Nuus 07:00
BULLETIN 25 Januarie 7 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Jacob Zuma raadpleeg sy prokureurs oor die terugbetaling van meer as 28-miljoen-rand se regskoste
# Azapo kritiseer die regering oor die beweerde verkoop van verdunde diesel
# En sokker, Bafana Bafana is deur na die Afrikabeker-uitklopfase
# Die Jacob Zuma-stigting sê die oudpresident raadpleeg sy prokureurs oor die Presidensie en Staatsprokureur se regsoptrede teen hom. Hulle het die Hooggeregshof in Pretoria genader om meer as 28-miljoen-rand wat die staat in die wapenskandaal-saak aan Zuma se regskoste betaal het, terug te kry. Twee howe het reeds bevind die staat is nie aanspreeklik vir regskoste wat die gewese president in sy persoonlike hoedanigheid aangegaan het nie. Die stigting sê Zuma oorweeg nog sy opsies.
# Die DA sê hy het ‘n aansoek aan PetroSA gerig ingevolge die Wet op die Bevordering van Toegang tot Inligting. Dit is om inligting te bekom oor die besluit om ʼn tender vir die ontginning van sy gasreserwes ter see en die herbou van noodsaaklike gas-infrastruktuur aan Equator Holdings toe te ken. Die maatskappy word beheer deur die omstrede politieke figuur, Lawrence Mulaudzi. Hy word in die Mpati-kommissie se verslag betrek by korrupsie en wanbestuur by die Openbare Beleggingskorporasie. Kevin Mileham van die DA sê Equator Holdings het nie aan tendervereistes voldoen nie:
# Die Azanian People’s Organisation is verontwaardig oor petrolstasies wat klaarblyklik verdunde diesel verkoop, gemeng met lampolie. Dit volg nadat die Departement van Minerale Bronne en Energie ontdek het 70 vulstasies het tussen April en Desember verlede jaar besmette diesel verkoop. ʼn Woordvoerder van Azapo, Jabu Rakwena, kritiseer die regering vir sy versuim om deeglik te monitor en toesig te hou en beweer dis gierigheid wat die belange van verbruikers belemmer. Rakwena vra vir streng meganismes om die gehalte van brandstof te verseker en verbruikers te beskerm:
# ‘n Man sal na verwagting vandag in ‘n Johannesburgse hof verskyn in verband met verlede jaar se dodelike brand in Marshalltown. Ses-en-sewentig mense is dood toe die brand in Augustus in die gekaapte gebou uitgebreek het. Die 29-jarige man is in hegtenis geneem nadat hy ‘n bekentenis gemaak het terwyl hy voor die kommissie van ondersoek oor die tragedie getuig het. Hy sê hy het die brand op die grondvloer gestig om ‘n moord wat hy gepleeg het te verbloem. Die man staan tereg op 76 aanklagte van moord, asook 120 van poging tot moord.
# Die Britse miljardêr, Joe Lewis, het skuldig gepleit op drie aanklagte van binnehandel in Amerika, maar onskuldig op 14 aanklagte van sekuriteitsbedrog en twee van sameswering. Sy familietrust besit die Engelse Premierliga-klub, Tottenham Hotspur. Aanklaers voer aan hy het vertroulike inligting oor beursgenoteerde maatskappye aan vriende, privaat vlieëniers, romantiese maats en ander gegee, en dat hy hulle geld geleen het om volgens hierdie kennis handel te dryf. Lewis, wat ook die stigter van Tavistock Group is, het erken hy het geweet hy tree verkeerd op.
# Sokker: Suid-Afrika het vir die Afrikabekertoernooi se laaste 16 in Ivoorkus gekwalifiseer. Hulle telling in die wedstryd teen Tunisië was gelykop sonder enige doele en hulle het tweede geëindig in Groep E met Mali in die eerste plek. Mali se telling teen Namibië was ook gelykop met nul elk. Intussen was een punt genoeg om die Demokratiese Republiek die Kongo die tweede plek in Groep F te besorg met Marokko in die eerste plek na sy een-nul-sege oor Zambië. Bafana Bafana se afrigter Hugo Broos sê hy is tevrede met die vertoning:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-89-sent teen die dollar, 20-rand-56-sent teen die euro en 24-rand-3-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 40-duisend-7-dollar-7-sent. Die prys van goud is twee-duisend-16-dollar-44-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 80-dollar-6-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….