Nuus 07:00
BULLETIN 15 November 7 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Fikile Mbalula sê die regering het swak gekommunikeer oor die Palestynse vlugtelinge
# Inwoners word versoek om hul reise te beperk terwyl KwaZulu-Natal voorberei vir oorstromings
# En rugby: Die Stormers verleng die kontrak van die opkomende ster Paul de Villiers
# Die ANC se sekretaris-generaal, Fikile Mbalula, sê die regering het swak gekommunikeer oor die 153 Palestynse asielsoekers. Hy het tydens die ANC se nasionale uitvoerende komiteevergadering gepraat en gesê veral die Departement van Binnelandse Sake onder leiding van die DA se minister, Leon Schreiber, het versuim om burgers doeltreffend in te lig oor hierdie kwessie:
# Die DA sê die minister van Toerisme, Patricia de Lille, het die parlement dalk mislei oor bestuursmislukkings by SA Toerisme. Die party doen ‘n beroep op die parlement se portefeuljekomitee oor Toerisme om De Lille te dagvaar en belangrike dokumente vry te stel, insluitend forensiese verslae en regsverslae wat verband hou met die geskorste uitvoerende hoof, Nombulelo Guliwe. Haseena Ismail van die DA sê die minister het ernstige kwessies wat sedert 2024 aangedui is, geïgnoreer of ontken, versuim om op waarskuwings oor Guliwe te reageer, en gaan voort om inligting onder regsvoorregte te weerhou:
# Die LUR vir Samewerkende Regering en Tradisionele Sake in KwaZulu-Natal, Thulasizwe Buthelezi, het alle rampbestuurspanne op hoë gereedheidsgrondslag geplaas met erge weer wat van vandag tot Maandag in die provinsie verwag word, met swaar reën, sterk winde en donderstorms as gevolg van ‘n laedrukstelsel. Die woordvoerder van die Departement, Senzelwe Mzila, het inwoners aangeraai om nie onnodig te reis nie en noodgevalle by plaaslike rampsentrums aan te meld:
# Azerbeidjan het gister die Russiese ambassadeur Mikhail Yevdokimov ontbied om protes aan te teken nadat ‘n Russiese Iskander-missiel die ambassade in Kiëf beskadig het. Die Azerbeidjanse ministerie van Buitelandse Sake sê die ontploffing het ‘n deel van die ambassade se grensmuur vernietig en ernstige skade aan die diplomatieke kompleks veroorsaak. Die voorval het gisteroggend plaasgevind tydens ‘n Russiese missiel- en hommeltuigaanval op die Oekraïnse hoofstad. Die Azerbeidjanse president Ilham Aliyev en die Oekraïnse president Volodymyr Zelensky het albei die voorval veroordeel. Aliyev sê dit is ‘n onaanvaarbare skending van internasionale reg.
# Rugby: Die dinamiese losvoorspeler, Paul de Villiers se kontrak is verleng en sal hom tot minstens 2029 in Kaapstad hou. Die 22-jarige voormalige kaptein van die Junior Springbokke was vanjaar ‘n openbaring op oopkantflank en het in die afwesigheid van die beseerde Wêreldbeker-wenner, vir Deon Fourie ingestaan. Die direkteur van Rugby, John Dobson, sê die bevestiging van De Villiers se dienste op ‘n langtermynkontrak is ‘n groot hupstoot. Hy sê De Villiers het vanjaar hul verwagtinge oortref en homself as ‘n sleutellid van die span gevestig.
# En ten slotte: Die Weskus Nasionale Park vier 40 jaar van beskerming van Suid-Afrika se kus-ekosisteme, biodiversiteit en kulturele erfenis. Sedert 1985 het SANParke en vennote die Langebaan-strandmeer, Postberg, fynbos en eilande langs die kus beskerm, terwyl hulle volhoubare toerisme en gemeenskapsbetrokkenheid bevorder. JP Louw van SANparke sê die jaarlikse veldblommeskouspel lok meer as 100-duisend besoekers, en voortgesette bewarings- en opvoedingsinisiatiewe verseker dat die park ‘n pronkstuk vir ekologiese bewaring en sosio-ekonomiese ontwikkeling bly.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….