Nuus 07:00
BULLETIN 20 Desember 7 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die ANC striem AfriForum oor die verspreiding van vals inligting oor die klopjag op die vlugtelingsentrum
# Minister Creecy sê daar is vanjaar minder padsterftes as in 2024
# En krieket: Die Protea-vroue maak skoonskip in die eendagreeks teen Ierland
# Die ANC het AfriForum veroordeel vir die verspreiding van vals inligting na ‘n klopjag op ‘n Afrikaner-vlugtelingsentrum in Sandton, waar sewe Keniaanse burgers onwettig gewerk het. Die party sê AfriForum skep vrees en ondermyn Suid-Afrika se demokrasie. Die woordvoerder van die ANC, Mahlengi Bhengu vra Suid-Afrikaners om hierdie veldtog te verwerp en spoor die regering aan om op te tree teen groepe wat rassehaat versprei. Die uitvoerende hoof van die organisasie, Kallie Kriel, ontken die bewerings en het onderneem om voort te gaan om menseregte en Afrikanergemeenskappe te verdedig.
# Die minister van Vervoer, Barbara Creecy, sê vroeë data oor die huidige feestyd toon 100-minder padsterftes in vergelyking met verlede jaar. Sy het verslag in Kaapstad gelewer en ‘n afname van 20,9-persent in noodlottige ongelukke en 20,8-persent in sterftes tussen 1 en 16 Desember gerapporteer . Creecy sê 113 lewens is tot dusver gered, maar waarsku dat padtrauma ‘n ernstige bron van kommer bly te midde van spitsreistye:
# Cosatu het alle partye versoek om onderhandelinge te bespoedig sodat vyf-duisend-200 regstreekse werksgeleenthede in Mozal in Maputo, Mosambiek, en 22-duisend verwante werksgeleenthede in Suid-Afrika gered kan word. Matthew Parks van Cosatu vra Mozal se eienaars, Eskom, en albei die lande se regerings om ‘n bekostigbare elektrisiteitstarief te verseker voor die huidige ooreenkoms in Maart beëindig word. Hy sê die federasie verwelkom ingrypings deur die Minister van Elektrisiteit en Energie, Kgosientsho Ramokgopa, en die Suid-Afrikaanse Presidensie:
# Die energiereguleerder, Nersa, het lede aangestel vir ‘n nuwe Adviesforum vir die Elektrisiteitsmark, as deel van voortgesette hervormings in die elektrisiteitsektor. Lede is gewerf vanuit regeringsreguleerders, Eskom, die sakewêreld, die akademie en die burgerlike samelewing. Die forum sal leiding gee oor hervormings in die elektrisiteitsmark, insluitend planne vir ‘n groothandelsmark, sowel as handelsreëls en -regulasies. Nersa sê die forum is ‘n belangrike stap vir beter betrokkenheid, die versterking van regulering en die bevordering van ‘n billike en doeltreffende elektrisiteitsmark wat betroubare voorsiening en waarde vir verbruikers verseker.
# Oekraïne het die Europese Unie Vrydag bedank vir die besluit om die land oor die volgende twee jaar met 1,7-duisend-miljard-rand te ondersteun. Die Russiese president, Vladimir Putin, het intussen gesê die EU het die plan laat vaar om Russiese bates te bevries om die steun aan Oekraïne te finansier, omdat dit ernstige gevolge sou hê. Dit was noodsaaklik om geld vir Kiëf te vind, want sonder EU-hulp sou Oekraïne volgende jaar sonder geld wees en heel waarskynlik die oorlog teen Rusland verloor. Die EU is bekommerd dit sal Russiese aggressie nader aan die blok bring.
# En krieket: Suid-Afrika het Ierland met 3-0 in die eendagreeks verslaan, nadat die gasvroue die Iere gister oorrompel het met 206 vir vier met nog ses paaltjies staande. Kaptein Laura Wolvaardt het weereens die voortou met die kolf geneem en haar honderdtal met die wenlopie bereik vir ‘n perfekte oorwinning op die Wanderers. Die Proteas het eerste geboul en die paaltjies gereeld laat kantel om die besoekers in die 46ste boulbeurt vir 205 uit te haal. Nonkululeko Mlaba was die beste bouler met vier paaltjies vir die verlies van net 33 lopies.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….