Nuus 07:00
BULLETIN 6 Januarie 7 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Basiese Onderwys sê die matriekeksamen voldoen steeds aan nasionale en internasionale maatstawwe
# Die polisie arresteer meer as 16-duisend verdagtes gedurende die feestyd
# En die Amerikaanse ambassadeur by die VN sê Nicolás Maduro was ‘n onwettige sogenaamde president
# Die Departement van Basiese Onderwys sê Suid-Afrika se Nasionale Senior Sertifikaat voldoen steeds aan nasionale en internasionale vereistes. Dit volg nadat die Vryheidsfront Plus dit betreur het dat departementele amptenare betrek is by die uitlek van matriekvraestelle. Die party sê dit ondermyn vertroue in die openbare onderwysstelsel. Die departement sê internasionaal is geen eksamenowerheid, openbaar of privaat, gevrywaar van menslike wanoptrede nie. Hy sê die Nasionale Senior Sertifikaat bied steeds ‘n basis vir hoër onderwys, vaardigheidsontwikkeling en indiensneming, en word deur universiteite en werkgewers vertrou.
# Die polisie het meer as 16-duisend verdagtes landwyd in die laaste week van die feestyd tydens Operasie Shanela in hegtenis geneem. Arrestasies sluit verdagtes in wat met moord, verkragting, dwelmhandel, onwettige immigrasie en ernstige roof verbind word. Verskeie deurbrake is in Gauteng, KwaZulu-Natal, die Wes-Kaap en ander provinsies aangemeld. Polisiewoordvoerder Amanda van Wyk sê die operasie het feestydmisdaad ‘n groot knou toegedien en gehelp om gemeenskappe veiliger te hou:
# Die burgemeester van Johannesburg, Dada Morero, sê noodplanne is van krag terwyl Rand Water met die laaste 54 uur van instandhoudingswerk by die Eikenhof-pompstasie begin. Inwoners word gewaarsku die volledige herstel van die stelsel sal ná Donderdag nog ten minste sewe dae duur. Water sal voorsien word deur stilstaande en bewegende tenkwaens. Morero het ‘n beroep op raadslede gedoen om met gemeenskappe te kommunikeer, terwyl die stad gereelde opdaterings belowe. Hy sê die instandhoudingswerk is noodsaaklik vir langtermyn-watersekerheid:
# Amerika se ambassadeur by die Verenigde Nasies, Mike Waltz, sê sy land sal nie huiwer om burgers teen narko-terrorisme te beskerm nie en soek vrede, vryheid en geregtigheid vir die mense van Venezuela. Die ontsetelde Venezolaanse president Nicolás Maduro en sy vrou, Cilia Flores, is Saterdag tydens ʼn Amerikaanse militêre operasie in hegtenis geneem en kan onder meer aangekla word van dwelm-terrorisme, sameswering en wapenhandel. Walz het die VN-veiligheidsraad toegespreek en hou vol Amerika voer nie oorlog teen Venezuela nie:
# Motorsport: Die Formule Een-nuweling, Cadillac, het Zhou Guanyu aangestel as hierdie seisoen se reserwe-renjaer. Die Chinees het verlede jaar dieselfde rol by Ferrari vervul nadat hy sy Sauber-wedrenplek aan die einde van 2024 verloor het. Guanyu sal rugsteun bied vir Valtteri Bottas en Sergio Perez, terwyl die gewese IndyCar-renjaer, Colton Herta, as toetsbestuurder sal optree. Zhou het al aan 68 Grand Prix-wedrenne deelgeneem en by sewe geleenthede punte aangeteken.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-36-sent teen die dollar, 19-rand-17-sent teen die euro en 22-rand-15-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 93-duisend-923-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-440-dollar-1-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 61-dollar-49-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….