Nuus 07:00
BULLETIN 10 Desember 7 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Gwede Mantashe sê hy sal nie beskikbaar wees vir ‘n leiersposisie by die ANC-verkiesingskonferensie in 2027 nie
# Staatsamptenare steun Ramaphosa se oproep om die uitkontraktering van basiese regeringsfunksies te beëindig
# En krieket: Indië wen die T20-reeks-openingswedstryd teen Suid-Afrika
# ANC-voorsitter Gwede Mantashe waarsku teen voortydige bespiegelings oor president Cyril Ramaphosa se opvolger wanneer sy termyn in 2027 verstryk. Adjunkpresident Paul Mashatile en sekretaris-generaal Fikile Mbalula word as moontlike opvolgers beskou. Mantashe het gister by die Nasionale Algemene Raad in Boksburg, Ekurhuleni, gesê hy sal nie beskikbaar wees vir leierskapbenoemings by die ANC se 2027 nasionale verkiesingskonferensie nie:
# Die minister van Vervoer, Barbara Creecy, sê voortgesette hervormings verminder logistieke koste en maak Suid-Afrika se ekonomie meer mededingend. In ‘n toespraak in aanloop tot die Wêreld Ekonomiese Forum wat in Januarie in Davos, Switserland, plaasvind, het Creecy verwys na tasbare vordering, insluitend die vervoer van 174-miljoen-ton vrag op Transnet en vinniger hawe-omkeertye. Creecy sê sigbare lewering is Suid-Afrika se geldeenheid vir geloofwaardigheid. Sy het ook ekonomiese hervormings en verbeterde logistiek uitgelig:
# Die Vereniging van Staatsamptenare ondersteun president Cyril Ramaphosa se oproep om die uitkontraktering van basiese regeringsdienste te beëindig. Die vakbond sê die terugbring van take soos skoonmaak, sekuriteit, spyseniering en administrasie na regeringsbeheer sal doeltreffendheid verbeter, aanspreeklikheid verhoog en veilige, regverdig-betaalde werksgeleenthede skep. Claude Naiker van die vereniging sê uitkontraktering word lank reeds verbind met hoër koste, diensverdubbeling en korrupsie.
# Die Spesiale Ondersoekeenheid het ‘n bewaringsbevel gekry om ʼn luukse eiendom en ʼn voertuig van ʼn Eskom-werker en sy gesin in Bendor, Polokwane, te vries. Dit gaan oor ʼn ondersoek na ʼn beweerde omkoop- en korrupsieskema. ʼn Eskom-landmeter en projekbestuurder, Johannes Seroke Mfalapitsa en sy familie, het na bewering sowat agt-miljoen-rand se betalings ontvang van maatskappye wat onregmatig begunstig is in ʼn tender van 54-miljoen-rand. Die ondersoekeenheid sê Mfalapitsa het verskeie teenstrydige rolle gespeel in die tenderproses, in regstreekse oortreding van Eskom se beleid oor konflik van belange.
# President Donald Trump van Amerika het Europese leiers gekritiseer en as swak beskryf. Hy sê hulle sukkel met immigrasie-druk en die beëindiging van Rusland se oorlog teen Oekraïne. Sy opmerkings volg ná die bekendstelling van ʼn nuwe Amerikaanse nasionale veiligheidstrategie waarin Europa beskuldig word van oorregulering, dalende selfvertroue en dat beskawing deur immigrasie uitgewis word. In ʼn omvattende onderhoud met Politico, sê Trump al wat hy wil sien, is ʼn sterk Europa:
# Krieket: Indië het Suid-Afrika met 101 lopies verslaan in die eerste T20 by die Barabati-stadion in Cuttack, en loop met 1-0 voor in die reeks van vyf wedstryde. Hardik Pandya het ʼn onoorwonne 59 aangeteken en die gashere het in hul 20 boulbeurte 175 vir ses behaal. Lungi Ngidi het drie paaltjies platgetrek. Daarna het Jasprit Bumrah twee paaltjies geneem en die tweede Indiër geword wat 100 paaltjies laat kantel. Die Proteas is tot 74 beperk wat hul laagste T20-totaal is. Die tweede wedstryd vind môre in Chandigarh plaas.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-4-sent teen die dollar, 19-rand-81-sent teen die euro en 22-rand-66-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 92-duisend-152-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-216-dollar-38-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 61-dollar-86-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….