Nuus 07:00
BULLETIN 12 November 7 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Shamila Batohi sê die NVG sal nog ‘n uitleweringsaansoek vir die Gupta-broers indien
# RISE Mzansi neem die stryd teen dobbelary tot in die Betway-raadsaal
# En rugby: Lood de Jager word vir vier wedstryde geskors na ‘n rooikaart teen Frankryk
# Die nasionale direkteur van Openbare Vervolging, Shamila Batohi, sê hulle sal alles moontlik doen om die Gupta-broers se uitlewering aan Suid-Afrika moontlik te maak. Die Nasionale Vervolgingsgesag se uitleweringsversoek aan die Verenigde Arabiese Emirate vir die broers Atul en Rajesh Gupta is in April 2023 verwerp. Hulle word onder meer gesoek in verband met bedrog en geldwassery wat met staatskaping verband hou. Batohi het aan die parlementêre ad hoc-komitee gesê die Guptas is die grootste oorsaak dat die land op sy knieë is:
# Die Raad van Gesondheidsorgfinansierders doen ‘n beroep op die minister van Finansies, Enoch Godongwana, om duidelikheid te gee oor die toekoms van mediese belastingkrediete voor vandag se mediumtermyn-begrotingsbeleidsverklaring. Die organisasie waarsku dat die verwydering van belastingkrediete voor die Nasionale Gesondheidsversekering ten volle operasioneel is, mediese skemas onbekostigbaar kan maak vir honderdduisende lae-inkomste Suid-Afrikaners. Katlego Mothudi van die raad sê veranderinge moet geleidelik en duidelik wees om gesondheidsorg bekostigbaar vir almal te hou:
# RISE Mzansi verskerp sy veldtog om Suid-Afrika se dobbelbedryf te hervorm. Hierdie week het die party met Betway se uitvoerende hoof, Laurence Michel, vergader om sy sewepuntplan aan te bied, met die fokus op kwessies soos advertensies en verantwoordelike dobbelary. Die week word Vrydag afgesluit met ‘n betoging buite die Departement van Handel, Nywerheid en Mededinging in Tshwane, om strenger dobbelhervormings te vra. Makashule Gana van RISE Mzansi sê die dobbelbedryf het verlede jaar ‘n omset 1,5-duisend-miljard-rand gehad, maar slegs 5,8-miljard-rand in belasting betaal.
# Die Ekurhuleni-munisipaliteit sê hy begin ‘n onafhanklike interne ondersoek na nuwe bewerings teen sy metropolisiedepartement. Dit volg nadat die metropolisie se adjunkhoof, Julius Mkhwanazi, geskors is te midde van bewerings wat hom betrek by die vermeende misdadiger, Vusimuzi “Cat” Matlala, en onregmatige aktiwiteite in die departement. Die stadsbestuurder Kagiso Lerutla sê Mkhwanazi se skorsing is ʼn administratiewe maatreël, nie ʼn skuldigbevinding nie, en is bedoel om die integriteit van voortgesette tugprosesse te beskerm. Hy sê hulle wil aanspreeklikheid verseker en openbare vertroue herstel.
# Die Verenigde Koninkryk se minister van Justisie, David Lammy, het bevestig drie gevangenes wat verkeerdelik uit tronke in Engeland en Wallis vrygelaat is, is steeds op vrye voet. Twee van die drie bevestigde gevalle is verlede jaar in Augustus en Desember vrygelaat en ʼn derde in Junie vanjaar. Volgens die ministerie van Justisie se syfers is altesaam 91 gevangenes tussen April en einde Oktober vanjaar per abuis vrygelaat. Lammy sê die vrylatingsproses moet drasties hersien word:
# Rugby: Die Springbok-slot Lood de Jager is vir vier wedstryde geskors en sal die res van die jaareindtoernooi misloop. Hy het ʼn rooikaart gekry vir ʼn skouer-stamp teen die Franse heelagter, Thomas Ramos, in die Bokke se 32-17-oorwinning in Parys. ʼn Onafhanklike tugkomitee het die permanente rooikaartbesluit Dinsdag bevestig. De Jager sal die Springbokke se wedstryde teen Italië, Ierland en Wallis misloop, asook sy klub, Wild Knights, se Japan Liga Een-wedstryd in Desember teen Brave Lupus.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-16-sent teen die dollar, 19-rand-87-sent teen die euro en 22-rand-54-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 103-duisend-175-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-128-dollar-62-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 64-dollar-84-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….