Nuus 07:00
BULLETIN 23 Januarie 7 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Adjunkpresident Paul Mashatile ontmoet vandag die Hertog van Edinburgh
# Die SAID-sperdatum is op hande vir voorlopige belastingbetalers om opgawes in te dien
# En, Donald Trump is die gunsteling om die Republikeinse voorverkiesing in New Hampshire te wen
# Adjunkpresident Paul Mashatile ontmoet vandag die Hertog van Edinburgh, prins Edward, in Pretoria. Hy is tans op ‘n werksbesoek aan Suid-Afrika. Die hertog se besoek volg ná president Cyril Ramaphosa se staatsbesoek aan die Verenigde Koninkryk in 2022. Die presidensie sê die besoek dui op die sterk bilaterale verhouding tussen die Verenigde Koninkryk en Suid-Afrika. Die Britse Hoë Kommissariaat se ekonomiese raadgewer, Mike Foster, het aan die SABC gesê die verhouding tussen die twee lande is belangrik:
# AfriForum sê die Wysigingswetsontwerp op die Nasionale Vervolgingsgesag bevat nie naasteby genoeg maatreëls om die huidige probleme by die NVG te takel nie. Die wetsontwerp wat tans voor die Nasionale Raad van Provinsies is, sal die NVG-wet wysig om ʼn permanente Ondersoekdirektoraat teen Korrupsie te vestig, sy magte en funksies uiteen te sit, en dit moontlik maak dat ondersoekers aangestel word. AfriForum sê in sy geskrewe voorlegging die wetsontwerp maak nie voorsiening vir parlementêre oorsig nie, wat die gevaar van politieke inmengery vergroot.
# Die Suid-Afrikaanse Inkomstediens het voorlopige belastingbetalers versoek om inkomstebelastingopgawes teen 24 Januarie in te dien. Die diens beklemtoon voldoening aan spesifieke inkomste-vereistes is noodsaaklik om as ‘n voorlopige belastingbetaler beskou te word. Trusts, ongeag ekonomiese bedrywighede, moet sedert 2023 ook jaarliks inkomstebelastingopgawes met verpligte stawende dokumente indien. Die diens het die proses vaartbelyn gemaak deur verbeterde aanlynplasing op sy e-platform. Dit vereis dat voorlopige belastingbetalers hul volle belastingjaar se belasbare inkomste voor indiening moet vooruitskat.
# Gauteng se portefeuljekomitee op Gemeenskapsveiligheid het pro-aktiewe oorsig vir skoolveiligheid beloof aan die begin van die nuwe skooljaar. Die fokus is op gesamentlike pogings met staatsdepartemente, wetstoepassing en gemeenskappe om onderwysers en leerders se veiligheid te verseker. Die komitee beplan ‘n fokus-ingrypingstudie oor skoolveiligheids-regulasies. Voorsitter Bandile Masuku het die uitgaande provinsiale Polisie-kommissaris, Elias Malewa, bedank vir sy diens en toewyding teen misdaad-uitdagings:
# Oudpresident Donald Trump van Amerika het in aanloop tot die Republikeinse voorverkiesing vandag in New Hampshire ʼn groot voorsprong bo Nikki Haley, wat sy enigste oorblywende teenstander is. ʼn Washington Post-Monmouth University-meningspeiling het bevind 52-persent van die kiesers steun Trump, terwyl 34-persent vir Haley sal stem. Trump se ondersteuning in die staat het sedert November verlede jaar met ses-persentasiepunte gegroei. New Hampshire het in 2008, 2012 en 2016 voorspel wie die Republikeinse benoeming gaan wees.
# Krieket: SA20 se verdedigende kampioene, Sunrisers Eastern Cape, het in Gqeberha ʼn oorweldigende bonuspunt-oorwinning van nege paaltjies behaal oor verlede seisoen se naaswenners, Pretoria Capitals. Ottniel Baartman het die beste prestasie van sy SA20-loopbaan behaal toe hy vier paaltjies vir net 12 lopies platgetrek het, met die Capitals almal uit vir ʼn rekord-lae 52. In antwoord hierop het Jordan Hermann en Tom Abell daarna ‘n onoorwonne tweede paaltjie-vennootskap van 50 lopies aangeteken met die Sunrisers wat die wenlopies aangeteken het met nog 79 balle oor. Baartman sê hierdie indrukwekkende oorwinning gee die span ʼn groot hupstoot:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 19-rand-14-sent teen die dollar, 20-rand-86-sent teen die euro en 24-rand-37-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 39-duisend-916-dollar-56-sent. Die prys van goud is twee-duisend-22-dollar-73-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 79-dollar-91-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….