Nuus 07:00
BULLETIN 22 Julie 7 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die DA sê minister Pule het nie ‘n geloofwaardige plan om SASSA reg te ruk nie
# Minister Gwarube bespreek befondste poste en onderrigvermoë met die Tesourie
# En motorsport: Die voormalige MotoGP-wêreldkampioen verlaat Yamaha vir Honda
# Die DA sê die pas aangestelde minister van Maatskaplike Ontwikkeling, Dina Pule, se eerste mediakonferensie het min besonderhede maar baie beloftes bevat. Die minister sê die regering gaan meer as 350-duisend maatskaplike toelaes hersien om die integriteit van die stelsel vir maatskaplike bystand te beskerm en sowat 1,5-miljard-rand vir die staatskas te bespaar. Nazley Sharif van die DA sê Pule het min gedoen om Suid-Afrikaners te oortuig dat sy ‘n werkbare plan het om haar departement of die Suid-Afrikaanse Agentskap vir Maatskaplike Sekerheid reg te ruk:
# Die kommissie vir kultuur-, godsdiens- en taalregte het ʼn ondersoek begin na die oorsake van sterftes in die winter-inisiasieseisoen. Drie-en-veertig jongmans is dood, 12 is ontvoer, 75 is in die hospitaal opgeneem, 180 is gered, daar is afgekom op 58 onwettige inisiasieskole, 150 strafregtelike sake is aanhangig gemaak en 40 mense is gearresteer. Die kommissie se ondervoorsitter, George Mahlangu, sê die ondersoek sal bepaal of die Wet op Gebruiklike Inisiasie behoorlik toegepas word en gapings in die regulering van inisiasieskole identifiseer:
# Die minister van Basiese Onderwys, Siviwe Gwarube, sê die departement onderhandel met provinsies en die Nasionale Tesourie oor die uitwerking van fiskale druk op befondste poste en onderrigvermoë. Teen die einde van Januarie vanjaar was 17-duisend-450 van die 389-duisend-286 toegekende poste nie gevul nie. Gwarube sê onderwysposte wat deur goedgekeurde provinsiale instellings toegeken is, is veronderstel om befondste poste te wees, maar die Pos-voorsieningsnorme het nie voorsiening gemaak vir die toekenning van onbefondste poste nie. Sy sê die departement hersien dringend die Pos-voorsieningsnorme.
# Die Stad Kaapstad het meer as ses-miljard-rand opsygesit om elektrisiteitsinfrastruktuur oor die volgende drie jaar op te gradeer en die betroubaarheid van kragvoorsiening te verbeter. Die geld sal gebruik word om die elektrisiteitsnetwerk op te gradeer, skoonenergieprojekte uit te brei, straatbeligting te verbeter, energiesekerheid te versterk en die afhanklikheid van Eskom te verminder. Die burgemeesterskomiteelid vir Energie, Xanthea Limberg, sê die stad het ook die gemiddelde residensiële elektrisiteitstariefverhoging tot 6,64-persent beperk:
# Israel se minister van Finansies, Bezalel Smotrich, sê sy land stel nie belang om by Amerika se hernude veldtog teen Iran betrokke te raak nie. Israel en Amerika het op 28 Februarie met gekoördineerde aanvalle op Teheran begin, waarna Iran gereageer het met aanvalle op Amerikaanse weermagbasisse in die Midde-Ooste. Smotrich sê die huidige oorlog en volgehoue ekonomiese druk op Iran bevoordeel Israel. Hy sê Israel se uiteindelike doel, wat nie noodwendig Amerika sʼn is nie, is om die regime in Iran te ondermyn en te verswak en uiteindelik omver te werp.
# Motorsport: Die voormalige MotoGP-wêreldkampioen, Fabio Quartararo hoop om sy loopbaan weer op dreef te kry met die aankondiging dat hy na agt seisoene Yamaha verlaat om by Honda aan te sluit. Die 27-jarige het die titel in 2021 gewen en is die eerste Fransman ooit wat as wêreldkampioen gekroon is. Die volgende jaar het hy tweede geëindig, maar het daarna gesukkel. Hy het ‘n tweejaarkontrak met Honda onderteken wat volgende jaar in werking tree en sal vir die Honda HRC-span op ‘n 850cc-fiets jaag. Quartararo is tans 14de op die wêreldranglys.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-45-sent teen die dollar, 18-rand-75-sent teen die euro en 22-rand-1-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 66-duisend-393-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-118-dollar-23-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 89-dollar-74-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….