Nuus 07:00
BULLETIN 12 Desember 7 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# President Ramaphosa sê ANC-beleid en -besluite moet dringend ingestel word
# AfriForum eis die strengste optrede teen die matriekeksamenbedrog
# En krieket: Die Proteas maak die T20-reeks teen Indië gelyk
# ANC-president Cyril Ramaphosa sê die party moet gelei word deur bewyse, beginsels en die behoefte van inwoners, en nie deur slagspreuke, gewildheid of gerieflikheid nie. Hy het gisteraand die slotrede gelewer by die vyfde Nasionale Algemene Raad in Boksburg, Gauteng. Ramaphosa sê die raad stem saam oor wat nodig is om die ANC ‘n doeltreffende instrument vir die mense te maak om die Vryheidsmanifes se visie te bereik:
Ramaphosa het ook gesê die 2026 munisipale verkiesing sal ʼn belangrike toets wees om te bepaal tot watter mate die party daarin geslaag het om die kieserskorps se ondersteuning en vertroue te hernu. Ramaphosa sê om te wen, moet die ANC die mees toegewyde, eerlike en bevoegde kandidate benoem:
# Die voormalige hoof van die Ondersoekdirektoraat, Hermione Cronje, waarsku oor ‘n ernstige vaardigheidsramp by die Nasionale Vervolgingsgesag. Tydens haar onderhoud as hoof van die Nasionale Direktoraat van Openbare Vervolging sê Cronje aanklaers word as sekondêre regspersoneel behandel en die NVG het nie die nodige vaardighede om ingewikkelde sake te behartig nie. Cronje sê sy was geskok deur die swakhede binne die NVG toe sy in 2019 teruggekeer het:
# AfriForum verwelkom die minister van Basiese Onderwys, Siviwe Gwarube, se vinnige ondersoek nadat sewe matriekeksamen-vraestelle by sewe skole in Pretoria uitgelek het. Die organisasie doen ‘n beroep vir die strengste moontlike strawwe teen diegene wat verantwoordelik is. Twee amptenare van die departement is sedertdien geskors. Alana Bailey van AfriForum sê sulke bedrog is onaanvaarbaar en vra ernstige gevolge vir diegene wat hul vertrouensposisies misbruik:
# Die Wêreldgesondheidsorganisasie veroordeel die aanval op die Mrauk-U Hospitaal in Mianmar. Minstens 34 mense is dood en meer as 70 beseer in die lugaanval deur die land se junta. Die hospitaal is in Mrauk-U-dorp in die Rakhine-staat geleë, wat deur die Arakan-weermag beheer word. Dié groep is een van die sterkste etniese weermagte wat teen die land se militêre regime veg. Die WGO sê dis die 67ste aanval op gesondheid in Mianmar. Die junta het van Januarie tot laat November vanjaar twee-duisend-165 lugaanvalle uitgevoer.
# Krieket: Suid-Afrika verslaan Indië met 51 lopies in die tweede T20 in Nieu-Chandigarh om die telling in die reeks van vyf wedstryde een elk te maak. Quinton de Kock het 90 van 46 balle behaal om die Proteas tot ʼn indrukwekkende 213 vir vier in hul 20 boulbeurte te lei. Daarna het Ottneil Baartman met ʼn gedissiplineerde boulaanval vier paaltjies platgetrek en Indië was op 162 almal uit met vyf balle oor. Indië het die eerste wedstryd met 101 lopies beklink. Die derde T20 vind Sondag in Dharamsala plaas.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-87-sent teen die dollar, 19-rand-80-sent teen die euro en 22-rand-59-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 92-duisend-193-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-265-dollar-99-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 61-dollar-44-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….