Nuus 07:00
BULLETIN 14 November 7 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Minister Dion George sê hy het sy ministeriële pligte sonder vrees of begunstiging uitgevoer
# Die Afrika-Unie-kommissie sê daar is geen volksmoord in Noord-Nigerië nie
# En rugby: Die Bokke kan hierdie naweek ‘n topposisie vir die einde van die jaar beklink
# Die afgedankte minister van Visserye, Bosbou en die Omgewing, Dion George, sê hy het sy pligte sonder vrees, guns of vooroordeel uitgevoer. President Cyril Ramaphosa het hom Woensdag uit sy amp verwyder en met Willie Aucamp vervang. Die DA-leier John Steenhuisen het berigte verwerp dat die besluit om George af te dank, verband hou met wangedrag of onderprestasie. George sê bewaring is nie ‘n posisie nie, dis ʼn lewenslange verbintenis. Hy sê hy sal voortgaan om hierdie saak te ondersteun, waar hy ook al gevra word om te dien.
# Die parlementêre ad hoc-komitee wat polisiekorrupsie ondersoek, het Cedrick Nkabinde, die stafhoof van die minister van Polisie, Senzo Mchunu, tien dae gegee om sy verklaring te hersien. Dit volg nadat lede hom daarvan beskuldig het dat sy getuienis uit sy duim gesuig is en hom opdrag gegee het om ‘n eerlike besinning in te dien. Die voorsitter van die komitee, Soviet Lekganyane, sê Nkabinde se voorlegging bevat onakkuraathede en weerspreek vorige bewyse:
# Die hoofekonoom van die Mededingingskommissie, James Hodge, het onthul Google oorheers soektogte in Suid-Afrika en gebruik nuusinhoud om betrokkenheid te verhoog sonder om media-bronne te vergoed. Hodge het met die bekendstelling van die ondersoekverslag oor die Media- en Digitale Platformsmark, verwys na die dalende verwysingsverkeer en vooroordeel wat buitelandse media bo gemeenskaps- en omgangstaal verkies. Sosialemediaplatforms wat deur Meta, X, YouTube en TikTok oorheers word, bied beperkte finansieringsopsies, wat plaaslike nuusinkomste en sigbaarheid beïnvloed:
# Die Gauteng-alliansie politieke raad verwerp die DA se mosie van wantroue teen premier Panyaza Lesufi, en beskryf dit as opportunisties en ontwrigtend. Die raad bestaan uit die ANC, SAKP, Cosatu en SANCO. Die DA beskuldig Lesufi dat hy versuim om doeltreffend te regeer, werk te skep, veiligheid te verseker en ekonomiese geleenthede te bevorder. Daar word vandag oor die mosie gestem. Die raad sê hy het volle vertroue in die leierskap van Lesufi en die span lede van die uitvoerende raad wat hy lei.
# Die Afrika-unie Kommissie se voorsitter, Mahmoud Ali Youssouf, het teruggekap teen president Donald Trump van Amerika se bewerings van massamoorde op Christene in die noorde van Nigerië. Trump dreig met militêre optrede en beskuldig die Nigeriese regering dat hy nie, wat Trump as ʼn massaslagting op Christene in die land beskryf, keer nie. Dit is ten spyte van menseregtekenners se verklaring dat die meeste slagoffers van die gewapende Islamitiese groep, Boko Haram, Moslems is. Youssouf waarsku teen ongestaafde bewerings:
# Rugby: Suid-Afrika kan die naweek seker maak hy sluit die jaar boaan die wêreldranglys af as alles volgens plan verloop, ten spyte van die uitslag van sy oorblywende toerwedstryde teen Ierland en Wallis. Om dit te bereik moet die Springbokke Italië môre in Turyn klop en Engeland moet die All Blacks op Twickenham verslaan. Die Bokke het hulle voorsprong op Nieu-Seeland in die tweede plek verhoog met verlede naweek se oorwinning oor Frankryk. Engeland is tans vierde na Ierland, wat môre teen die Wallabies speel.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-1-sent teen die dollar, 19-rand-80-sent teen die euro en 22-rand-37-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 99-duisend-347-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-186-dollar-2-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 64-dollar-36-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….