Nuus 07:00
BULLETIN 20 November 7 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Minister Creecy sê staatshoofde sal by drie lughawens aankom vir die Leiersberaad
# Shamila Batohi sê aanklaers kan nie hul mandaat nakom as hul besluite polities beïnvloed word nie
# En ‘n Russiese spioenasieskip in Britse waters word noukeurig dopgehou
# Die minister van Vervoer, Barbara Creecy, sê staatshoofde wat die naweek se G20-leiersberaad in Johannesburg bywoon, sal die land by die OR Tambo Internasionale Lughawe, Waterkloof-lugmagbasis en Lanseria Lughawe binnekom. Sy het gister verslag gedoen oor Suid-Afrika se lugvaart-infrastruktuur en die groot lughawes se gereedheid in aanloop tot die beraad. Creecy sê die land se grensposte voldoen aan alle veiligheid- en sekuriteitstandaarde om die internasionale afgevaardigdes te hanteer:
Die vakbond Solidariteit sê intussen sy veldtog teen diskriminerende regulasies duur voort nadat die Stad Johannesburg ingestem het om sy banier van 70-meter terug te besorg. Die banier met die opskrif, “Welkom in die mees rasgereguleerde land ter wêreld”, is verlede maand verwyder. Die vakbond eis ook terugbetaling van die reklame-agentskap en sal regstappe doen indien nodig. Connie Mulder van Solidariteit sê 38 verdere reklameborde is reg oor die stad opgesit om die debat oor Suid-Afrika se rassebeleid in die openbare oog te hou.
# Die nasionale direkteur van Openbare Vervolging, Shamila Batohi, sê enige persepsie dat vervolgings polities gemotiveer of uitgesoek word, verwater die regmatigheid van en vertroue in die hele stelsel. Sy het getuig in die wangedrag-ondersoek teen die geskorste Gautengse direkteur van Openbare Vervolging, Andrew Chauke. Batohi is die hoofklaer in die ondersoek en het Chauke by president Cyril Ramaphosa verkla. Sy sê die ondersoek handel nie oor prosedurele diskresie nie, maar oor polities gedrewe besluite en vervolgings:
# Die LUR vir Menslike Nedersettings in Gauteng, Tasneem Motara, sal vandag ‘n nuwe navorsingsleerstoel, in vennootskap met die Universiteit van Johannesburg, bekendstel. Hierdie ontwikkeling versterk samewerking tussen die regering en die akademie om die uitdagings van menslike nedersettings aan te pak. Die inisiatief sal beleidgerigte navorsing oor behuisingsfinansiering, ruimtelike ongelykheid en stedelike ontwikkeling bevorder. Dit sal ook fokus om nagraadse talent te ontwikkel en munisipale leer te bevorder, om innoveringsnetwerke vir volhoubare en inklusiewe nedersettings regoor die provinsie te bou.
# Die Britse minister van Verdediging, John Healey, sê sy land se magte is deur lasers getref terwyl hulle ‘n Russiese spioenasieskip, die Yantar, dopgehou het naby die Verenigde Koninkryk se waters noord van Skotland. Die vaartuig samel intelligensie in en karteer ondersese kabels. Dis die tweede keer vanjaar dat die Yantar in die Verenigde Koninkryk se waters ontplooi word. Healey sê hy het die Koninklike Vloot se reëls van betrokkenheid verander om die Yantar beter dop te hou:
# Krieket: Die Perth-stadion se kolfblad gaan ‘n onbekende faktor wees vir Australië sowel as Engeland wanneer dié seisoen se reeks om die As môre afskop. Dis ‘n relatiewe nuwe veld nadat Australië die ikoniese Waca laat vaar het, terwyl ongewone weersomstandighede en ‘n nuwe kolfblad wat net ‘n maand gelede afgelewer is, ook bydra tot die onsekerheid. Wes-Australië se hoof-baanopsigter, Isaac McDonald, glo nie die weer sal die kolfblad se karakter verander nie, en meen spoed en die wip van die bal moet altyd verwag word.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-17-sent teen die dollar, 19-rand-81-sent teen die euro en 22-rand-42-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 92-duisend-212-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-95-dollar-17-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 63-dollar-21-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….