Nuus 07:00
BULLETIN 16 Julie 7 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# President Ramaphosa stel minister Mantashe aan as waarnemende minister van Polisie
# RISE Mzansi sê die Parlement moet die ontbinde Padongelukkefonds-raad ondersoek
# En byna 900 Palestyne is dood terwyl hulle probeer het om kos in die hande te kry
# President Cyril Ramaphosa het die minister van Minerale en Petroleum Hulpbronne, Gwede Mantashe, met onmiddellike ingang as waarnemende minister van Polisie aangestel. Hy sal die rol vervul tot professor Firoz Cachalia die pos aan die begin van Augustus oorneem. Die Presidensie sê Mantashe sal ook sy pligte as minister van Minerale en Petroleum Hulpbronne nakom. Dit volg nadat Ramaphosa die minister van Polisie, Senzo Mchunu, op spesiale verlof geplaas het na bewerings van politieke inmenging en misdadige infiltrering van polisiebedrywighede.
# Die minister in die Presidensie, Khumbudzo Ntshavheni, sê die regering finaliseer die nuwe Wetsontwerp op Kubersekerheid om sy verdediging teen aanlyn bedreigings te versterk. Ntshavheni het op ‘n nuuskonferensie gesê die wetsontwerp volg op die voltooiing van die nasionale kubersekerheidstrategie. Die strategie sal fokus op die verbetering van digitale veiligheid, die verhoging van openbare bewusmaking, en die beskerming van kritieke infrastruktuur. Sy voeg by die wetgewing sal die regering lei oor hoe om te reageer op kuberaanvalle, data-oortredings en die misbruik van opkomende tegnologieë soos kriptogeldeenhede:
# RISE Mzansi verwelkom die ontbinding van die Padongelukkefonds se raad van direkteure weens bestuurs- en bedryfsprobleme. Die minister van Vervoer, Barbara Creecy, sê die raad se versuim om sy fidusiêre pligte na te kom, het gelei tot ‘n verlies aan vertroue in sy vermoë om die instelling doeltreffend te lei. RISE Mzansi se woordvoerder, Makashule Gana, sê minister Creecy moet onmiddellik begin met die proses om ʼn nuwe raad aan te stel wat moet bestaan uit mense met integriteit en onkreukbare etiese standaarde:
# Die Konstitusionele Hof bied regstreekse toegang aan om die Stad Kaapstad se saak aan te hoor om die Wet op Openbare Aankope nietig te verklaar. Die wet wil ʼn breë voorkeurverkrygingsraamwerk opstel vir aankope deur staatsliggame, en sluit afdelings in wat gemik is op bemagtiging en hervorming soos vooraf gekwalifiseerde kriteria. Kaapstad se burgemeester, Geordin Hill-Lewis, sê hierdie wet is onregmatig goedgekeur met ernstige tekortkominge wat openbare deelname en parlementêre prosesse betref:
# Die Verenigde Nasies se Menseregtekantoor sê 875 Gaza-inwoners is die afgelope weke dood terwyl hulle kos gaan haal het. Altesaam 674 sterftes word verbind met privaat hulpsentrums wat deur die sogenaamde Gaza Humanitêre Stigting bedryf word, terwyl 201 slagoffers dood is op roetes na of naby hulpkonvooie. Die kantoor sê die stigting, ʼn privaat organisasie wat deur Amerika en Israel bedryf word, omseil gewone humanitêre bedrywighede. Hy sê dis kommerwekkend dat mense sterf terwyl hulle probeer kos kry.
# Rugby: Die Britse en Ierse Leeus-vleuel, Mack Hansen, se besering het die besoekers se agterlynbekommernisse vererger nadat die heelagter Blair Kinghorn en die senter Garry Ringrose vroeër ook beserings opgedoen het. Hansen het verlede naweek in ‘n wedstryd teen ‘n gekombineerde Australiese en Nieu-Seelandse span in Adelaide sy voet beseer, maar die Leeus het steeds met 48-0 gewen. Die eerste toets tussen die Leeus en die Wallabies vind Saterdag in Brisbane plaas, met die besoekers wat ná vyf toerwedstryde steeds onoorwonne is.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-87-sent teen die dollar, 20-rand-75-sent teen die euro en 23-rand-94-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 117-duisend-662-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-332-dollar-45-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 68-dollar-42-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….