Nuus 07:00
BULLETIN 4 Desember 7 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die EFF beskuldig die minister van Hoër Onderwys van meineed
# TLU SA skryf ’n brief aan president Ramaphosa
# En rugby: Die Bokke en All Blacks kan in die kwarteindstryd van die 2027 Wêreldbeker kragte meet
# Die EFF het by die Openbare Beskermer ‘n klag van meineed en onbehoorlike gedrag teen die minister van Hoër Onderwys en Opleiding, Buti Manamela, ingedien. Hy het ook ʼn strafregtelike saak by die polisie aanhangig gemaak. Die EFF beweer Manamela het ʼn beëdigde verklaring met teenstrydighede in by die hof en die Parlement ingedien. Dit hou verband met die vraag of hy met die Nasionale Vaardigheidsowerheid beraadslaag het voordat drie sektorale onderwys-en-opleidingsowerhede onder administrasie geplaas is. Sihle Lonzi van die EFF sê Manamela moet aanspreeklik gehou word:
# Die landbou-organisasie, TLU SA, het ʼn ope brief aan president Cyril Ramaphosa geskryf en kommer uitgespreek oor die huidige stand van sake in Suid-Afrika. Die brief beklemtoon onder meer die hoë misdaadvlakke, insluitend plaasmoorde, korrupsie en werkloosheid. Bennie van Zyl van TLU SA sê Ramaphosa moet plaasaanvalle ʼn prioriteitsmisdaad verklaar en die misbruik van wetgewing oor swart ekonomiese bemagtiging stop:
# Die uitbetalings aan diegene wat geld in die Ithala-bank in KwaZulu-Natal gehad het, sal op 8 Desember begin. Die Nasionale Tesourie het tot 2,2-miljard-rand opsy gesit om te verseker die geld word veilig terugbetaal. Betalings sal deur FNB verwerk word. Die Tesourie werk nou saam met die plaaslike regering en Prudential Authority om toesig te hou oor die uitbetaling. Die provinsiale regeringswoordvoerder, Bongani Gina, sê mense het tyd tot 2028 om hul geld te eis, en bestaande lening-terugbetalings aan Ithala moet voortgaan:
# Die Israelse Weermag sê hy het die liggaam van nog ʼn gyselaar van Hamas en die Palestynse Islamitiese Djihad ontvang as deel van die skietstilstand-ooreenkoms en uitruiling van gevangenes. Israel hou vol daar is nog twee gyselaars se liggame in Gaza en sê een van die liggame wat Hamas Dinsdag oorhandig het, is nie een van sy gevangenes nie. Tot dusver is die oorskot van 23 Israelse gyselaars teruggegee, waaronder drie van Thailand, Nepal en Tanzanië.
# Rugby: Die twee beste spanne in die wêreld, Suid-Afrika en Nieu-Seeland, kan in die kwarteindronde van die 2027 Wêreldbekertoernooi in Australië teen mekaar te staan kom. Dit volg na die trekking gister wat die Springbokke in Groep B plaas, saam met Italië, Georgië en Roemenië. Die All Blacks en Australië, die gashere, en Chili en Hongkong China is in Groep A. Die vooruitsig dat die finaliste van die vorige wêreldbeker teen mekaar in die kwarteindronde speel, word beskryf as iets wat niemand wou hê nie. Die toernooi duur van 1 Oktober tot 13 November 2027.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-4-sent teen die dollar, 19-rand-87-sent teen die euro en 22-rand-73-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 93-duisend-226-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-214-dollar-16-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 62-dollar-67-sent per vat.
# En ten skotte: Vier jong Suid-Afrikaanse wetenskaplikes gaan volgende week hul bekroonde vernuwende projekte by die Wêreld-wetenskapprojek-olimpiade in Bali, Indonesië, tentoonstel. Die kompetisie bring jong wetenskaplikes van reg oor die wêreld byeen om hul navorsing, vernuwende idees en wetenskaplike projekte uit te stal. Die vier is die graad 12-leerder, Dzunisa Chauke van Khanyisa Education Centre, graad 11-leerders Milla Vorster en Ismaail Hassen van onderskeidelik Curro Durbanville en Greenside High School, en Albertus Willem van Niekerk, ʼn graad 10-leerder van Paul Roos Gimnasium op Stellenbosch.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….