Nuus 07:00
BULLETIN 8 Desember 7 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Fikile Mbalula sê personeel wat nie hul salarisse ontvang nie stel die ANC in ’n swak lig
# Saai stig ‘n vereniging vir Suid-Afrikaners om werk in die VSA te vind
# En motorsport: Lando Norris wen die F1-wêreldtitel vir die eerste keer
# Die ANC se sekretaris-generaal Fikile Mbalula sê die party se personeel is uiteindelik betaal, maar erken die kwessies stel die organisasie in ‘n swak lig. Werkers by die ANC-hoofkantoor in Luthuli-huis en sommige in provinsies se salarisse is in November weer laat betaal, terwyl pensioenfonds- en mediesefondsbydraes ook nie betaal is nie. Mbalula sê hulle gaan fondse insamel om maandelikse uitgawes van meer as 20-miljoen-rand te dek:
# Die EFF vra versterkte, onafhanklike getuienisbeskerming sonder politieke en misdadige inmenging. Dit volg na die moord op Marius van der Merwe, wat verlede maand as Getuie D voor die Madlanga-ondersoekkommissie getuig het. Hy is Vrydagaand buite sy huis in Brakpan, Gauteng, doodgeskiet. Van der Merwe het in sy getuienis die geskorste adjunkhoof van die Ekurhuleni-metropolisie, Julius Mkhwanazi, en privaat veiligheidspersoneel by geweldsmisdade betrek. Die EFF sê streng veiligheidsmaatreëls vir alle getuies by die kommissie is noodsaaklik.
# Die familieboerderynetwerk Saai het ‘n vereniging gestig vir agentskappe wat Suid-Afrikaners help om werk op plase in Amerika te vind. Saai se raadsvoorsitter, Theo de Jager, sê die vereniging, H2A Agency Association of H2AAA, wil die integriteit van die beroep en die geleenthede wat jaarliks aan Suid-Afrikaners en plaaswerkers van elders in die wêreld beskikbaar gestel word, beskerm en bevorder:
# Die Vryheidsfront Plus eis dat die moordenaars van Babita Deokaran, Cloete Murray en sy seun Thomas, Marius van der Merwe en ander verklikkers aangekeer en vervolg word. Van der Merwe, ‘n voormalige Ekurhuleni-metropolisiebeampte en gerespekteerde gemeenskapsleier, is oor die naweek vermoor – kort na sy getuienis voor die Madlanga-kommissie waar hy korrupsie en misdaadverbintenisse blootgelê het. Die VF Plus sê Van der Merwe het ‘n deurslaggewende rol gespeel in die bekamping van misdaad en onwettige mynbou, veral in Plastic City, en was geliefd in sy gemeenskap.
# Die regering van Benin sê hy het ʼn klein groepie soldate se staatsgreeppoging afgeweer. Die groep wat homself die Militêre Komitee vir Herstigting noem, het die naweek op die staatstelevisie verskyn en beweer hulle het president Patrice Talon ontsetel. Veertien mense is in verband met die poging gearresteer. Benin se minister van Binnelandse Sake, Alassane Seidou, sê lojale soldate kon die situasie red en die poging het misluk. Dis die jongste in ʼn reeks militêre oornames wat Wes-Afrika geruk het.
# Motorsport: McLaren-renjaer Lando Norris het sy eerste Formule Een-bestuurderstitel opgeraap toe hy derde geëindig het in die seisoen se laaste wedren by die Abu Dhabi Grand Prix. Die 26-jarige renjaer is die eerste McLaren-wêreldkampioen in 17 jaar en die elfde Britse renjaer wat die kroon dra. Max Verstappen van Red Bull het die wedren gewen en spog met sy agste oorwinning van die seisoen, terwyl Norris se spanmaat Oscar Piastri tweede klaargemaak het. Norris sê dis wonderlik dat sy droom om die kampioenskap ná ʼn lang, taai seisoen te wen, waar geword het:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-92-sent teen die dollar, 19-rand-72-sent teen die euro en 22-rand-57-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 91-duisend-96-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-204-dollar-99-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 63-dollar-56-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….