Nuus 07:00
BULLETIN 19 Desember 7 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die VSA dreig Suid-Afrika oor die beweerde inhegtenisneming van amptenare
# Die ministerie van Menslike Nedersettings waarsku oor vals behuisingsaanbiedinge
# En waarskuwings oor wydverspreide reënbuie en stormweer is vir die naweek uitgereik
# Die Amerikaanse regering beskuldig Suid-Afrikaanse owerhede dat hulle Amerikaanse amptenare aanhou wat hul pligte uitvoer deur humanitêre ondersteuning aan Afrikaners te bied. Hy sê dit kan slegs beskou word as ‘n poging om sy personeel te intimideer. ʼn Klopjag by ʼn verwerkingsentrum in Johannesburg het tot die inhegtenisneming van sewe Keniaanse burgers gelei wat nie die nodige dokumente gehad het nie. Hulle het namens Amerika Afrikaner-vlugtelinge se aansoeke verwerk. Die Departement van Binnelandse Sake sê geen Amerikaanse amptenare is gearresteer nie. Amerika dreig met ernstige gevolge.
# Wêreldwye steenkoolaanvraag sal na verwagting in 2025 met 0,5-persent styg tot ‘n rekord 8,85-miljard ton. Die Internasionale Energie-agentskap se Steenkool 2025-verslag voorspel egter ‘n afname teen 2030, namate hernubare energie, kernkrag en vloeibare natuurlike gas uitbrei. Steenkoolgebruik in nywerhede bly veerkragtig, met Indië en Suidoos-Asië wat die groei aandryf. Produksie in Suid-Afrika sal teen die einde van die dekade effens daal al het spoorwegprestasie verbeter en uitvoerkapasiteit verhoog.
# Die Ministerie van Menslike Nedersettings het die publiek gemaan om versigtig te wees ná ‘n toename in behuisingsbedrog. Die misdadigers gebruik nou aanlyn platforms om mense te mislei met vals beloftes van behuisingsgeleenthede. Die woordvoerder van die Ministerie, Tsekiso Machike, waarsku dat regeringsamptenare nooit betaling sal vra om huise te verskaf aan begunstigdes wat kwalifiseer nie:
# President Volodymyr Zelensky van Oekraïne sê sy land het geld nodig om te keer dat Rusland sy gevriesde bates as hefboomfinansiering gebruik in die voortslepende oorlog. Die Europese Unie is op die rand van ʼn belangrike besluit of hy gevriesde Russiese bates moet gebruik om Oekraïne finansieel te ondersteun. Die meeste Russiese bates in die EU is by die Belgies-gebaseerde organisasie, Euroclear. Zelensky waarsku Oekraïne sal sy hommeltuigvervaardiging moet inkort as hy nie teen vroeg volgende jaar meer geld kry nie.
# Gholf: Die Suid-Afrikaner Casey Jarvis en Scott Jamieson van Skotland loop voor in die AfrAsia Bank Mauritius Ope by die La Réserve Golf Links. Die twee het in die eerste rondte die klubhuis-voorsprong gedeel met rondtes van vyf onder 67, wat weens swak lig nie voltooi is nie. Hulle is met een hou voor ses ander spelers. Die wenner van verlede week se Alfred Dunhill-kampioenskap, Jayden Schaper met ʼn rondte van drie-onder 69, sê die eerste dag was moeilik:
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-74-sent teen die dollar, 19-rand-62-sent teen die euro en 22-rand-39-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 85-duisend-179-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-313-dollar-68-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 59-dollar-29-sent per vat.
# En ten slotte: Die Suid-Afrikaanse Weerdiens waarsku teen wydverspreide reënbuie en hewige donderstorms van vandag tot die naweek, hoofsaaklik oor die oostelike en sentrale dele. ‘n Geel vlak 4-waarskuwing is uitgereik vir Gauteng en die suidwestelike dele van Mpumalanga, met ‘n gevaar van swaar stortreën, geïsoleerde oorstromings, hael en weerlig. Daar is ‘n kans van tot 80-persent op reën in KwaZulu-Natal. Lehlohonolo Thobela van die Weerdiens sê mooiweer en warm toestande duur voort in die westelike binneland.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….