Nuus 07:00
BULLETIN 22 Januarie 7 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die leier van Change Starts Now sê Suid-Afrika het ‘n regering nodig wat dienste kan lewer
# ‘n Nuwe meningspeiling toon Donald Trump gaan die New Hampshire-voorverkiesing wen
# En sokker, Bafana Bafana klop Namibië en hou die deur oop vir die Afcon-uitkloprondes
# Die leier van Change Starts Now Roger Jardine sê Suid-Afrikaners het ‘n regering nodig wat dienste kan lewer in hulle gemeenskappe regoor die land, terwyl hulle voorberei vir vanjaar se verkiesing. Jardine sê die party sal die ekonomie regruk en meer werksgeleenthede skep, die land ‘n veiliger plek maak om in te woon, ‘n vangnet skep vir diegene sonder inkomste-sekuriteit, en behoorlike basiese dienste lewer soos gesondheid, onderwys, water, krag en sanitasie. Volgens Jardine het burgers ‘n nuwe regering nodig wat toon dat hy omgee, en empatie en ‘n diep verbinding het met mense se daaglikse stryd:
# Die Parlement se portefeuljekomitee vir Basiese Onderwys besoek hierdie week skole in KwaZulu-Natal, die Oos-Kaap, Limpopo en Noordwes. Die komitee sal skole se infrastruktuur assesseer, die uitskakeling van puttoilette in die Oos-Kaap ondersoek, en vloedskade by skole in KwaZulu-Natal bepaal. Komiteelede sal ook kyk na die lewering van leerder/onderwyser-leermateriaal; voedsel; leerdervervoer; en spesiale skoolondersteuning. Hulle sal ook met rolspelers vergader om die stand van vanjaar se onderrig te bespreek.
# Die Vryheidsfront Plus beskou die skielike sluiting van die Laerskool Tsitsikamma in die Oos-Kaap vir ‘n nuwe hoërskool, as ontwrigtend en skandelik, en sê dit ontwortel huidige leerders. Die party is gekant teen die kort kennisgewing en verbind gebeure met sy weerstand teen die Wysigingswetsontwerp op Basiese Onderwyswette. Die VF Plus-lid, Jaco Burger, sê hierdie skielike sluiting beklemtoon die regering se mislukking in onderwysinfrastruktuur-belegging. Burger voer aan laerskooljare lê die grondslag vir latere onderwys:
# Oudpresident Donald Trump is blykbaar die gunsteling om môre die Republikeinse presidensiële voorverkiesing in New Hampshire te wen ná sy oortuigende sege verlede week in die Iowa-koukusse. ‘n Nuwe CNN-peiling deur die Universiteit van New Hampshire toon Trump het 50-persent steun onder moontlike Republikeinse kiesers in die staat terwyl sy naaste teenstander, die voormalige goewerneur van Suid-Carolina, Nikki Haley, 39-persent het. Trump het nou vir sy herverkiesing die ondersteuning van 26 Republikeinse senators.
# Sokker: Bafana Bafana het Namibië met vier-nul verslaan en hulle hoop lewend gehou om die laaste 16 van die Afrikanasiesbeker in Ivoorkus te haal. Twee doele deur Themba Zwane, Percy Tau se verdoelde strafskop en ‘n doel deur Thapelo Maseko laat in die wedstryd het Suid-Afrika die tweede plek in Groep E besorg, een punt agter die voorlopers van Mali. Bafana Bafana moet Woensdag Tunisië wen om die uitkloprondes te haal. Afrigter Hugo Broos sê sy span se selfvertroue het ʼn hupstoot gekry nadat hulle hul eerste punte in die kompetisie verdien het:
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 19-rand-1-sent teen die dollar, 20-rand-74-sent teen die euro en 24-rand-18-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 41-duisend-280-dollar-46-sent. Die prys van goud is twee-duisend-29-dollar-66-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 78-dollar-28-sent per vat.
# En om mee af te sluit, Gauteng se premier, Panyaza Lesufi, en die Onderwys-LUR Matome Chiloane, het 560-miljoen-rand se beurse oorhandig. Dit gaan aan meer as vierhonderd-duisend topstudente van die provinsie se gratis skole en skole vir leerders met spesiale behoeftes. Die beurse kom van die Gauteng City Region Academy Bursary Scheme. Die beurs dek onderrig, boeke, verblyf, vervoer, ʼn eenmalige bedrag vir ʼn skootrekenaar, en ʼn toelaag om van te lewe. Dit dek ook voor- sowel as nagraadse studies. Meer as 90-persent van die skema se begunstigdes is swart en byna 60-persent is vroue.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….