Nuus 07:00
BULLETIN 18 Augustus 7 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Suid-Afrika wil 50-persent van die SAOG se intrahandel teiken
# Die MK-party en UAT appelleer teen die hofuitspraak oor die Ampsklagkomitee
# En rugby: Erasmus sê hy het geen illusies oor die All Blacks se spelpatroon nie
# Die minister van Internasionale Betrekkinge en Samewerking, Ronald Lamola, sê Suid-Afrika het ‘n ambisieuse teiken gestel om 50-persent intra-handel in die Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap te bereik. Streekshandel maak sowat 20-persent van totale handel uit, en vervaardiging dra slegs tien-persent by tot die bruto binnelandse produk. Die hele SAOG-streek voer minerale en landbouprodukte uit, terwyl vervaardigde goedere ingevoer word. Lamola sê veredeling, bou van streeks-waardekettings en groter intra-streekshandel is noodsaaklik:
# Die MK-party en die United Africans Transformation wil appelleer teen ʼn tussentydse interdik van die Wes-Kaapse Hooggeregshof wat die werk van die parlementêre Ampsklagkomitee eers gestop het. Dit volg nadat die Konstitusionele Hof opposisiepartye onder leiding van die African Transformation Movement verbied het om teen die Hooggeregshof-beslissing te appelleer, hangende president Cyril Ramaphosa se hersieningsaansoek. In hofdokumente beskuldig die MK-party en UAT Ramaphosa dat hy vertragingstaktieke gebruik. Die partye voer ook aan dat die volle regsbank talle foute gemaak het in die verwerping van hul saak.
# Die Suid-Afrikaanse Vereniging van Plaaslike Regerings sal vandag en môre die doeltreffendheid van Oos-Kaapse munisipaliteite assesseer en prioriteite vir die volgende administrasie stel. Hy sal fokus op die verbetering van bestuur, dienslewering en plaaslike ekonomiese groei. SALGA-woordvoerder Motalatale Modiba sê die vergadering sal munisipaliteite ook help om voor te berei vir die oorgang na die plaaslike regeringsverkiesing en maniere identifiseer om beleggings na gemeenskappe te lok:
# Die Suid-Afrikaanse Vereniging vir Kunsmatige Intelligensie het Activate SA van stapel gestuur, ‘n nuwe inisiatief wat daarop gemik is om verantwoordelike gebruik van kunsmatige intelligensie in die regering en die samelewing te bevorder. Die inisiatief vorm deel van die Wes-Kaapse KI-groepering en sal fokus op KI-beleid, -bestuur, -infrastruktuur en -belegging. Die eerste Activate SA KI-beraad sal van 25 tot 27 Augustus by die Kaapstadse Internasionale Konferensiesentrum plaasvind. Organiseerders sê die inisiatief is daarop gemik om die provinsie se KI-sektor te laat groei, plaaslike entrepreneurs te ondersteun en beleggings te lok.
# Israel se eerste minister, Benjamin Netanyahu, se kantoor sê ʼn ooreenkoms is met die Amerikaans-geleide Vredesraad bereik om twee werksgroepe te stig. Dit volg na ʼn ontmoeting wat Netanyahu gister met Amerika se gesant en president Donald Trump se skoonseun, Jared Kushner, gehad het. Netanyahu se kantoor sê die eerste werksgroep sal op ontwapening en demilitarisering van Gaza fokus. Israel en die Vredesraad is albei vasbeslote dat dit afgehandel moet wees voordat enige heropbou kan plaasvind. Hy sê die tweede werksgroep sal kyk na sanitasie, skoon water en ander openbare gesondheidskwessies.
# Rugby: Die Springbok-afrigter Rassie Erasmus sê hulle verstaan maar alte goed hoe die All Blacks wil speel. Op hierdie stadium is daar kommer oor slegs twee beserings in die groep, met kaptein Siya Kolisi en stut Ox Nche wat dalk Saterdag se eerste toets op Ellispark kan misloop. Erasmus verwerp bewerings uit Nieu-Seeland dat die Bokke die spel verlangsaam. Hy sê hulle vind altyd ʼn balans wanneer wedstryde regtig moeilik raak:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-23-sent teen die dollar, 18-rand-79-sent teen die euro en 21-rand-99-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 64-duisend-151-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-399-dollar-16-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 92-dollar-96-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….