Nuus 07:00
BULLETIN 18 Desember 7 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Fikile Mbalula vra die ANC-jeugliga om op vreeslose debat te fokus
# Samwu waarsku daar wag ’n swart Kersfees op munisipale werkers
# En krieket: Die vierde T20 tussen SA en Indië word afgelas weens mistige weersomstandighede
# Die ANC se sekretaris-generaal, Fikile Mbalula, sê die ANC-jeugliga moet die voorste politieke stem wees vir al die jeug in Suid-Afrika. Hy het die slotrede gelewer by die jeugliga se 27ste Nasionale Kongres in Limpopo, waar Collen Malatji as president herkies is. Mbalula sê die jeugliga moet ‘n ruimte wees vir vreeslose, rewolusionêre debat, gegrond op die teorie van die Nasionale Demokratiese Rewolusie, en nie vir populisme of faksievorming nie:
# Die munisipale vakbond Samwu veroordeel die Nasionale Tesourie se besluit om Desember se regverdige befondsing van vyftien munisipaliteite te vries. Die vakbond waarsku hierdie stap sal duisende munisipale werkers gedurende die feestyd ontneem van hul salarisse en bonusse en sal noodsaaklike dienste, insluitend water, krag en afvalbestuur bedreig. Samwu se algemene sekretaris, Dumisane Magagula, versoek die onmiddellike vrystelling van fondse en waarsku vertragings sal munisipale krisisse vererger en kwesbare gemeenskappe benadeel:
# Die Nasionale Raad van Provinsies het die Wysigingswet op Immigrasie eenparig aanvaar. Dit wysig die Wet op Immigrasie van 2002 om twee spesifieke uitsprake van die Konstitusionele Hof te hanteer. Een wysiging vereis dat enige buitelandse burger wat vir deportasie aangehou word, binne 48 uur ná inhegtenisneming in die hof moet verskyn. Die konsepwet verskaf ook ʼn duidelike regsraamwerk aan immigrasie-amptenare om dubbelsinnigheid en die moontlikheid van litigasie te verminder. Die Parlement sê die konsepwet word nou aan president Cyril Ramaphosa gestuur om dit te bekragtig.
# Die DA doen ‘n beroep op die Stad Tshwane om met privaat en vrywillige brandweerdienste saam te werk in plaas daarvan om te appelleer teen ‘n uitspraak van die Hooggeregshof in Pretoria, wat bepaal hierdie dienste moet toegelaat word om te funksioneer. Die hof het bevind dit was verkeerd van die stad om hierdie dienste te keer, te midde van ernstige hulpbrontekorte by die munisipale brandweerdienste. Cilliers Brink van die DA sê samewerking sal gemeenskappe beter beskerm en belastingbetalers geld bespaar:
# Rusland se president Vladimir Putin het belowe sy land sal óf deur diplomasie óf deur militêre mag sy gebiedsdoelwitte in Oekraïne bereik. Hy het die opmerkings gemaak tydens ʼn toespraak by die uitgebreide vergadering van die Verdedigingministerie se raad. Moskou beywer hom vir streng beperkings op Oekraïne se weermag, ʼn verbod op Westerse soldate in Oekraïnse gebied, en ʼn einde aan Westerse militêre ondersteuning. Putin bevraagteken ook onlangse Westerse pogings om gereed te maak vir oorlog, en beskryf dit as histerie en ʼn leuen.
# Krieket: Die vierde T20 tussen Suid-Afrika en Indië is gister weens mistige weerstoestande in Lucknow afgestel sonder dat een bal geboul is. Skeidsregters het ses inspeksies uitgevoer om sigbaarheid te toets voor dit afgestel is. Die ongunstige weerstoestande is vererger deur die berugte lugbesoedeling met gevaarlik hoë giftigheidsvlakke. Indië loop met 2-1 voor in die reeks van vyf wedstryde. Die vyfde en laaste kragmeting vind Vrydag in Ahmadabad plaas.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-77-sent teen die dollar, 19-rand-69-sent teen die euro en 22-rand-43-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 85-duisend-989-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-325-dollar-88-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 60-dollar-37-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….