Nuus 07:00
BULLETIN 16 Januarie 7 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# President Ramaphosa sê die regering sal Limpopo-inwoners in vloedgeteisterde gebiede help met herbouwerk
# AgriSA glo die land sal sy status as bek-en-klouseer-vry herwin
# En tennis, Roger Federer sê dit sal ongelooflik wees as Carlos Alcaraz op 22 reeds ‘n loopbaan-Grand Slam behaal
# President Cyril Ramaphosa beskryf die swaar reën in Limpopo as rampspoedig. Hy het die provinsie gister besoek om die omvang van die skade en die regering se reaksie te bepaal. ‘n Seun is vroeër die week in die Mutale-rivier meegesleur en ʼn vierjarige het Woensdag by die Mbaula-nedersetting verdrink. Die Suid-Afrikaanse Weerdiens se waarskuwing vir die provinsie is tot ʼn rooi vlak 10 verhoog wat die hoogste waarskuwing is. Ramaphosa sê die regering sal die betrokke inwoners help met herbouwerk:
# Die MK-party vra die Valke moet bewerings van korrupsie en onetiese gedrag rakende die kommersiële handel in leeubeendere ondersoek. Die party sê die minister van Landbou, John Steenhuisen, die minister van Bosbou, Visserye en die Omgewing, Willie Aucamp, en die DA word geïmpliseer, wat ernstige kommer laat ontstaan oor korrupsie, ampsmisbruik en onetiese bestuur. Die MK-woordvoerder, Nhlamulo Ndhlela sê bykomende klagtes oor etiek gaan by die parlement ingedien word:
# AgriSA sê hy het vertroue in Suid-Afrika se vermoë om op die lang termyn sy status as vry van bek-en-klouseer te herwin. Hy sê die landbousektor het herhaaldelik sy veerkragtigheid bewys tydens droogtes, siekte-uitbrekings en infrastruktuurbeperkings. Die minister van Landbou, John Steenhuisen, wil ʼn ramptoestand laat verklaar omdat die siekte versprei en sê die land moet teen 2036 vry daarvan wees. AgriSA sê die regering se bygewerkte strategie is ʼn beter gekoördineerde, risiko-gebaseerde en wetenskap-geleide benadering tot inenting, waarneming, bewegingsbeheer en sonering.
# Die IVP in KwaZulu-Natal veroordeel wat hy beskryf as veragtelike en gevaarlike doodsdreigemente teen premier Thamsanqa Ntuli. Die dreigemente op sosiale media vra uitdruklik dat die premier doodgemaak word. Die party sê Ntuli se sterk standpunt teen korrupsie en wanadministrasie maak hom ʼn teiken vir mense wat aanspreeklikheid vrees. Hy sê dis duidelik dat Ntuli ʼn struikelblok is vir mense met ʼn onversadigbare aptyt om staatsfondse onder die dekmantel van dienslewering te plunder. ʼn Strafregtelike saak is aanhangig gemaak.
# Die Verenigde Nasies se sekretaris-generaal, António Guterres, verwelkom fase twee van die 20-punt plan om vrede in Gaza te bewerkstellig. Dit sluit in dat Hamas ontwapen word, die verwoeste gebied herstel word en ʼn groep Palestynse kenners aangestel word om Gaza te regeer. Guterres het herhaal dat humanitêre hulp ongehinderd toegelaat en die skietstilstand ten volle ingestel word. Hy sê ʼn onomkeerbare pad na ʼn tweestaatoplossing volgens internasionale reg moet moontlik gemaak word.
# Tennis: Die voormalige wêreldnommer-een, Roger Federer sê dit sal ongelooflik wees as die wêreld se huidige beste speler, Carlos Alcaraz, die Australiese Ope wen om ‘n loopbaan-Grand Slam op die ouderdom van slegs 22 te behaal. Die Spanjaard het reeds die ander drie Grand Slam-toernooie twee keer gewen, met die titel in Melbourne die enigste wat hy nog nooit in sy glinsterende loopbaan kon inpalm nie. Sy beste vertonings in Australië was om twee keer die kwarteindronde te haal. Die Switserse legende sê dit sou ‘n ongelooflike en spesiale oomblik wees as Alcaraz dit regkry.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-34-sent teen die dollar, 18-rand-97-sent teen die euro en 21-rand-86-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 95-duisend-456-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-602-dollar-99-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 63-dollar-26-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….