Nuus 07:00
BULLETIN 31 Desember 7 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# ‘n Dringende aansoek word ingedien om die aanstelling van ’n nuwe Nasionale Direkteur van Openbare Vervolging te verhoed
# Vlootkontingente is op pad na Suid-Afrika vir ‘n BRICS-vlootoefening
# En die Verenigde Arabiese Emirate onttrek sy oorblywende magte uit Jemen
# ‘n Prokureur en direkteur van B Xulu and Partners Incorporated, Barnabas Xulu, het ‘n dringende aansoek by die Gautengse Hooggeregshof ingedien om te verhoed dat president Cyril Ramaphosa ‘n nuwe Nasionale Direkteur van Openbare Vervolging aanstel. Die huidige direkteur, Shamila Batohi, tree volgende maand af. Xulu se aansoek handel met die beswaar om Hermione Cronje se kandidatuur te bevorder. Hy versoek ook ‘n interdik teen Ramaphosa hangende die uitslag van ‘n aansoek om die verslag en aanbevelings van die adviespaneel wat kandidate vir die pos moet aanbeveel, te hersien en tersyde te stel.
# Die minister van Samewerkende Regering en Tradisionele Sake, Velenkosini Hlabisa, het verskerpte en uitgebreide beslissende maatreëls aangekondig om sterftes, beserings en onwettige praktyke gedurende die jaarlikse inisiasieseisoen te bekamp. Dit volg na die dood van 41 ingelyfdes in die Oos-Kaap, Vrystaat, Gauteng en die Wes-Kaap. Die woordvoerder van die Departement, Pearl Maseko-Binqose, sê wetstoepassingsagentskappe het 41 mense in hegtenis geneem vir inisiasieverwante oortredings:
# Vlootkontingente van Rusland, China en Iran is op pad na Kaapstad voor Oefening Mosi-3, wat van 9 tot 16 Januarie in Kaapse waters gehou word. Chinese oorlogskepe het onderweg in Mombasa vasgemeer, terwyl Russiese skepe langs Afrika se weskus af vaar. Iranse eenhede word ook verwag. ‘n Woordvoerder van die SANW, Mpho Mathebula sê die oefening fokus op gesamentlike optrede om die veiligheid van skeepvaart en maritieme ekonomiese aktiwiteite te midde van toenemende geopolitieke ondersoeke, te verseker:
# Die Verenigde Arabiese Emirate sê hy gaan sy oorblywende teen-terrorisme-eenhede in Jemen onttrek. Dit volg nadat Saoedi-Arabië ‘n wapenbesending by die hawe van Mukalla gebombardeer het wat volgens die land vir VAE-gesteunde separatiste bedoel was. Saoedi-Arabië het die Emirate beskuldig van uiters gevaarlike optrede wat sy nasionale veiligheid bedreig. Die VAE se ministerie van Verdediging sê hy is verbaas want die besending het geen wapens bevat nie. Jemen is verwoes deur ‘n burgeroorlog wat in 2014 uitgebreek het toe die Houthi’s die internasionaal erkende regering uit die hoofstad Sana’a verdryf het.
# Sokker: Bafana Bafana-doelskieter Lyle Foster sê die span moet foute wat in hul wedstryd teen Zimbabwe gemaak is, regstel in hulle voorbereiding vir die ronde van 16 in die 2025 Afrikabekertoernooi. Suid-Afrika sal teen die naaswenners van Groep F in die uitklopfase te staan kom. Foster sê dit is belangrik om hulle verdediging te versterk. Hy voeg by die span moet gefokus bly terwyl hulle konsentreer op die allerbelangrike ontmoeting wat voorlê:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-59-sent teen die dollar, 19-rand-49-sent teen die euro en 22-rand-34-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 88-duisend-227-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-341-dollar-14-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 61-dollar-19-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….