Nuus 07:00
BULLETIN 1 Desember 7 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# President Ramaphosa sê die VSA se standpunt oor wit volksmoord in Suid-Afrika is blatante waninligting
# Benjamin Netanyahu het die Israelse president om kwytskelding gevra in sy korrupsiesaak
# En rugby: Die Blitsbokke eindig vyfde by die Dubai Sewes
# President Cyril Ramaphosa sê ten spyte van die uitdagings en misverstande wat ontstaan het, bly Suid-Afrika ‘n goeie vriend van die Amerikaanse mense. Hy sê dis jammer Amerika het nie aan die G20-leiersberaad deelgeneem nie. Ramaphosa sê die redes wat Amerika aangevoer het, is gebaseer op vals bewerings dat Suid-Afrika volksmoord teen Afrikaners pleeg en wit mense se grond afvat:
# Die kommissaris van die Suid-Afrikaanse Inkomstediens, Edward Kieswetter, wie se termyn in Mei 2026 verstryk, dring aan dat sy opvolger bekwaam en integriteitgedrewe moet wees. Kieswetter het die Kathy-toekenning van die Ahmed Kathrada-stigting ontvang en het in ‘n onderhoud met Newzroom Afrika gewaarsku ‘n verkeerde aanstelling kan jare se bou aan die instelling en openbare vertroue ondermyn. Hy het die belangrikheid beklemtoon om Suid-Afrika se belange bo persoonlike gewin te prioritiseer om die SAID se integriteit te beskerm:
# Die Minister van Basiese Onderwys, Siviwe Gwarube, sal vandag die Onderwysuitkomstefonds van 496-miljoen-rand in Midrand, Gauteng, bekendstel, wat daarop gemik is om toegang tot hoë gehalte vroeëkinderversorging en -onderwys uit te brei. Die woordvoerder van die ministerie, Terence Khala, sê die inisiatief sal hoë-impakprogramme verbeter, verskaffervermoëns versterk en vroeë leeruitkomste verbeter. Hy sê die gebruik van uitkomsgebaseerde befondsing kan hulpbronne na bewese ingrypings stuur en die professionalisering van vroeë kinderontwikkelingspraktisyns ondersteun:
# Israel se eerste minister Benjamin Netanyahu het president Isaac Herzog vir amptelike kwytskelding in sy voortgesette korrupsiesaak gevra. Hy staan die afgelope vyf jaar in drie aparte sake tereg op aanklagte van omkopery, bedrog en misbruik van vertroue. Netanyahu sê in ʼn brief aan Herzog dis in sy persoonlike belang om sy onskuld in die sake te bewys, maar die openbare belang skryf anders voor. Hy sê kwytskelding sal Israel help om dreigemente af te weer en geleenthede aan te gryp deur nasionale eenheid te bevorder.
# Rugby: Die Springbok-sewespan het vyfde gekom by die Dubai-sewes. Suid-Afrika het Groot-Brittanje met 34-0 afgeransel en Spanje met 21-12. Intussen het Nieu-Seeland Australië met 26-22 geklop om die toernooi te wen terwyl Fidji derde is nadat hy Frankryk met 24-7 verslaan het. Die Blitsbokke se afrigter, Philip Snyman, sê hulle het nie volgens hul eie verwagting presteer nie, maar beklemtoon hulle sal die naweek in die Kaapstad Sewes daarvoor opmaak:
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-11-sent teen die dollar, 19-rand-87-sent teen die euro en 22-rand-66-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 87-duisend-467-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-237-dollar-20-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 62-dollar-95-sent per vat.
# En ten slotte: Dis vandag Wêreld-vigsdag met die tema Oorkom ontwrigting, hervorming die Vigs-reaksie. In 2024 het ʼn geraamde 40,8-miljoen mense wêreldwyd met Vigs gelewe terwyl sowat 630-duisend mense in dieselfde tydperk aan Vigs-verwante oorsake dood is. In Suid-Afrika sal adjunkpresident Paul Mashatile, in sy hoedanigheid as voorsitter van die Suid-Afrikaanse Nasionale Vigsraad, die nasionale herdenking in Limpopo lei. Volgens die Verenigde Nasies se Program oor MIV/Vigs is sowat 7,9-miljoen mense in Suid-Afrika MIV-positief.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….