Nuus 07:00
BULLETIN 25 November 7 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Oekraïnse ambassadeur sê hulle help die families van die 17 mans wat in Donbas vasgekeer is
# AfriForum sê Suid-Afrika se watersekerheid word bedreig deur munisipale wanbestuur
# En Nigerië en die VSA versterk hul veiligheidsamewerking
# Oekraïne se ambassadeur in Suid-Afrika, Olexander Scherba, het herhaal dat die 17 mans wat met beloftes van winsgewende indiensnemingskontrakte gelok is, nie vir Kiëf veg nie. Die groep Suid-Afrikaanse mans is in die brandpunt van gevegte in Oekraïne se Donbas-streek vasgekeer. Dis onwettig vir Suid-Afrikaners om by ander lande se weermag aan te sluit, tensy hulle toestemming van die regering het. Scherba het aan Newzroom Afrika gesê sedert die nuus bekend geword het, het hy e-posse van die mans se families ontvang:
Intussen het die voorsitter van die Parlementêre Portefeuljekomitee oor Internasionale Betrekkinge en Samewerking, Supra Mahumapelo, sy goedkeuring uitgespreek vir die SAPD se ondersoek na 17 Suid-Afrikaners in Oekraïne. Die mans is na bewering deur Duduzile Zuma-Sambudla van die MK-party gewerf. Mahumapelo sê die komitee sal duidelikheid van die Departement van Internasionale Betrekkinge en Samewerking aanvra om te bepaal hoe hulle gewerf, verwerk en gedwing is om te gaan veg
# AfriForum waarsku Suid-Afrika se waterkrisis vererger met munisipaliteite wat meer as 20-miljard-rand aan waterrade skuld, wat lei tot verbrokkelende infrastruktuur en groot waterverliese. Volgens die organisasie rapporteer Vaal Central Water, Amatola Water en Rand Water uitgebreide agterstande in pyplyne, pompe en suiweringswerke, terwyl onwettige verbindings en wanbetaling verdere druk op voorraad plaas. Lambert de Klerk van AfriForum sê dringende hervorming, insluitend sterker toesig, is nodig:
# eThekwini-burgemeester, Cyril Xaba, sê korrupsie bly plaaslike regerings se grootste probleem. Dit ontneem gemeenskappe van basiese hulpbronne en ondermyn dienslewering. Bedrogstatistieke vir die 2024/2025-boekjaar sluit in 17 strafregtelike sake wat by wetstoepassing geregistreer is, nege instellings op ‘n swartlys wat verbied is om met die munisipaliteit sake te doen, en 15 gevalle wat vir herstel aanbeveel is, wat op 35-miljoen-rand neerkom. Xaba sê ʼn omvattende benadering om bedrog en korrupsie te bekamp en skoon, aanspreeklike regering te verseker, is noodsaaklik om die stryd teen onwettige praktyke te wen.
# Nigerië en Amerika het ooreengekom om ʼn gesamentlike werksgroep te stig om sekuriteitsamewerking en operasies teen terrorisme tussen die twee lande te versterk. President Donald Trump van Amerika het vroeër die maand met militêre ingryping in Nigerië gedreig oor berigte dat radikale Islamiete Christene vermoor. ʼn Nigeriese afvaardiging, insluitend die nasionale veiligheidsraadgewer Nuhu Ribadu, het verlede week met Amerikaanse amptenare in Washington vergader. Die Nigeriese presidensie sê die samewerking behels groter intelligensie-ondersteuning, vinniger verwerking van versoeke vir verdedigingstoerusting, en versterking van voortgesette optrede teen terroriste en gewelddadige ekstremistiese groepe.
# Krieket: Daar heers steeds onsekerheid oor die fiksheid van Australië se kaptein, Pat Cummins, vir die tweede toets om die As teen Engeland, wat volgende Donderdag in Brisbane begin. Cummins het hierdie naweek gesê daar is slegs ‘n geringe kans dat hy betyds van ‘n rugprobleem sal herstel. Die voormalige kaptein, Steve Smith, het die gashere aangevoer toe hulle Engeland met agt paaltjies binne twee dae in die eerste wedstryd in Perth geklop het. Nog ‘n snelbouler, Josh Hazlewood, is voor die eerste toets beseer, maar behoort later in die reeks weer beskikbaar te wees.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-27-sent teen die dollar, 19-rand-91-sent teen die euro en 22-rand-65-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 87-duisend-942-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-134-dollar-86-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 62-dollar-54-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….