Nuus 07:00
BULLETIN 27 November 7 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Donald Trump sê Suid-Afrika sal nie na die G20-leiersberaad in 2026 genooi word nie
# Die MK-party gaan vandag strafregtelike sake teen Mary de Haas en Paul O’Sullivan indien
# En daar is bevestiging van ‘n staatsgreep in Guinee-Bissau
# President Donald Trump van Amerika sê Suid-Afrika sal nie na volgende jaar se G20-leiersberaad in Florida genooi word nie. Amerika, wat die G20-presidentskap by Suid-Afrika oorgeneem het, het verlede week se beraad in Johannesburg geboikot nadat Trump volgens berigte beweer daar is ‘n volksmoord teen Afrikaners. Trump sê op Truth Social Suid-Afrika het aan die wêreld bewys hy is nie ʼn land wat G20-lidmaatskap waardig is nie. Hy sê Amerika sal ook met onmiddellike ingang alle betalings en subsidies aan Suid-Afrika staak.
# Die Minister van Landbou, John Steenhuisen, sê die huidige bek-en-klouseer-uitbreking het ‘n ernstige uitwerking op boere, veral in KwaZulu-Natal, waar die meeste onopgeloste uitbrekings voorkom. Ten spyte van uitgebreide inentingspogings, belemmer onbeheerde dierebewegings vordering. Die departement verskerp inperking, brei entstofvoorraad uit en werk saam met die bedryf en internasionale vennote. Beyers Smit van die DA sê Steenhuisen belowe voortgesette steun vir boere wat geraak word en versterkte nasionale biosekuriteitspogings:
# Die MK-party gaan vandag strafregtelike sake teen menseregte-navorser, Mary de Haas en forensiese ondersoeker, Paul O’Sullivan by die Kaapstad-Sentraal-polisiestasie aanhangig maak. De Haas word daarvan beskuldig dat sy haar akademiese kwalifikasies voor die Parlement wanvoorgestel het, terwyl O’Sullivan aangekla word oor dreigende boodskappe om parlementêre getuies te intimideer. Die woordvoerder van die MK-party, Nhlamulo Ndhlela sê die optrede beoog om getuies te beskerm en die integriteit van parlementêre toesig te handhaaf:
# Die adjunkminister van Indiensneming en Arbeid, Jomo Sibiya, sê hy glo die verslag oor die gebou wat in George ineengestort het, sal daartoe lei dat diegene wat verantwoordelik was vir gebreke in beroepsgesondheid en veiligheid, aanspreeklik gehou word. Vier-en-dertig werkers is dood en 28 beseer toe dit verlede jaar in Mei ineengestort het. Die departement het die Parlement ingelig oor sy verslag, wat daarop dui dat die werkgewers strafregtelik aanspreeklik is. Sibiya sê die ondersoekverslag en toepaslike dokumente is aan die Nasionale Vervolgingsgesag oorhandig.
# ʼn Groep militêre offisiere het gister verklaar dat hulle totale beheer oor Guinee-Bissau geneem het, slegs drie dae na die land se presidensiële en wetgewende verkiesing. Die uitslag word vandag verwag, maar die twee sterkste kandidate, president Umaro Sissoco Embaló en sy naaste teenstander, Fernando Dias, het albei reeds ʼn oorwinning verklaar. Die militêre offisiere sê hulle het die verkiesingsproses opgeskort en sal tot verdere kennisgewing in beheer bly. Daar was al twee pogings om Embaló uit die kussings te lig, die laaste een in Desember 2023.
# Krieket: Indië se hoofafrigter, Gautam Gambhir, sê die finale besluit oor sy termyn berus by die Indiese Krieketbeheerraad. Suid-Afrika het gister die tweede toets met 408 lopies gewen in Indië se grootste lopie-nederlaag, en ʼn geskiedkundige 2-0-reeksoorwinning in Guwahati behaal. Dis Indië se tweede tuisreeks-nederlaag in twee jaar nadat hulle verlede jaar teen Nieu-Seeland ook die knie moes buig. Gambhir sê die besluite wat tydens die reeks geneem is, was in die span se beste belang:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-12-sent teen die dollar, 19-rand-87-sent teen die euro en 22-rand-69-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 90-duisend-678-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-153-dollar-44-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 62-dollar-10-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….