober 2023 gevolg het. Die Ministerie van Verdediging sê daar is ‘n toename van byna 40-persent in PTSV-gevalle en dit kan in die toekoms dramaties styg. Kliniese sielkundiges sê soldate worstel met twee tipes trauma – die eerste hou verband met die vrees om te sterf, en die tweede weens die skade wat aan ‘n persoon se gewete of morele kompas as gevolg van iets wat hulle gedoen het.
# En rugby: ‘n Groot stryd word verwag vir die gesogte titel van Suid-Afrika se speler van die jaar. Die benoemde mans, almal Springbokke, is Pieter-Steph du Toit, Sacha Feinberg-Mngomezulu, Ox Nché, Jasper Wiese en die wêreldspeler van die jaar, Malcolm Marx. Die vrouebenoemings sluit in Byrhandré Dolf, Aseza Hele, Libbie Janse van Rensburg, Babalwa Latsha en Nadine Roos. Feinberg-Mngomezulu is ook genomineer as jong speler van die jaar, terwyl die Sewes-speler van die jaar Selvyn Davids, Shilton van Wyk of Impi Visser sal wees.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….