Nuus 07:00
BULLETIN 10 November 7 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Unite for Change begin met sy kandidaat-aansoekproses vir die 2026-verkiesing
# Duduzile Zuma-Sambudla se verhoor begin vandag
# En rugby: Argentinië behaal ‘n rekordoorwinning teen Wallis
# Unite for Change, ‘n koalisie bestaande uit RISE Mzansi, die Good-party en Build One South Africa, se aansoekproses vir kandidate vir die 2026 munisipale regeringsverkiesing is amptelik geopen. Die belangrikste vereistes om kandidate te kies, is plaaslike goedkeuring, meriete, fokus op vaardighede en openbare deursigtigheid. RISE Mzansi se leier en Unite for Change se medeleier, Songezo Zibi, sê hulle bly by hul standpunt dat politiek te belangrik is om aan politici oorgelaat te word, en hulle bied nuwe gesigte en nuwe talent ʼn weg na openbare diens:
# Die verhoor van Duduzile Zuma-Sambudla, dogter van oudpresident Jacob Zuma, verskyn na verwagting vandag in die Hooggeregshof in Durban. Sy staar aanklagte van aanhitsing tot terrorisme en openbare geweld in die gesig. Die aanklagte hou verband met onluste wat in Julie 2021 in dele van Gauteng en KwaZulu-Natal uitgebreek het. Meer as 350 mense is in die geweld dood. Zuma-Sambudla hou vol dat sy onskuldig is. Die Staat sal na verwagting oor die volgende twee weke meer as 60 getuies roep.
# Die DA sê hy het aan alle partye in die Parlement geskryf om die Wetsontwerp op Ekonomiese Insluiting vir Almal te ondersteun, en ‘n bemagtigingsmodel te beëindig wat slegs die elite met politieke bande gedien het, en dit te ontwikkel in ‘n stelsel van ware bemagtiging. Die party sê vir byna drie dekades het Breëgebaseerde Swart Ekonomiese Bemagtiging niks vir die oorgrote meerderheid beteken nie. Mat Cuthbert van die DA sê na raming word nagenoeg 100 individue steeds deur die stelsel bevoordeel:
# City Power sê hy verskerp pogings om meer as tien-miljard-rand te verhaal wat aan die nutsmaatskappy verskuldig is. Daarvan is 1,6-miljard-rand deur kliënte binne die voorsieningsgebied van die Hursthill Diensleweringsentrum verskuldig. Die maatskappy sê die jongste hoëwaarde-wanbetalers wie se elektrisiteitstoevoer afgesny is, is twee sakeparke in Croesus wat onderskeidelik 17-miljoen-rand en 5,3-miljoen-rand aan City Power skuld, asook ‘n sake-eiendom in Melville wat 3,1-miljoen-rand agterstallig is. City Power sê al drie kommersiële kliënte is voorheen afgesny maar het weer onwettig aangesluit.
# Amerika se minister van Vervoer, Sean Duffy, waarsku die situasie gaan vererger omdat gekanselleerde vlugte en vertragings gaan toeneem. Byna drieduisend vlugte na, van en in die Verenigde State is die naweek gekanselleer nadat die Federale Lugvaartadministrasie vlugte by 40 van die land se besigste lughawens ingekort het. Duffy het aan CNN gesê die verminderde vlugte kan tot 20-persent styg indien die regeringsluiting nie vinnig beëindig word nie:
# Rugby: In Cardiff het Argentinië ʼn 52-28-oorwinning oor Wallis behaal. Die Pumas het sewe drieë gedruk, en Geronimo Prisciantelli spog met ʼn tweetal terwyl Santi Carreras 17 punte met sy skopstewel bygedra het. Dis die meeste punte wat Argentinië nóg teen Wallis behaal het en ʼn rekordoorwinning. Dit is Wallis se tiende agtereenvolgende nederlaag op hul tuisgrond en Steve Tandy se eerste wedstryd in beheer. Wallis speel Saterdag gasheer vir Japan terwyl Argentinië en Skotland Sondag in Murrayfield kragte meet.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-27-sent teen die dollar, 19-rand-97-sent teen die euro en 22-rand-71-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 105-duisend-804-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-50-dollar-69-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 63-dollar-84-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….