Nuus 07:00
BULLETIN 20 Julie 7 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Direktoraat Teen Korrupsie se oorsigkantoor ontvang talle klagtes teen Andrea Johnson
# Soil of Africa sê ‘n veilige identiteitstelsel versterk demokratiese deelname
# En sokker: Spanje klop Argentinië om hul tweede Wêreldbeker-titel te verower
# Die Ondersoekdirektoraat Teen Korrupsie se pas aangestelde oorsigregter, afgetrede regter Takalani Joseph Raulinga, sê hulle het reeds talle klagtes ontvang teen die ondersoekdirektoraat se hoof, Andrea Johnson. In haar vorige hoedanigheid as ‘n senior staatsaanklaer, staar sy aanklagte in die gesig dat sy na bewering generaal-majoor Feroz Khan beskerm het in ʼn aanranding- en intimidasiesaak wat teen hom geopen is. Raulinga sê elke aanklag sal regverdig oorweeg word wat beide die klaer en die persoon wat beskuldig word, se regte betref:
Intussen het die MK-party die minister van Justisie en Grondwetlike Ontwikkeling, Mmamoloko Kubayi, gevra om die aanstelling van Raulinga te heroorweeg. Die MK-party bevraagteken Raulinga se politieke onafhanklikheid weens sy moontlike bande met die ANC. Hy beskryf Raulinga se aanstelling as ʼn oordeelsfout en sê dit kan openbare vertroue ondermyn in ʼn instelling wat toesig hou oor polities sensitiewe korrupsie-ondersoeke.
# Die burgerlike beweging, Soil of Africa, sê ‘n veilige identiteitstelsel versterk demokratiese deelname, ekonomiese insluiting, finansiële toegang en nasionale veiligheid. Die beweging se woordvoerder, Luzuko Sofute, sê die uitbreiding van Smart ID-dienste na die banksektor verteenwoordig ‘n praktiese demonstrasie van hoe strategiese vennootskappe tussen die regering en die privaat sektor dienslewering kan verbeter terwyl administratiewe hindernisse wat deur gewone burgers ervaar word, verminder word. Hy doen ‘n beroep op die Departement van Binnelandse Sake om te verseker dat digitale transformasie deelnemend bly:
# Die voorsitter van die Nasionale Raad van Provinsies, Refilwe Mtshweni-Tsipane, het Suid-Afrikaanse en Afrika-studente in Rusland aangemoedig om die unieke geleentheid aan te gryp om betekenisvol tot die ontwikkeling van hul onderskeie lande by te dra na hul terugkeer. Sy sê universiteite speel toenemend ‘n belangrike rol in die versterking van betrekkinge tussen nasies deur navorsingsamewerking, akademiese uitruiling en innovasie. Mtshweni-Tsipane het die groeiende vennootskappe tussen Russiese en Suid-Afrikaanse instellings vir hoër onderwys verwelkom en sê dit ondersteun die breër parlementêre en diplomatieke samewerking tussen die twee lande.
# Die Oekraïnse president, Volodymyr Zelensky, sê doelgerigte stappe moet gedoen word om Rusland te dwing om die oorlog te beëindig met ʼn waardige vrede en gewaarborgde sekuriteit vir Kiëf. Dit volg nadat Moskou een van sy grootste aanvalle met ballistiese missiele op Oekraïne uitgevoer het sedert sy volskaalse inval in Oekraïne meer as vier jaar gelede. Minstens ses mense is in die hoofstad dood en minstens 35 gewond in die naweek se aanval wat vyf ure geduur het. Zelensky sê lugafweer het 126 teikens afgeskiet of geneutraliseer. Dit sluit in 18 missiele en 108 onbemande lugvoertuie.
# Sokker: Spanje, het die heersende kampioene, Argentinië, in New Jersey in beseringstyd met 1-0 verslaan om hul tweede Wêreldbeker-titel te buit. Ferran Torres se doel in die 106de minuut het die sege beklink. Spanje spog nou met 38 onoorwonne wedstryde nadat dié land en Italië gelykop was. Spanje is die eerste land wat op dieselfde tyd die heersende kampioene in beide die mans- en vroue-Wêreldbeker is, nadat hulle die vroue-toernooi in 2023 gewen het. Torres sê dis spesiaal om die wendoel aan te teken:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-53-sent teen die dollar, 18-rand-90-sent teen die euro en 22-rand-23-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 64-duisend-692-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-dollar-39-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 88-dollar-68-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….