Nuus 07:00
BULLETIN 26 November 7 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Adjunkpresident Mashatile sê die regering werk daaraan om munisipale verantwoordbaarheid te verbeter
# Minister Willie Aucamp sê Suid-Afrika is gereed om die COP30-besluite toe te pas
# En krieket: Suid-Afrika is in ‘n uitdagende groep vir die 2026 T20-wêreldbeker
# Adjunkpresident Paul Mashatile sê deur die Skoon Stede en Dorpe-veldtog probeer die regering dienslewering en munisipale aanspreeklikheid verbeter. Hy het gister vrae in die Nasionale Raad van Provinsies geantwoord. Munisipale skuld aan Eskom beloop meer as 96-miljard-rand, terwyl munisipale skuld aan waterrade op sowat 21,1-miljard-rand staan. Mashatile sê die regering het die Verspreidingsagentskap-ooreenkoms bekendgestel wat sukkelende munisipaliteite toelaat om saam met Eskom te werk vir langtermyn-volhoubaarheid:
# Die minister van Bosbou, Visserye en die Omgewing, Willie Aucamp, sê Suid-Afrika is gereed om die besluite wat tydens die Verenigde Nasies se 30ste klimaatsveranderingskonferensie in Belem, Brasilië, geneem is, te implementeer. Daar is by die konferensie ooreengekom oor nuwe klimaatsplanne, meer klimaatsbefondsing en ondersteuning vir ‘n billike oorgang na skoner energie. Aucamp het bygevoeg dat Suid-Afrika sy eie klimaatinstrumente sal gebruik om hierdie doelwitte te bereik en met ander lande sal saamwerk om klimaatsverandering te beveg:
# Build One South Africa sê meer as 32-duisend onderwysers het die beroep die afgelope vyf jaar verlaat. Die minister van Basiese Onderwys, Siviwe Gwarube, het bevestig dat meer as 30-duisend onderwysers bedank het en meer as een-duisend-200 afgedank is, as gevolg van aftrede, loopbaanveranderinge, migrasie en swaar werklas. Die woordvoerder van BOSA, Roger Solomons sê klaskamers is oorvol, met meer as die helfte van laerskoolleerders in klasse van meer as 40 leerlinge. Solomons doen ‘n beroep op die onmiddellike aanstelling van gekwalifiseerde onderwysers en strategieë om personeel te behou, werksomstandighede te verbeter en uitputting te verminder.
# Die DA doen ‘n beroep op burgemeester Nasiphi Moya om dringend die Stad Tshwane se weiering vir die hersiening van ‘n terugwerkende salarisverhoging van twee-miljard-rand aan personeel te heroorweeg. Die DA-burgemeesterskandidaat Cilliers Brink voer aan dat die Stad nie die betaling kan bekostig nie en waarsku oor ‘n dreigende kontantvloeikrisis wat vier-miljoen inwoners raak. Met die naderende sperdatum van 14 Desember, sê Brink litigasie is nodig. Hy beklemtoon dat die Stad ‘n verpligting het teenoor inwoners wat belasting, tariewe en heffings betaal:
# Die Withuis sê ten spyte van geweldige vordering na ‘n vredesooreenkoms, moet verdere onderhandelinge tussen Oekraïne, Rusland en Amerika plaasvind. Leiers in Kiëf en Europa het die aanvanklike Amerikaanse vredesplan van 28 punte wat verlede week voorgelê is, gekritiseer en gesê dit bevoordeel Rusland. Die Withuis sê Oekraïne se belangrikste bekommernisse, insluitend veiligheidswaarborge, is deeglik aangespreek ná hersiening en verduidelikings oor die naweek. Hy sê daar is ʼn paar fyner maar oorkombare besonderhede wat nog aandag moet kry.
# Krieket: Suid-Afrika is in Groep D saam met Nieu-Seeland, Afghanistan, Kanada en die Verenigde Arabiese Emirate vir die 2026 Mans-T20-wêreldbeker wat Indië en Sri Lanka aanbied. Die Proteas skop hul toernooi op 9 Februarie in Ahmadabad af met ʼn kragmeting teen Kanada. Indië, die verdedigende kampioene, is in Groep A saam met die 2009-wenners Pakistan, Namibië, Nederland en die Verenigde State. Groep B bestaan uit Australië, Ierland, Sri Lanka, Zimbabwe en Oman. Die tweemalige kampioene, Engeland, is in Groep C saam met Bangladesj, die nuwelinge Italië, Nepal en die Wes-Indies.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-18-sent teen die dollar, 19-rand-88-sent teen die euro en 22-rand-63-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 87-duisend-378-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-140-dollar-90-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 61-dollar-94-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….