Nuus 07:00
BULLETIN 19 November 7 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# President Ramaphosa ontvang die verslag van die G20 Deskundige Paneel oor Afrika
# Mary de Haas weier om haar bronne bekend te maak
# En Britse parlementslede word gewaarsku teen nuwe Chinese spioenasiepogings
# President Cyril Ramaphosa het ‘n verslag van die Deskundige Paneel oor Afrika ontvang wat ʼn belangrike mylpaal in Suid-Afrika se G20-presidentskap is. Die paneel onder voorsitterskap van die gewese minister van Finansies, Trevor Manuel, moes bewysgebaseerde beleidsaanbevelings ontwikkel wat Afrika se stem in die G20 finansiële baan versterk. Ramaphosa sê die verslag sit maniere uiteen om Afrika se skuldprobleme te hanteer, toegang tot ontwikkelingsfinansiering te verbeter en globale finansiële veiligheid te verseker:
Intussen het die paneel ʼn nuwe skuldfinansieringsinisiatief aanbeveel vir lae-inkomste- en kwesbare lande. Baie lande, sommige op die Afrika-vasteland, verwag binne die volgende vyf jaar ʼn hoogtepunt in hul huidige skuldverpligtinge. Manuel sê ander aanbevelings is dat ʼn multilaterale soewereine skuldresolusie-meganisme gebou word wat deursigtig en doeltreffend is:
# Die menseregte-navorser, Mary de Haas, het geweier om haar bronne bekend te maak terwyl sy getuienis lewer aan die parlement se ad hoc-komitee wat polisiekorrupsie ondersoek. De Haas het verwys na lewensgevaarlike risiko’s vir diegene wat inligting verskaf. Sy het aan parlementslede gesê polisiebeamptes en gewone burgers staar steeds geweld in die gesig sonder voldoende beskerming:
# Die geskorste Gautengse direkteur van openbare vervolging, advokaat Andrew Chauke, se regspan sê die aanklagte teen hom is vaag en spruit voort uit ʼn basiese misverstaan van ʼn aanklaer se diskresie. ʼn Ondersoek na Chauke se bevoegdheid vir die amp vind hierdie week in Pretoria plaas. Hy staar ernstige bewerings in die gesig, onder meer dat hy keer dat individue met politieke bande vervolg word. Chauke se regsverteenwoordiger, advokaat Tembeka Ngcukaitobi, sê die ondersoek kan die onafhanklikheid van aanklaers ondermyn deur regmatige professionele besluite as wangedrag voor te hou.
# Brittanje se binnelandse intelligensie-agentskap, MI5, het ʼn waarskuwing uitgereik dat twee mense wat met die Chinese intelligensiediens verbind word, besig is om parlementslede te werf. Hulle teikens sluit in parlementêre personeel, ekonome, werkers van dinkskrums, geopolitieke raadgewers en mense wat saam met die regering werk. Brittanje se minister van Sekuriteit, Dan Jarvis, sê die regering sal nie geheime en berekende pogings om by die land se soewereine sake in te meng, duld nie:
# Krieket: Die voormalige Engelse bouler Stuart Broad sê sy land se beste kans om die reeks om die As te wen hang af van hoe goed hulle in die eerste twee toetse speel. Die besoekers het die reeks in 2011 laas in Australië gewen, met die Baggy Green wat hul laaste drie tuisreekse oortuigend gewen het. Broad sê Engeland se rekord op die Gabba in Brisbane, waar die derde toets plaasvind, is skokkend en sê hulle sal ‘n groot probleem hê as hulle die eerste twee wedstryde verloor. Die eerste toets begin Vrydag in Perth.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-16-sent teen die dollar, 19-rand-89-sent teen die euro en 22-rand-57-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 92-duisend-348-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-68-dollar-42-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 64-dollar-21-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….