Nuus 07:00
NUUSFLITS NUUSAGENTSKAP 16 November 7 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die minister van Elektrisiteit sê beurtkrag is ‘n bestaansprobleem wat dringende ingryping nodig het
# Die regering sê daar is positiewe neigings in die jongste beoordeling van munisipaliteite
# En, Brasilië trotseer ‘n ongekende hittegolf
# Die minister van Elektrisiteit Kgosientsho Ramokgopa sê beurtkrag is ʼn bestaansprobleem op ekonomiese sowel as maatskaplike vlak wat dringende ingryping nodig het. Hy het gister voor die parlementêre portefeuljekomitee oor Openbare Ondernemings verskyn. Hy sê die land se ekonomie verloor tot een-miljard-rand per dag, afhangende van die intensiteit van beurtkrag, en tot 800-duisend werksgeleenthede het net vanjaar verlore gegaan. Ramokgopa sê die belangrikste stappe is om Eskom reg te ruk, die beskikbaarheid van die bestaande voorraad te verbeter en privaat belegging in nuwe opwekkingsvermoë moontlik te maak.
# Die minister van Samewerkende Regering en Tradisionele Sake, Thembi Nkadimeng, sê uit die 257 munisipaliteite is 66 wanfunksioneel. In 2021 is 64 munisipaliteite wanfunksioneel verklaar, terwyl 111 ‘n medium risiko getoon het en 16 as bestendig beskou is. Sy sê verlede jaar se beoordeling toon ‘n effense afname tot 107 in mediumrisiko-munisipaliteite, wat bemoedigend is. Nkadimeng het op ‘n nuuskonferensie oor die regering se steun vir munisipaliteite gesê burgers verdien dienslewering soos huise wanneer fondse toegeken word:
Speel klankgreep: ENG NkadimengOnMunicipalities
# ActionSA beplan om appèl aan te teken omdat die Gautengse regering toegang weier tot indiensnemingsrekords van mense wat deur die Nasi Ispani-projek aangestel is. Die werkverskaffingskema is deur premier Panyaza Lesufi begin en het 1,2-miljoen aansoeke vir net agt-duisend beskikbare poste ontvang. ActionSA het ‘n aansoek ingevolge die Wet op die Bevordering van Toegang tot Inligting ingedien om die rekords te bekom, maar dit is afgewys. Die party beweer die provinsie gebruik die werkverskaffingsprojek om steun vir die ANC te werf voor 2024 se verkiesing.
# Die Stad Kaapstad sê terwyl hy voorberei vir die besigste tyd van die jaar, is die voorvalle wat die afgelope boekjaar by die noodoproepsentrums aangemeld is, kommerwekkend. Die stad se openbare noodkommunikasiesentrum het tussen Julie verlede jaar en Junie vanjaar meer as 215-duisend oproepe ontvang. Voorvalle van huishoudelike geweld het met 57-persent gestyg, kindermishandeling met sewe-persent en grap-oproepe met 80-persent. JP Smith van die stad sê dis egter bemoedigend om te sien hoeveel mense die noodkommunikasiesentrum gebruik:
Speel klankgreep: AFR SmithOnCallCentre
# Brasilië ondervind ‘n ongekende hittegolf wat toegeskryf word aan El Niño en klimaatsverandering, wat na verwagting tot Vrydag sal voortduur. Rooi waarskuwings is aan bykans drie-duisend dorpe en stede uitgereik. Die temperatuur in sommige gebiede, insluitend Rio de Janeiro, het hierdie week tot 52-grade-Celsius gestyg. In São Paulo is ‘n gemiddeld van 37-grade aangeteken. Rooi waarskuwings dui op temperature vyf grade bo die gemiddelde vir meer as vyf dae, wat ‘n ernstige gesondheidsrisiko inhou. Owerhede merk rekord hoë energieverbruik waar terwyl burgers probeer om die voortydige aanvang van die somer in die suidelike halfrond te trotseer.
# Motorsport: Die Mercedes-renjaer Lewis Hamilton sê hulle weet nie hoe die motor, wat heel seisoen onvoorspelbaar was, die naweek by die Las Vegas Grand Prix gaan vaar nie. Die Silver Arrows het twee wedrenne oor om hulle eerste segelose veldtog sedert 2011 te vermy. Hulle grootste prioriteit is egter om hulle tweede plek in die Vervaardigerskampioenskap te verseker waar hulle ʼn voorsprong van 20 punte bo Ferrari het. Hamilton sê hulle het baie werk om te doen om seker te maak hulle het volgende jaar ʼn renmotor wat kampioenskappe kan wen:
Speel klankgreep: ENG HamiltonOnCar
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-24-sent teen die dollar, 19-rand-78-sent teen die euro en 22-rand-62-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 37-duisend-459-dollar-3-sent. Die prys van goud is een-duisend-957-dollar-34-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 80-dollar-42-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….