Nuus 07:00
BULLETIN 24 Januarie 7 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die DA vra president Ramaphosa se ingryping te midde van ‘n vertraging met voëlgriep-entstof
# Die EFF sê die Departement Hoër Onderwys en NSFAS is nie gereed vir die akademiese jaar nie
# En, die Wêreldvoedselprogram waarsku teen die toenemende gevaar van hongersnood in die Gaza-strook
# Die DA vra president Cyril Ramaphosa om in te gryp by die vertragings wat die Departement van Landbou, Grondhervorming en Landelike Ontwikkeling ondervind met die uitrol van entstowwe vir voëlgriep, wat die pluimveebedryf raak. Die party kritiseer die huidige van-kant-maak–benadering en sê dit het nie daarin geslaag om die uitbreking te beperk nie, maar wel ekonomiese verliese en kommer oor dierewelsyn tot gevolg gehad het. Noko Masipa van die DA vra die regering om voorkeur te gee aan die lewensbestaan van pluimveeboere en billike vergoeding, insluitend voedselsekerheid, te verseker:
# Die EFF glo die Departement van Hoër Onderwys en die Nasionale Finansiële Hulpskema vir Studente is nie behoorlik voorberei om studente vir die 2024- akademiese jaar te ontvang nie. Die skema het sedert die 21ste van hierdie maand 1,5-miljoen aansoeke ontvang waarvan hy voorlopig 657-duisend-703 goedgekeur het. Die EFF het gister met minister Blade Nzimande vergader. Die party sê hy is veral bekommerd oor die vermoë om studentetoelaes te betaal en die voortslepende dooiepunt weens die onregmatige aanstelling van vier diensverskaffers.
# Die Regterlike Gedragstribunaal het beveel die verhoor teen regter Nana Makhubele moet voortgaan, met of sonder regsverteenwoordiging. Die Regterlike Gedragskomitee ondersoek bewerings van wangedrag na ‘n klagte deur Unite Behind in 2019. Die voormalige voorsitter van die Passasierspooragentskap, PRASA, word daarvan beskuldig dat sy as die voorsitter van die raad opgetree het terwyl sy as regter van die Noord-Gautengse Hooggeregshof gedien het. Sy is ook deur die Staatskapingskommissie betrek dat sy na bewering haar invloed gebruik het om die belange van die maatskappy, Siyaya, te bevorder, wat by korrupsie by PRASA betrek is.
# Die ondersoekkommissie na die brand in die Usindiso-gebou het beslis ooggetuies van die brand se getuienis is ontoelaatbaar en amptenare wat die dodelike brand ondersoek, mag dit nie teen hulle gebruik nie. Dit volg nadat ʼn man wat as Meneer X bekend staan, vrywillig in camera getuig het hy het verlede jaar die brand in die Usindiso-gebou in die Johannesburgse middestad gestig. Hy sê hy het die brand, wat 76 lewens geëis het, op die grondvloer gestig om ʼn moord wat hy gepleeg het, te verbloem.
# Die Wêreldvoedselprogram waarsku dat die Gaza-strook se bevolking ʼn toenemende gevaar van hongersnood in die gesig staar terwyl die Israel-Hamas-oorlog voortduur. ʼn Studie wat verlede jaar tussen 24 November en 7 Desember uitgevoer is, toon die 2,2-miljoen mense in die Palestynse gebied beleef ernstige vlakke van voedselonsekerheid. Minstens 25-duisend-490 mense, hoofsaaklik vroue en kinders, is in Gaza dood terwyl Hamas een-duisend-300 mense, hoofsaaklik burgerlikes, in Israel vermoor het. Abeer Etefa van die voedselprogram verduidelik die huidige situasie in Gaza:
# Krieket: Durban’s Super Giants het ʼn bonuspunt-oorwinning behaal toe hulle MI Cape Town met 36 lopies verslaan het in hulle SA20-wedstryd op Nuweland in Kaapstad. Matthew Breetzke het 48 aangeteken as deel van die besoekers se 157 vir ses op die telbord. Die tuisspan is daarna tot 121 vir nege beperk met Noor Ahmad en Marcus Stoinis wat elkeen drie paaltjies platgetrek het. Danksy hierdie oorwinning is die Super Giants nou tweede op die punteleer, maar afrigter Lance Klusener sê hulle kolfwerk moet steeds verbeter:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 19-rand-4-sent teen die dollar, 20-rand-68-sent teen die euro en 24-rand-17-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 39-duisend-796-dollar-73-sent. Die prys van goud is twee-duisend-26-dollar-7-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 79-dollar-64-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….