Nuus 07:00
BULLETIN 12 Januarie 7 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die DA dien ‘n PAIA-aansoek in vir die verslag oor die Nasionale Direkteur van Openbare Vervolging
# Discovery Health sal self die koste van ’n oorbetalingsfout dek
# En tennis: Pole wen die eerste United Cup-titel nadat hulle Switserland klop
# Die DA het ‘n aansoek ingevolge die Wet op die Bevordering van Toegang tot Inligting ingedien nadat president Cyril Ramaphosa geweier het om die verslag vry te stel wat gebruik is vir sy besluit oor die aanstelling van die Nasionale Direkteur van Openbare Vervolging. Ramaphosa het Andy Mothibi as die nuwe Openbare Vervolger aangestel nadat die adviespaneel aanbeveel het dat nie een van die ses kortlyskandidate aan die vereistes vir die rol voldoen het nie. Glynnis Breytenbach van die DA sê ernstige kommer bly bestaan oor die gebrekkige aanstellingsproses en hoe die president dit hanteer het.
# Discovery Health sê om lede van die Discovery Health Mediese Skema te beskerm, sal hy die koste dra vir mediese eise waarvoor te veel uitbetaal is. Dit volg na ‘n verwerkingsfout waar eise teen ʼn hoër koers uitbetaal is as waarvoor die planvoordele voorsiening maak. Dit raak 16-duisend-507 lede in sekere Executive-, Comprehensive- en Priority-planne waar die Above Threshold-voordeel van toepassing is. Discovery Health se uitvoerende hoof, Ron Whelan, sê dis die regte besluit en weerspieël hul toewyding aan regverdigheid, integriteit en om lede eerste te stel.
# Die polisie en sy misdaadbestrydingsvennote het tydens landswye operasies gesamentlik beslag gelê op nagemaakte en onwettige goedere ter waarde van meer as 350-miljoen-rand. Polisiewoordvoerder Amanda van Wyk sê multidissiplinêre operasies tydens Desember 2025 is onderskeidelik in Gauteng, KwaZulu-Natal en die Wes-Kaap uitgevoer. Sy sê nagemaakte en onwettige goedere ter waarde van byna 600-duisend-rand is gekonfiskeer, insluitend ontwerpershandelsmerkklere, sportklere, skoene, juweliersware, skoonheidsmiddels en selfoonbykomstighede:
# Skole heropen Woensdag en die Gautengse Onderwysdepartement sê hy werk hard om graad 1- en 8-leerders wat nog nie geplaas is nie, by skole in te kry. Die departement het op 6 Januarie gesê vier-duidend-858 leerders in die provinsie het nog nie plek nie. Hy skryf dit toe aan oorvol klaskamers, ontoereikende infrastruktuur en personeeltekorte. Die departement se woordvoerder, Steve Mabona, sê hulle probeer om hierdie leerders doeltreffend en regverdig te plaas:
# Die Forum for South Africa sê hy staan in onwrikbare solidariteit met die Ugandese opposisieleier, Bobi Wine, en sy politieke beweging, te midde van ‘n hewig betwiste en kritieke algemene verkiesing. President Yoweri Museveni is sedert 1986 aan bewind en mik na ‘n sewende agtereenvolgende verkiesingsoorwinning Woensdag by die stembus. FOSA-leier Tebogo Mashilompane het arbitrêre arrestasies en mishandeling deur staatsveiligheidsmagte veroordeel, wat daarop gemik is om die opposisie stil te maak:
# Tennis: Pole het Switserland in Sydney met 2-1 verslaan en spog die eerste keer ooit met die United Cup-titel. Iga Swiatek het in die aanvangswedstryd teen Belinda Bencic verloor. Hubert Hurkacz, wat ná ʼn knie-operasie aan sy eerste toernooi in sewe maande deelgeneem het, het sake gelykop gemaak met ʼn sege oor Stan Wawrinka. In die bepalende gemengde dubbelspel-kragmeting het Katarzyna Kawa en Jan Zielinski van Pole hul onoorwonne rekord in die toernooi behou en met Bencic en Jakub Paul afgereken om die titel te beklink.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-45-sent teen die dollar, 19-rand-18-sent teen die euro en 22-rand-9-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 91-duisend-14-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-576-dollar-43-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 63-dollar-1-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….